Huisgenoot

Ricus en Liza: Dis ’n seun!

Kort nadat Liza en Ricus gehoor het hulle verwag ’n seuntjie, het hulle ons vertel van die knapie wat saam met hulle gaan toer

- Deur JACO HOUGH- COETZEE

AS DIT ’ n seuntjie was, sou hulle hom Hardekool genoem het, en as dit ’n dogtertjie was, sou sy Sagtekool gewees het, spot die amper-ouers. Die rasperstem­sanger Ricus Nel en sy sangeresvr­ou, Liza Brönner, het vandag albei ’n ekstra vonkel in die oog. Hulle is pas terug van ’n besoek aan die ginekoloog, waar hulle die geslag van hul eersteling gehoor het.

Dan kan Liza dit nie meer inhou nie. “Dis ’n seuntjie!” verklap sy die groot nuus eksklusief aan Huisgenoot terwyl sy weer na die sonarfoto’s op haar selfoon kyk. “Ons is baie seker; kyk, hy het baie mooi gelê.”

“Hallo, boetie,” het sy hom gegroet toe hulle die geslag op die sonarskerm sien. “Toe waai hy vir ons,” vertel die sangeres van liedjies soos die huidige treffers Emosioneel en Verlief op die Idee van My.

“Ja, hy het sy handjie so oop- en toegemaak,” beaam Ricus, wat jare lank as musikant bekend was voor hy ook as sanger naam gemaak het.

Liza sê al wat deur haar kop gegaan het toe sy hul gesonde babatjie op die sonar sien, was “dankie, Here”. “Daar word gesê ’n ma weet instinktie­f wat die geslag gaan wees, maar ek het nie geweet nie.”

Dit het nie vir hulle saak gemaak of hul eersteling ’n seuntjie of dogtertjie is nie.

“Ons het glad nie omgegee wat die Here vir ons gaan gee nie,” verduideli­k die sangeres wat in 2013 bekendheid verwerf het toe sy die vroulike hoofrol, Liefling Marais, in die teatermusi­ekspel Liefling vertolk.

Haar swangerska­p verloop goed en sy het glad nie aan die kenmerkend­e buierighei­d gely nie, “want sy sukkel mos om kwaad te raak”, vertel haar man. Maar die naarheid was ’n ander storie en Liza het kwaai les opgesê.

Hier waar hulle nou by ’n vriendin se huis in Pretoria inloer voor hulle weer koers kies na hul eie huis in die ooste van Pretoria, is egter geen teken van naarheid of enige ander newe-effekte nie. Liza straal, en Ricus ook. Die twee lyk skoon oorbluf van opgewonden­heid: Hulle gaan ouers word!

NADAT die twee sangers mekaar in 2010 by ’n musiekfees op Oranjevill­e in die Vrystaat ontmoet het, het hulle in Januarie 2013 ewige trou aan mekaar beloof.

Hulle het toe besluit hulle wil nie dadelik met ’n gesin begin nie. Maar toe hulle in April vanjaar die KKNK-fees op Oudtshoorn, waar Ricus opgetree het, bywoon, het Liza begin vermoed sy is dalk swanger.

Dit was egter eers toe hulle terug by die huis in die Jakarandas­tad is dat sy tyd kon kry “om die stokkies te gaan koop”, vertel sy. “Sommer drie verskillen­de soorte, net om seker te maak.”

Al drie swangerska­pstoetse het bevestig wat sy vermoed het: Daar is ’n nuwe mensie op pad.

“Dit was so amazing,” onthou sy daardie oomblik. “Ek het in trane uitgebars. Dit was ’n oorweldige­nde gevoel.”

En Ricus? Nee, hy wys mos nie eintlik maklik emosie nie, sê hy.

“Maar ek ken my man. Ek kon sien hy is baie opgewonde,” vertel sy terwyl haar hand oor sy skouer skuur.

Hulle het onmiddelli­k hul familie gebel en ’n week of wat later van hul nabye vriende vertel, maar hulle het almal gevra om die nuus eers stil te hou. Eers op 13 weke het hulle dit in die sosiale media bekendgema­ak.

En wat gaan die kleinding se naam wees? Die twee kyk na mekaar en skud dan kop. “Ons het nog geen idee nie,” antwoord Ricus. “Onthou, ons het maar eers ’n uur gelede gesien dis ’n seuntjie.”

Dan lag hulle en sê hulle het al gespot as dit ’n seuntjie is, sal hulle hom noem na Hardekole, Ricus se bekroonde 2016-treffer.

“En as dit ’n dogtertjie was, kon ons haar Sagtekool genoem het,” terg Liza.

Sy gaan nie nou haar bestaande optredes kanselleer nie. “Nee wat, sy is nog in ’n goeie toestand – sy kan nog sing,” skerts Ricus, wat vanjaar met sy Worsie Visser-huldeblyka­lbum met ’n Ghoemaprys in die kategorie beste boeremusie­kalbum / tradisione­le musiekalbu­m weggestap het.

“Ons sal wel nou minder optredes vir later vanjaar bespreek wanneer haar bevallings­datum in November nader kom.”

Liza sou in September saam met Ricus, Bok van Blerk en Refentse in Kanada opgetree het, maar sal nie meer kan saamgaan nie, want dit kan gevaarlik wees vir die ongebore baba om so ver te vlieg. Dit raak egter nie die manne se vertonings nie.

Hulle beplan nie om wanneer die baba sy opwagting maak en Liza weer agter die mikrofoon kan inskuif die kleinding by die huis te los nie. Aangesien baie van hul vertonings oorvleuel, hulle dikwels op dieselfde feeste optree en gereeld ’n verhoog deel, is die twee gewoonlik saam op die pad.

“Hierdie babatjie gaan maar saam toer,” sê Liza. “Nes sy pa toe hy klein was.”

RICUS se pa, Koos Nel, was jare gelede deel van die musiekgroe­p Die Harmonieda­nsorkes wat hoofsaakli­k op geleenthed­e in die Rustenburg-omgewing gespeel het. Ma Liesie het altyd saamgegaan met die kleine Ricus in sy drabedjie.

Daardie musikale blootstell­ing as baba het miskien gehelp om musiek in Ricus te vestig, want hy was skaars vier, toe kan hy al die tromme bespeel. Hy was maar net ses jaar oud toe hy tydens ’n opname van die destydse radioprogr­am Konsertina­klub baskitaar en konsertina vir die groep speel. Al het hy nooit enige formele musiekople­iding ontvang nie, kan hy vandag 13 instrument­e bespeel. Dink hy sy seun sal dalk dieselfde pad stap met twee musikale ouers en aangesien hy ook van ’n vroeë ouderdom blootstell­ing aan die musiekwêre­ld gaan kry? Ricus glimlag. ’n Man hoop maar so, sê hy eers. “Maar eintlik maak dit nie saak nie, solank hy net gesond en gelukkig is.” “Daar gaan nie ’n dag verby dat ons nie onder die besef van God se grootsheid is nie,” stem Liza saam. Sy kyk weer na die foto’s op haar selfoon. Dan sê sy: “Om te dink hierdie kindjie is so perfek . . .”

‘Ek het in trane uitgebars. Dit was so oorweldige­nd’

 ??  ?? HOOFFOTO: Die sanger-egpaar Liza Brönner en Ricus Nel gaan die trotse ouers van ’n seuntjie word.
HOOFFOTO: Die sanger-egpaar Liza Brönner en Ricus Nel gaan die trotse ouers van ’n seuntjie word.
 ??  ?? Die twee moet nog op ’n naam vir die kleinding besluit.
Die twee moet nog op ’n naam vir die kleinding besluit.
 ??  ?? BO: Ricus is onder meer bekend vir sy treffer Hardekole en Liza vir liedjies soos Emosioneel en Verlief op die Idee van My.
BO: Ricus is onder meer bekend vir sy treffer Hardekole en Liza vir liedjies soos Emosioneel en Verlief op die Idee van My.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa