Huisgenoot

Vrou kla verkragter-pa ná dekades aan

Dekades nadat haar pa haar na bewering jare lank gemolestee­r het, het Chantelle eindelik teen hom getuig en hoop sy tronkstraf sal vir haar berusting bring

- Deur PIETER VAN ZYL

WANNEER laas het sy gehuil oor die dinge wat kleintyd met haar gebeur het? Sy kan nie eens onthou nie; dis asof sy jare lank haar emosies diep binne-in haar begrawe het.

“Ek wens ek kon,” sê Chantelle Akers van die Baai, “maar hoe ouer ek geword het, hoe moeiliker was dit om te huil.”

Toe die bruinkopvr­ou op 23 Mei vanjaar eindelik in die streekhof op Uitenhage getuig teen die man wat van haar seksuele aanranding en verkragtin­g aangekla word, het die ingehoue emosies haar onbedaard laat sidder.

“My hande het so gebewe, ek moes aan die getuiebank vashou,” onthou sy. “Daar sit die hof vol polisieman­ne en vreemde mense wat aantekenin­gs maak en ek moet oor intieme detail praat.”

Die man teen wie sy getuig het, was immers die een wat haar eintlik moes help beskerm het teen die aanslae van die lewe – haar pa.

Op die ouderdom van 48 – dekades ná die gebeure wat haar van haar onskuld beroof het – het sy eindelik in die hof teen Lionel Potgieter (nou 70) te staan gekom weens wat hy haar na bewering in haar kinderjare aangedoen het.

“Ek moes my net heeltyd daaraan herinner die waarheid sal my vrymaak, al peper die verdedigin­g my ook hóé oor en oor met dieselfde vrae.

“Dit was mý lyf. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek was ’n kind wat in vrees moes slaap, wegkruip of weghardloo­p na maatjies wanneer ek sy motor hoor intrek het.”

Chantelle het haar pa drie jaar gelede ná sowat drie dekades by die polisie aangekla. Toe eers kon sy ná die trauma van haar kinderjare die moed bymekaarsk­raap om te beweer: Haar pa het haar gemolestee­r vandat sy 11 was en dit het sowat ses jaar lank so aangehou.

“Mense verkwalik my dat ek so ’n sieklike, ou man in die hof aanvat,” sê sy ontsteld.

Die saak teen haar pa is sedert die eerste verhoordat­um op 26 September 2016 al agt keer weens sy swak gesondheid uitgestel. In ’n plaaslike koerant het ’n leser haar in ’n brief gekritisee­r omdat dit so lank geduur het voor sy hom verkla het. Die opskrif was: “Report rape immediatel­y – not 25 years later.”

In ’n brief met die opskrif “Why some keep quiet about rape” het Chantelle toe geantwoord dat baie kinders te bang is om te praat oor wat hulle oorgekom het. “Ek was juis bang niks sou gebeur as ek my storie vertel nie,” sê sy.

Selfs as volwassene toe die saak telkens uitgestel word nadat mediese sertifikat­e by die hof ingedien is dat haar pa onder meer aan hoë bloeddruk en stres ly, het dit vir haar gevoel sy het verniet uitgepraat.

Toe hy op die oggend van 25 Julie verlede jaar in die hof moes verskyn, maar inderhaas hospitaal toe geneem is, het Chantelle radeloos die menseregte­organisasi­e Women + Men against Child Abuse genader. Hulle het ook die slagoffers van Bob Hewitt bygestaan. Dié gevalle tennisster is in 2015 op 75-jarige leeftyd skuldig bevind aan die verkragtin­g en molesterin­g van tienermeis­ies wat hy in die 1980’s en ’90’s afgerig het.

Miranda Friedman, die organisasi­e se

stigter, het twee dae later ’n brief geskryf aan Louise van Wyk, senior aanklaer in Uitenhage se landdrosho­f, oor hul misnoeë daaroor dat die saak pal uitgestel word. Hulle het gedreig om te vra die nasionale vervolging­sgesag moet ingryp.

Verlede maand het die dag toe eindelik aangebreek dat Chantelle in die hof kon getuig oor die donker geheim wat sy beweer sy as tiener noodgedwon­ge moes bewaar. “Ek wil hê hy moet tronk toe gaan,” sê sy nou prontuit, “sodat ek eindelik berusting kan kry.”

As 11-jarige het Chantelle glo destyds toe die seksuele mishandeli­ng begin “nie van beter geweet nie”, vertel sy.

“Ek het al die jare gedink dis wat pa’s nou maar doen om hul dogters op die volwasse lewe voor te berei. Ek was die kind. Hy was die pa wat my mos moes beskerm het,” sê sy waar ons in haar tuisstad langs die swembad van ’n hotel met ’n uitsig op die hawe gesels.

Die geskeide ma van twee seuns wat as administra­tiewe klerk by ’n vervaardig­er van plastiekfi­lm werk, is keurig aangetrek. Haar goue blinkertji­enaels flits in die son terwyl haar hande saam vertel van die dekades wat haar lyf vir haar soos ’n tronk gevoel het.

Chantelle beweer haar pa het haar destyds gedreig: As sy haar ma van hul donker geheim vertel, sal sy hom verlaat en dan sal sy, haar jonger suster en broer alleen by hom agterbly.

Omdat sy en haar sussie ’n slaapkamer gedeel het, het haar pa haar ná ure na die sementfabr­iek geneem waar hy toe as bestuurder gewerk het, beweer sy. Dis waar die dinge gebeur het. Lionel het dit in die hof betwis en onskuldig gepleit.

“Daar is mos geen fisieke bewyse nie,” sê Chantelle; “dis my woord teen syne.”

EEN van die min bewyse in die saak is ’n brief van 22 bladsye wat Chantelle se suster op 15 geskryf het waarin ook sý beweer haar pa het haar seksueel aangerand vandat sy 11 was. Sy het dit destyds aan ’n sielkundig­e geskryf wat haar vir woedeuitba­rstings behandel het. Dié het dit aan hul ma gewys. “Ons het nie van mekaar geweet nie,” vertel Chantelle oor die beproewing wat albei susters na bewering deurgemaak het. “Maar toe my ma daarvan uitvind, het sy ons weggevat, elders op Uitenhage gaan woon en van Lionel geskei.”

Tog het Chantelle eers sowat drie jaar daarna van die bestaan van haar sussie se brief uitgevind. Sy was toe al amper 20 jaar oud en haar ma het die soveelste keer gevra waarom sy soveel woede in haar het. Chantelle het toe vir haar ma vertel sy is as tiener verkrag.

Chantelle se suster (nou 46) het ná ’n onlangse senu-ineenstort­ing besluit om nie in die saak te getuig nie. Hul ma (68) en broer (45), wat destyds ook onbewus van die beweerde aanranding­s was, het wel getuig oor hoe die beweerde gebeure die gesin sedertdien geraak het.

Nadat haar ouers uitmekaar is, het Chantelle geen kontak met haar pa gehad nie. Sy was 33 jaar oud toe sy hoor haar pa het weer getrou en ’n kind gehad. Dit het haar erg gepla om te dink daar is weer ’n jong kind in sy huis.

Toe die meisie amper 11 was, het Chantelle besluit om haar pa se vrou te bel en te vertel wat hy aan haar gedoen het en te vra dat sy haar kind beskerm.

In Februarie 2015 het haar pa haar gebel. Wat hy vir haar gesê het, het haar so ontstel dat sy besluit het om hom by die polisie te verkla oor wat na bewering destyds gebeur het.

Op 8 Julie 2015 het sy eindelik ’n klag by die Mountweg-polisiekan­toor in Port Elizabeth ingedien. Dit was kort nadat Hewitt tot ses jaar gevangenis­straf gevonnis is. Chantelle se ma het haar aangemoedi­g om met die saak voort te gaan.

Waarom het sy so lank gewag om die klag teen haar pa aanhangig te maak? bly mense haar vra. “Ek het gedink dis iets waarmee ek moes saamleef; kon saamleef. Maar my verhouding­s, my selfbeeld, my lewe het daarna net oor oorlewing gegaan,” verduideli­k sy.

Sy onthou die keer toe sy 13 was en die gedagte haar te binne geskiet het om haar pa se pistool uit die kluis te haal en hom daarmee dood te skiet.

“Ek weet nie wat my toe gekeer het nie, maar ek sou dan in ’n regte tronk beland het eerder as die sielkundig­e een waarin ek amper lewenslank geleef het.”

Sy skryf haar latere verhouding­sprobleme en haar mislukte huwelik van 13 jaar daaraan toe dat sy steeds sukkel om mans te vertrou.

As tiener het Chantelle die eetsteurin­g anoreksie ontwikkel. Vandag besef sy die beheer wat sy probeer uitoefen het oor wat sy eet, was ’n wanhopige poging om beheer oor haar lyf te kry. Op 12 het sy maar 41 kg geweeg.

Vandag is sy 1,78 m lank en weeg sy ’n gesonde 60 kg. “Ek hou van hoe ek nou lyk en waardeer wie ek is. Ek voel bemagtig,” sê sy. “Ek is nie ’n slagoffer nie maar ’n oorlewende.”

Huisgenoot het Lionel Potgieter gebel, maar hy wou nie kommentaar lewer nie en het ons na die Regshulpra­ad verwys. “Die saak is sub judice en ons kan dit net bespreek nadat dit afgehandel is,” het Abongile Tyopo, woordvoerd­er van die raad se OosKaapse kantoor, gesê. Lionel sou op 29 Junie (voor ons druktyd) in die streekhof op Uitenhage getuig.

‘Ek was ’n kind wat in vrees moes slaap, wegkruip of weghardloo­p’

 ??  ?? Chantelle Akers van Port Elizabeth veg al sedert 2015 om die verkragtin­gsaak teen haar pa deur die regstelsel te kry.
Chantelle Akers van Port Elizabeth veg al sedert 2015 om die verkragtin­gsaak teen haar pa deur die regstelsel te kry.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa