Incredibles 2
Animasie-WF. Stemme: Craig T. Nelson, Holly Hunter en Sarah Vowell. Regie: Brad Bird. OTG. Die storielyn
Al het 14 jaar verloop vandat ons die minlike superheldgesin die Parrs laas in The Incredibles (2004) gesien het, laat waai dié opvolg oomblikke ná die einde van die eerste rolprent.
Superhelde is onwettig verklaar, maar toe ’n skurk toeslaan, laat Bob Parr (Nelson), oftewel Mr. Incredible, sy vrou, Helen (Hunter), ook bekend as Elastigirl, en hul kinders met supermagte, Violet (Vowell) en Dash (Huck Milner), nie op hulle wag om die booswig te keer nie.
Ongelukkig is die regering nie beïndruk met die skade wat hulle aanrig nie en moet die Parrs hul gewone lewe hervat – tot die mediamagnaat en superheldaanhanger Winston Deavor (Bob Odenkirk) hulle nader. Omdat Helen minder vernietigend as haar supersterk man is, stel Winston ’n mediaveldtog voor wat handel oor Elastigirl se misdaadbestryding. So wil hy openbare steun vir superhelde werf. Terwyl sy weg is, bied Bob teësinnig aan om Violet, Dash en baba Jack-Jack (Eli Fucile) te versorg, wat sonder die gesin se medewete superkragte ontwikkel het.
Is dit goed?
Soos die beste opvolgf lieks brei Incredibles 2 die wêreld van die eerste rolprent op interessante maniere uit terwyl dit ook die minsame karakters verdiep. Terwyl The Incredibles op Bob gekonsentreer het, is dit wonderlik om te sien dat Helen dié keer die kollig steel en dat die hele gesin van die begin af aan die aksie deelneem.
Dit strek ook tot Bird se eer dat die amusante huislike drama – ongewoon in ’n animasiereeks wat op kinders gemik is – net so boeiend en opwindend as die aksietoenele is, al sal die kinkel oor die skurk se identiteit die meeste kykers nie verras nie.
Die pragtig ontwerpte retro-wetenskapsfiksievoorkoms, lieflike naturalisme van die karakters se gebare, pittige dialoog en opwindende klankbaan deur Michael Giacchino maak dit ’n kyk- en luisterfees.