Huisgenoot

Mev Styl “sterf nie weens eetstaking”

Sy suster kón eenvoudig nie eet nie, sê ’n broer van Bloem se oorlede Mev. Styl nadat sy in die tronk tot 40 kg weggekwyn het

- Deur CARLA COETZEE

SELFS in haar laaste dae in die hospitaal kon ’n mens Lizette Berry (54) deur ’ n ring trek. Haar naels was netjies en gemanikuur en sy het opgewonde gesels oor die eersdaagse modeparade, wat sy in die tronk gereël het. Maar ten spyte van haar vrolike geselsies en afgeronde voorkoms was sy op haar sterfbed. Met haar dood op 12 Junie het sy ’n skamele 40 kg geweeg nadat sy die afgelope drie maande onverklaar­baar voor haar naasbestaa­ndes se oë weggekwyn het.

Dié mede-eienaar van Bloemfonte­in se Mev. Styl-kompetisie het tronkstraf van effektief 10 jaar uitgedien nadat sy R8,8 miljoen by ’n prokureurs­firma gesteel het. Sy is verlede Junie gevonnis, maar was minder as ’n jaar lank in die tronk voor sy dood is, volgens die doodsertif­ikaat aan natuurlike oorsake.

“Sy was net vel en been,” sê Lizette se gebroke kleinboet, Renier Hattingh (45) van Kempton Park, kort ná haar dood. Hy was die laaste familielid wat haar gesien het.

Net twee dae voor haar dood het hy die 200 km tussen Gauteng en Kroonstad gery om ’n uur lank by haar in die Boitumelo-hospitaal te kuier. Hy sê sy is die laaste drie maande gedurig in die hospitaal opgeneem.

Sedert die begin van haar tronkstraf het die familie beurte gemaak om by haar te kuier. Renier het een keer per maand met Lizette – of Zetta, soos hy haar noem – in die Kroonstad-gevangenis gaan gesels.

Hy is ontsteld oor mediaberig­te dat sy stylvolle ousus ’n bulimielye­r was of geweier het om te eet. “Sy kón nie eet nie. Ons weet nie hoekom nie, maar sy het keer op keer vir ons gesê sy kry nie die kos in haar lyf in nie,” sê hy.

Dit was hel om sy saggeaarde suster, wat graag mense beter oor hulself laat voel het, so te sien.

“Dis wat ek van my laaste kuier by Liz sal onthou: haar hande. Dit was steeds sy; nog so perfek en netjies soos altyd. Maar haar mond was so droog soos skuurpapie­r,” sê Renier en sy oë begin swem.

Renier glo Lizette is dood weens wanvoeding, maar hy meen ook sy sou geensins so iets aan haarself gedoen het nie.

OP FOTO’S glimlag die donkerkop breed en is haar hare en grimering onberispel­ik. “Sy het altyd so gelyk,” vertel Renier, ’n sakeman, in sy kantoor in Midrand, “selfs wanneer ons gebraai het of sy op die strand was. Haar grimering was altyd gedoen en jy kon haar altyd deur ’n ring trek.”

Tog was sy nie oppervlakk­ig nie, skerm hy. “Sy was net ’n lady. Sy was mal daaroor om ander te laat goed lyk en so goed oor hulself te laat voel. Dit het nie net oor die uiterlike gegaan nie.”

Lizette, die oudste van vier kinders, het in ’n gelukkige ouerhuis grootgewor­d, al het hulle dit nie aldag breed gehad nie.

‘Moes sy tronk toe gaan vir wat sy gedoen het? Hell, yes. Moes dit ’n doodstraf wees? Hell, no’

Haar pa was in die weermag en haar ma het omgesien na die vier kinders: drie dogters en ’n seun.

“Ek kan nie dink ek het my ma al ooit hoor vloek nie. Sy en Zetta is in dié opsig eenders. Dis haar wat ek ná Zetta se dood die jammerste kry,” sê Renier.

Sy ma, Hester, is 80 en woon in ’n meenthuis in Bloemfonte­in. Sy pa, Bom, is 15 jaar gelede oorlede.

“Toe Lizette tronk toe gaan, het sy gevra my ma moet vir haar wag. Sy het gesê sy mag nie doodgaan voor sy uit die tronk kom nie, en nou dit . . .” sê Renier en skud sy kop.

Dit is nie die eerste tragedie wat die familie tref nie. Renier se naasoudste suster, Yvonne, is in 2008 in ’n perdryonge­luk dood. En in 2015 het Lizette se jongste dogter, Gabby, op 20 haar eie lewe geneem deur haar aan ’n klimraam in ’n parkie naby haar ouerhuis in Bloemfonte­in op te hang.

“Zetta het nooit daarmee vrede gemaak nie,” vertel Renier. “Dit het haar hart gebreek. Sy het soveel kere vir my gesê sy het nie gesien iets skort met Gabby nie. Sy het haarself verkwalik vir haar dogter se dood en dit is nie iets wat sy ooit oorkom het nie.”

Renier word stil. Dan vertel hy verder: “Dalk is dit hoekom sy die geld gesteel het. Sy wou net nog en nog klere koop om daai leemte te vul. Ek weet nie.”

