Natasha Mans: Eks praat ná moord
Natasha se lyk is gekry nadat eers gegis is sy het met haar dogter se as verdwyn. Mense na aan haar praat oor die vreemde gebeure
HY KON nog nie hul agtjarige seuntjie vertel wat regtig met sy ma gebeur het nie.
Die emosie in sy stem is hoorbaar toe die 42-jarige Johan Botha vertel: “Ek het vir Anroux gesê sy mamma is oorlede. Daar was ’n ongeluk. Anroux wou weet: ‘ Was dit ’n karongeluk?’ Ek het vir hom gesê nee, dit was ’n ander klein ongelukkie. Hy is nog ’n bietjie te jonk om nou die details te kan verstaan.
“Ek het vir hom gesê sy ma is nou by sy sussie; hulle kyk vir hom van waar hulle nou is, so hy moet soet wees.”
Johan sluk ’n slag swaar voor hy voortgaan. “Hy het nog nie gehuil nie. Hy cope. Hy gaan aan. Hy het sy maatjies wat hom besig hou. Ek dink nie dit het al heeltemal by hom ingesink nie.”
Klein Anroux is die kind van Johan en Natasha Mans (41), met wie hy voorheen in ’n verhouding was. Wat Johan nie oor sy hart kon kry om hul seun te vertel nie, is dat sy ma vermoor is. Net soos hy ná drie jaar dit steeds nie kon regkry om vir Anroux te vertel die dood van sy halfsussie – Natasha se dogter, Noeline Koekemoer – was ook nie ’n ongeluk nie. Noeline is drie jaar gelede op die ouderdom van 15 in haar slaapkamer verkrag en vermoor.
Natasha se verdwyning het die land aangegryp nadat haar kêrel, die Bloemfonteinse sakeman en eiendomsontwikkelaar Dennis Casten (48), haar as vermis aangemeld het. Volgens hom het sy uit hul spoghuis op die Groenvleilandgoed by Bloemfontein gestap met die as van haar vermoorde dogter en ’n .357-rewolwer . . .
Toe Johan hoor Natasha is vermis, het hy niks vir Anroux gesê nie. Anroux woon by Johan in die Bayswater-buurt in Bloemfontein en is nooit toegelaat om sy ma te besoek in die huis waar sy en Dennis die afgelope paar jaar gewoon het nie. “Wat as hulle haar weer sou kry? Dan het ek my kind verniet deur al daardie hartseer en angs gesit.”
Johan het aan die uitgebreide soektog deur die polisie en die gemeenskapspolisiëring deelgeneem, maar voor sy seuntjie oor sy vrese geswyg. “Maar toe hulle haar kry, moes ons hom sê,” verduidelik hy.
“Ek dink nie mense verstaan waardeur ons gaan nie. Ek moet my kind beskerm. Ek kon hom nog nie eens vertel sy sussie is vermoor nie. Hoe moet ’n klein kindjie dit verstaan?”
Hy weet hy kan dit nie vir altyd stilhou
nie. “Hy leer al om te lees en skryf. skryf Alles gaan in die koerante verskyn. Hy sal eendag self uitvind en ek is hier vir hom as hy my die vrae begin vra. Wanneer hy gereed is, sal ek sy vrae vir hom beantwoord.”
Tot dan wil hy net hê Anroux moet ’n kind wees en wil hy hom teen die wrede werklikheid beskerm: dít wat die polisie gesien het nadat Dennis Denn gebel het om hulle te laat weet hy het op Natasha se lyk afgekom toe hy die elektriese heining om hul huis wou herstel.
Van ’n entjie weg het dit gelyk asof Natasha in die lang gras onder die doringboom lê en dagdroom. “Sy het nog baie mooi gelyk – asof sy slaap, maar haar oë was oop. Sy het selfs nog ’n bietjie grimering aangehad,” vertel ’n ingeligte bron.
Sy het nog dieselfde klere – ’n swart skibroek, swart top en grys trui – aangehad waarin sy twee weke tevore uit die huis, skaars 50 m daarvandaan, gestap het. Maar sy was dood. Daar was ’n skietwond in haar bors en ’n rewolwer by haar hand.
Soos in ’n bisarre misdaadriller het die polisie feitlik dadelik besef niks was soos dit met die eerste oogopslag gelyk het nie. Dit was 13:00 op ’n wintersdag. “Maar haar lyk was ys- koud . . . Hulle het ses grade (Celsius) gemeet,” vertel ons bron.
En toe begin die vrae. As die lyk twee weke daar gelê het, hoekom het dit nog nie begin ontbind nie? As sy haarself doodgeskiet het, hoekom was daar geen bloeding in die wond nie? Hoekom was daar nie bloed op haar klere of in die gras om haar nie? “Alles aan die saak was vreemd,” vertel ons bron.
Die koeëlwond is vermoedelik toegedien nadat Natasha reeds dood was en haar lyk moontlik in ’n vrieskas versteek is. Intussen het Netwerk24 berig ’n hou met ’n stomp voorwerp teen haar agterkop het moontlik Natasha se dood veroorsaak.
Die polisie ondersoek ’ n klag van moord. Kapt. Chaka Marope, die plaaslike polisiewoordvoerder, het voor ons druktyd bevestig niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Intussen worstel Natasha se geliefdes, waarvan sommige haar in die traumatiese tyd ná haar dogter se moord ondersteun het, steeds met vrae oor dié jongste tragedie.
DENNIS het kort voor ons druktyd nog geweier om met Huisgenoot te praat oor die dood van die vrou wat ’n paar jaar gelede saam met hom by die spoghuis op Groenvlei ingetrek het. “My hele familie ly hieronder . . . Gaan jy praat of gaan ék praat,” was sy telefoniese reaksie. “Julle (die media) het klaar my loopbaan verwoes. Alles waarvoor ek my lewe lank gewerk het. Ek kan net vertrou die waarheid sal uitkom en geregtig-
‘Ons het nie geweet wat om te dink nie. Natasha? Van alle mense?’
Isabel Botha vertel Natasha sou nooit haar eie lewe geneem het nie. Hulle het dadelik geweet iets groots is fout.
‘Ons weet regtig nie meer wat om te glo nie. Daar is soveel stories . . .’ Rhoda Gouws vertel sy het Natasha nog die Maandag voor haar verdwyning gesien. Natasha was soos ’n dogter vir haar.
heid sal geskied,” het hy gesê.
Natasha se geliefdes vertel egter hulle kon uit die staanspoor nie die bespiegeling glo dat sy dalk verdwyn het met die doel om haar lewe te neem nie.
“Ons het nie geweet wat om te dink nie. Natasha? Van alle mense? Ja, sy was ná haar dogter se dood ’n tyd lank depressief, maar sy het dit aanvaar. Die laaste tyd was sy haar gewone self. Gelukkig. Borrelend. Loud,” onthou Isabel Botha (36).
Isabel is die suster van Johan Botha, Anroux se pa. Sy woon saam met Johan, hul ma, Rhoda Gouws, en Anroux hier in hul huis in Bayswater, Bloemfontein. Buite is die gras wit van die ryp en in die sitkamer is die verslaentheid nog tasbaar.
Isabel glimlag by die gedagte aan die vrou wat vir haar soos ’n suster was. Natasha het haarself besig gehou, vertel sy. Sy het onlangs ’n onderneming begin om klere vir hondjies en perde te maak. Sy het ook haar eie skoonmaakdiens bedryf. “Daar was baie om voor te leef.”
Isabel vertel Johan en Natasha was erg oor mekaar, al is hulle uitmekaar toe Natasha met Anroux swanger raak. Natasha het gereeld by hulle vir Anroux kom kuier.
Uit Natasha se huwelik met haar eksman, Willem Koekemoer, het sy ook twee kinders gehad: die vermoorde Noeline en dié se ouboet, Braam (16).
Volgens Isabel was Natasha kort voor haar verdwyning nog opgewonde omdat Braam saam met sy pa van Namibië na Senekal in die Vrystaat sou verhuis. Sy sou Braam dan meer gereeld kon sien.
Oor Dennis het Isabel-hulle min te sê. Net dat hy nooit Natasha se seuns wou toelaat om by haar in die huis op Groenvlei te kuier nie.
Rhoda vertel Natasha het die Maandag voor haar verdwyning op Donderdag 31 Mei kom kuier. “Ons het so lekker gesels. Sy het soos altyd my toonnaels vir my kom knip en mooigemaak.” Isabel het graag dié takie verrig vir Rhoda, wat weens haar ouderdom moeisaam beweeg. “Sy was so onselfsugtig.”
Rhoda het nog die oggend van Natasha se verdwyning vir haar ’n mooi prentjie met WhatsApp gestuur, maar vertel Natasha het nie soos gewoonlik met ’n glimlag-emoji of die woorde “Ag, oulik!” gereageer nie.
Hulle het eers drie dae ná Natasha se verdwyning gehoor Dennis vertel sy het Noeline se as en die rewolwer saam met haar geneem – en dat Natasha, volgens hom, glo ’n selfdoodbrief gelaat het op sy lessenaar in die spoghuis, wat hy ’n paar jaar gelede spesiaal vir hulle gebou het.
“Ons weet regtig nie meer wat om te glo nie. Daar is soveel stories,” vertel Isabel.
NIE ver van die Bothas in Bayswater nie bly Petro Jonker ( 62) en haar kleindogter Cornél Wasserman ( 18). Petro en Natasha was vriendinne. Cornél vertel sy het detyds gereeld by Noeline gaan kuier op die hoewe waar Natasha ’n woonstel gehuur het ná haar egskeiding van Willem Koekemoer.
“Ons sou in ons pajamas fliek of gaan rugby kyk. Noeline was altyd vriendelik, positief en bereid om almal te help,” vertel Cornél. “Sy was ’n regte sterretjie.”
Die nuus van Noeline se moord op Donderdag 7 April 2015 was vir Cornél ’n verskriklike slag. “Ek kan dit eintlik steeds nie glo nie,” beaam Petro tranerig.
Moses Maoka (toe 36), ’n voormalige tuinier op die kleinhoewe waar Noeline en Natasha gewoon het, is later skuldig bevind aan die verkragting en moord en is twee keer lewenslank tronk toe gestuur. Die hooggeregshof in Bloemfontein het gehoor dit was skoolvakansie en Maoka het tussen bosse weggekruip tot hy gesien het Natasha ry werk toe.
Natasha het die middag toe sy van die werk terugkeer haar dogter se lyk in ’n plas bloed in haar slaapkamer ontdek. Sy is met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan, verwurg en verkrag.
“Natasha was daardie tyd ’n zombie,” vertel Petro. “Sy het nie gehuil nie en was nie hartseer soos sy moes wees nie. Ek het vermoed hulle gee haar te veel pille.”
Maar sy glo Natasha het eindelik haar “Blom” se dood aanvaar. Dennis het haar ondersteun en sy het later by hom ingetrek. “Ek dink Dennis was goed vir haar. Sy was gelukkig.”
Maar hulle het ook gehoor Natasha en Dennis het vasgesit, onder meer omdat haar seuns glo nie by hulle kon kuier nie, maar ook oor ’n familielid van Dennis en dié se kêrel wat by hulle woon.
Vir Henk Smit, voorsitter van die Bainsvlei- gemeenskapspolisiëringsforum, was dit asof hy dieselfde nagmerrie ’n tweede keer moes beleef. Drie jaar gelede was hy by die soektog na Noeline se moordenaar betrokke. En nou onlangs weer by die soektog na haar vermiste ma, Natasha.
“Ons het gehoor Natasha het graag soggens in die veld langs hul erf op Groenvlei gaan stap.”
Volgens Henk het hulle in ’n radius van 3 km om die erf en langs die hoofpaaie gesoek. “Ons was by tye seker 30 mense; daar was mense op vierwielmotorfietse en op motorfietse. Die Maandag het die polisie met hul helikopter gesoek. Dit was ’n deeglike lugsoektog.”
Toe hulle die Vrydagoggend ná haar verdwyning met die soektog begin, was Dennis glo “baie emosioneel – hy het gehuil, maar nee, hy het nie saam gesoek nie”.
Nadat hulle die Vrydag onverpoos gesoek het, het Henk die Saterdag begin twyfel of hulle Natasha lewend sou vind. “Ek het gedink as sy haarself nie doodgemaak het nie, sou die koue dit gedoen het. Ek was vrek bang ons gaan haar nooit kry nie.”
‘Natasha was daardie tyd soos ’n zombie. Sy het nie gehuil nie en was nie hartseer soos sy moes wees nie’ Petro Jonker en haar kleindogter Cornél was familievriende van Noeline en Natasha. Hulle is steeds verslae ná die dubbele tragedie.
HY HET nooit met Denn is oor die weg gekom nie, vertel Johan. Aanvanklik het hy gedink dis Natasha wat nie hul seun by die Groenvleihuis wil hê nie. “Daar was altyd ’n verskoning. Dan is daar ’n bikerally, dan is daar dit. Anroux wou weet hoekom hy nie na sy ma toe kan gaan nie.”
So ’n maand gelede het hy vir Dennis daaroor gebel. “Hy het reguit vir my gesê hy het nie tyd vir kinders wat in sy huis rondhardloop nie.”
Hy vind Natasha se beweerde selfdoodbriewe waarvan Dennis hom vertel het vreemd.
In die een brief skryf Natasha glo: “Dankie my Liefling dat jy soooo mooi na my gekyk het na Nien se dood. Ek is jou ewig dankbaar vir alles wat jy vir my gedoen het. Ek het jou lief met my hele hart. Sou graag wou oud word saam jou (sic).”
Maar veral die tweede brief is vir Johan vreemd. Dié het glo gelui: “Verkoop my kar en gee die geld vir Braam asb. Ek jammer Boeta (sic),” vertel Johan. “Wat vir my snaaks is, is die brief verwys net na Braam en nie na Anroux nie. Sekerlik sou sy albei verskoning gevra het,” verduidelik Johan.
Hy verwag Anroux se maatjies sal hom by die skool oor sy ma se dood uitvra. “Maar ek het vir hom gesê as hulle hom enigiets vra, moet hy eers na my toe kom, na sy pa toe.”
Volgens hom is sy huidige vriendin, Diane, soos ’n ma vir Anroux en ondersteun sy hom. “Hy is baie erg oor haar.”
Intussen probeer Natasha se geliefdes die groot hartseer oor haar dood verwerk en berusting soek in die idee dat sy dalk nou weer by haar geliefde dogter is.