77-jarige trou eindelik – in temapark
Die toeval het daartoe gelei dat Magda in haar goue jare oplaas getroud is – en dit nogal in ’n temapark vir kinders!
DEKADES lank het die groot liefde haar bly ontwyk, maar as wiskundejuffrou het sy ’n vol lewe gehad. In haar agtste dekade hier op aarde kon sy aan goeie jare terugdink; ’n leeftyd se geluk. Maar toe, op ’n dag, stuur ’n fluistervraag in die kerk haar lewenspad skielik in ’n ander rigting . . . En nou, op 77, is Magda van Rooyen pas vir die eerste keer getroud. In haar goue jare het sy die liefde van haar lewe gevind. Dis ’n week sedert hul troudag toe ons Magda en haar man, Francois Pretorius (74), in hul tweeslaapkamermeenthuis in die Noorderbloem- aftreeoord in Bloemfontein ontmoet. Tot dusver behandel die huwelik hulle goed, verklaar die pasgetroudes vrolik. Hulle het hul troudag sommer binne vier dae gereël, vertel hulle – en dit is na afloop van Francois se kleindogter se vyfde verjaardagpartytjie in ’n temapark gehou. Dit het met daardie vraag in die kerk begin, maar eintlik het hulle storie al meer as 60 jaar gelede begin toe hulle nog kinders was . . . M AGDA, ’n afgetrede wiskundejuffrou wat by verskeie Vrystaatse skole skoolgehou het, het in 2007 van Welkom na die Noorderbloemaftreeoord in Bloemfontein verhuis. Francois het eers in 2011, kort ná sy vrou se dood, hier sy intrek geneem. Die twee het mekaar daarna so af en toe in die oord raakgeloop en gegroet, “maar ons het nie eintlik veel notisie van mekaar geneem nie”, sê Francois, ’ n voormalige adjunkhoof van die Vrystaatse provinsiale verkeersafdeling. In 2015 het dit verander toe Francois een Sondag weer langs Magda in die kerkbank van die NG kerk Hugenoot beland. Sy het hom fluisterend gevra van waar hy kom, waarop hy geantwoord het: “Ek het op ’n klein plekkie tussen Bothaville en Orkney, wat jy nie sal ken nie, begin skoolgaan.” Nuuskierig wou sy weet waar. Daardie geweste was immers haar wêreld ook. Vierfontein, het hy geantwoord. “Toe val haar mond nét so oop,” vertel
Francois. Want Magda was ook daar op skool, haar ma was ’n onderwyseres daar en haar pa die skoolhoof in die 1950’s.
“Haar ma het my dinges vuurwarm geslaan,” onthou Francois met ’n glimlag.
Hoewel die twee meer as 60 jaar gelede aan dieselfde laerskool skoolgegaan het, het hulle mekaar nie as kinders geken nie. “Sien, ek is mos ’n bietjie ouer as hy,” sê Magda en knip haar oog ondeund. “En ek speel mos nie met kinders nie.”
Ná daardie erediens het die twee in haar wooneenheid in die oord gaan koffie drink om verder oor hul kinderjare in Vierfontein te gesels, min wetend daardie koppie koffie was die eerste van baie. ’n Maand later sê Francois aan Magda, op sy tipiese saaklike manier, hy gaan die volgende week Sun City toe, waar hy ’n tyddeelwoonstel het “en sy kan saamkom as sy wil”
Toe Magda die uitnodiging aanvaar, het hy haar dadelik gewaarsku: “Maar jy slaap nie by my nie.”
“Toe sê ek amper agge nee,” terg Magda terwyl die duiweltjies in haar oë dans.
Haar suster Marié Cooke was nie te gelukkig met hierdie uitstappie nie en het probeer om haar van plan te laat verander. Maar toe sy sien Magda gaan nie luister nie, het sy gemaan: “Maar as jy dan nou moet, gedra julle tog net verantwoordelik.”
Ná daardie week het die twee hegte vriende geraak, vertel Magda. Hulle het saans oor en weer gekuier en gereeld met Francois se woonwa gaan kampeer.
Die hegte vriendskap het geblom en toe vind “daardie gebeurtenis op 11 Mei vanjaar plaas”, soos Francois dit stel. Wat daartoe aanleiding gegee het, kan nie een van die twee presies onthou nie. Hulle het die aand by Kobus, een van Francois se drie kinders, in die Rosestad gekuier. Magda het Francois blykbaar iets gesê of gevra, waarop hy streng geantwoord het: “Beslis nie voor ons getroud is nie.”
Kobus se vrou, Rina, het op en af ge- spring en haar aangemoedig: “Sê net ja!”
“Maar ek was totaal verslae,” onthou Magda. “Ek sê nog so ewe vir haar maar hy het my mos nie ’n vraag gevra nie?”
Francois vertel die storie verder: “Toe draai ek na haar en vra: ‘Sal jy die pad verder saam met my loop?’ Jong, toe hang haar mond weer net so oop.”
Toe Magda eindelik ’n “ja” oor haar lippe kry, het Francois se vierjarige kleindogter, Marigin, haar handjie in die lug gesteek en uitgeroep: “Halleluja!”
Rina het dadelik ’n kalender nader getrek en daar is op 22 September as die troudatum besluit.
“Maar voor daardie gebeurtenis het ek ure lank op my knieë deurgebring,” maak Francois nou hart oop. “Ek moes seker maak dit is God se wil.”
Vroeg vanjaar, nog voor die trou-idee in Francois se kop was, het hy ’n “vreem- de” droom gehad. Hy het gedroom hy was moeg vir die lewe in die aftreeoord. Toe raak hy van sy woonsteleenheid ontslae, haak sy woonwa en toer deur die land. Later het die eensaamheid hom gevang en het hy na die aftreeoord teruggekeer. Hy gaan klop toe in sy droom aan Magda se voordeur en sê “ek kom bly nou by jou”.
HULLE het eers ’n lentetroue in die kerksaal met ’ n spitbraai en so 50 gaste beplan, maar toe loop hierdie trouding sy eie pad.
Marigin se ouers het vir haar vyfde verjaardag ’n temapartytjie op 2 Junie in Modensapark in Bayswater, met ’n versameling modeltreine, gereël waar die kinders op die treintjies kon ry. Die Dinsdag voor daardie Saterdag vertel Magda haar susterskind Yolanda Cooke van die partytjie. Yolanda wil toe tong in die kies weet: “Hoekom trou julle dan nie ook sommer op dieselfde dag nie?” En Magda antwoord: “Nou praat jy.” Sy het onmiddellik ’n teksboodskap aan Francois gestuur om dadelik oor te kom, want hulle moet hul troue, wat oor vier dae plaasvind, bespreek. Francois vertel hy het gewonder “of sy nou mal geraak het”.
Daar was net ’n handjie vol familie op die “Weltevredestasie” toe Magda op haar troudag op die modeltreintjie die “stasie” binnery. Saam met haar op die waentjie was Marigin en haar ander susterskind, Karin Jordaan, wat in Engeland bly en inderhaas ’n vlug na Bloemfontein moes haal. Die huwelikspaar was gemaklik geklee, want tyd vir troupakkies was daar nie. Ook nie vir trouringe nie. Hulle het sommer twee tydelike silikoonringe aan mekaar se vingers gesteek. Toe ds. Annerie du Toit aan hulle sê om mekaar die regterhand te gee, het Magda stout vir haar bruidegom geknipoog.
Die aand is met ’n potjiekosete by Kobus-hulle afgesluit.
Magda vertel haar ma, Hester, het destyds die gesegde gehad “uithou is gemaak om te gebruik”.
Met ’n vonkel in die oog terg sy: Wel, sy het uitgehou tot die ouderdom van 77.