Dit was vir hom ’n skok toe hulle destyds hoor Lizette word daarvan beskuldig dat sy miljoene rande gesteel het. “Ons het eers gedink dit kan nie wees nie, maar Zetta het dit teenoor ons erken. Ons het besluit om haar te ondersteun.”

Lizette het twee kinders uit haar eerste huwelik. Gabby was die enigste uit haar tweede huwelik. Sy is ook geskei van haar tweede man, André Berry.

“Ek’t altyd gewonder waar al die miljoene is, want Zetta het in ’n gewone huis gewoon en glad nie uitspattig geleef nie. Net haar klere was altyd van goeie gehalte, maar omdat ek mos nie weet wat ’n rok kos nie, het dit my nie gepla nie. Ek vermoed sy het die meeste van die geld aan die Mev. Styl-kompetisie bestee.”

Hoewel Lizette aanvanklik swaar in die tronk aangepas het, het sy kort voor haar dood na die gevangenis as haar “huis” verwys, vertel Renier.

“Ons het in die eerste drie maande van haar gevangensk­ap gesukkel om haar medikasie by haar te kry. Sy was op antidepres­sante en het ook medikasie vir artritis in haar bene gebruik. Ek dink dit het haar depressief gemaak dat sy die eerste paar maande nie haar medikasie kon neem nie,” vertel hy.

Nadat sy dit weer gereeld gekry het, het dit beter met Lizette gegaan.

“Sy het toe gevra dat ons haar grimering vir haar bring. Sy het die vroue in die tronk make-overs gegee. Sy het my trots vertel hoe sy dié vroue weer hoop gee en hul selfbeeld opbou.

“Net voor haar dood het sy ’n modeparade in die tronk beplan. Sy het vrede gemaak dat sy die volgende paar jaar in die tronk sou wees. Daai laaste dag dat ek haar (in die hospitaal) gesien het, het sy vir my gesê sy wil nou gesond word en huis toe gaan. Sy’t bedoel die tronk!” sê Renier en lag. Maar waarom het sy dan nie geëet nie? “Dit het so drie maande gelede begin. Die tronkowerh­eid het vir ons gesê sy wil nie eet nie. Ek het aan die begin met haar baklei en gesê: ‘J*****, Zetta, eet net; vat kleiner happies, maar eet net,’ ” sê hy.

Die familie weet nie waarom Zetta gesukkel het om te eet nie. “Ek weet sy sou vir my gesê het as sy op ’n eetstaking of wat ook al was. Dit was nie dit nie. Sy wou nie doodgaan nie.” Renier sê sy ousus het in haar laaste dae ’n behoefte gehad aan iemand om haar te versorg. “Ek dink sy het my ma nodig gehad, my ma wat haar lepel lep vir lepel sop sou gevoer het tot sy gesond was.”

RENIER sê Zetta is vir hom veel meer as net iemand wat die skandvlek van ’n gevangene dra.

Hy sal altyd onthou hoe sy hom gemaan het om sagter te praat. “Sy het altyd vir my gesê mense hoor jou nie wanneer jy hard praat nie.”

Met sy laaste besoek het sy hom gevra om ’n medegevang­ene R400 te betaal. “Die vrou het vir Lizette se ses kleinkinde­rs mussies en handskoene gebrei. Zetta was bekommerd sy sou nie haar geld betyds vir die tronk se snoepiedag kry nie. Sy het vir my gesê sy kan nie die vrou in die steek laat nie, want haar familie gee haar nie sakgeld nie.”

Hy sug. “Moes sy tronk toe gaan vir wat sy gedoen het? Hell, yes. Moes dit ’n doodstraf wees? Hell, no. Sy is op daai koue hospitaalb­ed dood sonder enigiemand om haar hand vas te hou – en dit verdien niemand.”

Die departemen­t van korrektiew­e dienste se streekshoo­f van ontwikkeli­ng en versorging in die Vrystaat en Noord-Kaap, Gustav Wilson, het bevestig Lizette was nie op ’n eetstaking nie. Sy was siek en is eers in die Kroonstadg­evangenis se hospitaalv­leuel opgeneem voor sy vir verdere behandelin­g na die Boitumelo-hospitaal oorgeplaas is. Hy wou nie uitwei oor die aard van haar siekte of behandelin­g nie weens die vertroulik­heid van ’n pasiënt se mediese rekord.

 ??  ?? HOOFFOTO: Lizette Berry (BO) se kleinboet, Renier Hattingh, kan nie haar dood aanvaar nie.
HOOFFOTO: Lizette Berry (BO) se kleinboet, Renier Hattingh, kan nie haar dood aanvaar nie.
 ??  ??
 ??  ?? Lizette, ’n voorkomsko­nsultant wat ’n mens altyd deur ’n ring kon trek, was baie erg oor haar ses kleinkinde­rs.
Lizette, ’n voorkomsko­nsultant wat ’n mens altyd deur ’n ring kon trek, was baie erg oor haar ses kleinkinde­rs.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa