Lughawe se hondehelde hou vlieg veilig
Ontmoet O di die h hondehelde d h ld wat op O.R. Tambo vliegongelukke voorkom
‘Die honde word geleer om die voëls te verjaag; nie te vang of te beseer nie’
WAAR hy regs voor in die gholfkarretjie sit, laat hy vir geen oomblik sy waaksaamheid verslap nie. Sy kop draai links, regs, weer links terwyl hy die wêreld fynkam vir indringers. Hier is immers lewens op die spel. Op die agtergrond word die gedreun van ’n vliegtuig wat daal om te land ál harder. Dis asof die geluid die adrenalien deur Scott se lyf laat pomp. Hy draai heeltemal om op sy sitplek; draai dan weer vorentoe. En heeltyd draai sy kop sodat sy lewendige, donker oë oor die omringende grasveld kan swiep.
Sy lyf bewe behoorlik van opgewondenheid.
Dan sien hy die indringer, skaars 50 m van hom af in die gras. Hy staan orent in sy sitplek om Melissa Hoffman, wat langs hom agter die stuur sit, te wys hy het sy prooi gewaar. Hy kyk afwagtend na haar vir die teken om aan te val.
Melissa blaas op die fluitjie wat om haar nek hang. Scott skiet soos ’n pyl uit ’n boog uit sy sitplek; sy rug trek eintlik krom soos hy hardloop. Dan blaf hy ’n paar keer hard en ’n verskrikte kiewiet klap sy vlerke om van die aanstormende “veiligheidsbeampte” af weg te kom.
Scott die borderkollie keer stert- swaaiend en hoogs in sy noppies terug na Melissa, sy hanteerder, om haar lof te ontvang.
Agter hulle op een van die besige aanloopbane van Johannesburg se O.R. Tambo-lughawe het die vlieënier intussen reeds veilig geland, min wetend Scott het dalk pas verhoed dat die passasiers in ’n ongeluk beland.
DIE duisende passasiers wat daagliks van O.R. Tambo af opstyg en hier kom land, is waarskynlik salig onbewus van die bestaan van Scott en sy viervoetige makkers – Ranger, ook ’ n borderkollie, en twee spanjoele, Chase en Griffon.
Tog het dié natneuspatrollie ’n lewensbelangrike werk.
Hulle patrolleer die uitgespreide grasveld rondom die internasionale lughawe se aanloopbane om voëls te verjaag. Want hoewel die veld ’n sekuriteitsgebied is, kan veiligheidsheinings geveerde indringers nie uithou nie.
En as ’n voël in die motore van ’n dalende of stygende straalvliegtuig ingesuig word, sy skroeflemme tref of selfs in die stuurkajuit se ruit vasvlieg, kan die vliegtuig neerstort – met moontlik ramp- spoedige gevolge. Vlieëniers en lugbeheerbeamptes wêreldwyd vrees bird
strikes. En hier op O.R. Tambo is die stertswaaiende patrollie die vertroude teenvoeter.
Scott, Ranger, Chase en Griffon woon in die lughawe se brandweerstasie. Hier kom haal hul hanteerders hulle vroeg soggens in hul hondehokke en word elkeen in ’n batteryaangedrewe karretjie na sy werkgebied geneem.
En blykbaar is hul werk vir hulle sommer groot pret. Watter hond sal nie daarvan hou om heeldag voëls te jaag nie?
Ons ontmoet Scott en Melissa in ’n konferensiekamer op die vierde verdieping van die lughawegebou. Scott kom ruik eers aan ons en staan stil vir ’n kopvryf voor hy by Melissa se voete gaan lê.
Melissa, ’ n dierewelsynwerker op die lughawe, vertel die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika gebruik al sowat 15 jaar lank honde om voëls van die aanloopbane te verjaag.
So word die voëls, vliegtuie én mense beskerm. “Die honde word geleer om die voëls te verjaag,” vertel Melissa, “nie om hulle te vang of te beseer nie.”
Sy vertel die lughawe het twee aanloopbane en ’n vliegtuig styg elke sowat
vyf minute op. Scott, Ranger, Chase en Griffon voorkom nie net ongelukke nie; hulle sien ook toe dat lastige voëls nie vlugte vertraag nie.
“Die lughawe het ook ’n probleem met hase,” sê sy. “Soms word ’n haas op die aanloopbaan doodgery. Dit lok roofvoëls wat op die karkas toesak. Die honde word geleer om die karkasse te verwyder en na die hanteerders te bring om so te keer dat roofvoëls gelok word.”
Net kollies en spanjoele word gebruik. Die spanjoele, wat gewoonlik vir voëljagtogte geteel word, bring beseerde voëls na die hanteerders, wat dit dan na ’n veearts neem. Die spanjoele vaar beter in digte bos; die kollies in die oop grasveld.
Die lughawehonde word by telers op Caledon in die Wes-Kaap se Overbergstreek aangekoop terwyl hulle nog klein is. In die eerste 18 maande word hulle basiese opdragte soos “sit” en “lê” geleer. Ná 18 maande – wanneer hul beendere sterker is – begin hul eintlike opleiding as bewakers van die aanloopbane.
Melissa sê die koste van een van die honde – aankoop, opleiding en versorging – is tussen R220 000 en R250 000.
DAN is dit tyd vir Melissa en Scott se dagtaak. Ons ry na die plek waar hulle vandag moet patrolleer. Dit is in die veld langs die lughawe se tweede aanloopbaan. Toe Scott die batteryaangedrewe karretjie sien, begin hy sy stert swaai en sy lyf wikkel.
Scott se kollega Chase en dié se hanteerder, Mariano Booysen, wag al vir ons by die karretjies. Scott en Chase snuifgroet mekaar. Dan begin hulle op en af spring van pure opwinding.
“Klim,” sê Melissa. Sonder om te aarsel spring Scott en Chase op hul karretjies se passasiersitplek. “Die honde is gek oor hul werk,” sê Melissa en glimlag breed.
Sy verduidelik die hanteerders gebruik hondefluitjies om die honde opdragte te gee. ’ n Hond sal nie uit die karretjie spring om ’n voël te verjaag as sy hanteerder nie die fluitjie geblaas het nie.
Die fluitjie word ook gebruik om die hond terug te roep. Die hanteerder kan ook die hond in die middel van ’n jaagtog met ’n sekere fluitsein tot stilstand bring.
Die honde se hanteerders gee hulle deur die loop van die dag peuselhappies soos hondebeskuitjies. “Maar dis sommer net vir die lekker. Dis nie om hulle te beloon nie,” verduidelik Melissa. “Hul werk is vir hulle beloning genoeg.”
Elke hanteerder het ’n handwapen. Dit vuur nie lewendige ammunisie af nie, maar maak harde knalgeluide, wat soms die voëls sal verjaag.
“Die honde is so gefokus, die geraas wat die vliegtuie maak, trek nie hul aandag af nie,” vertel sy.
Een probleem vir die honde is slange in die gras. Maar hulle spring eenvoudig weg om die slange te ontduik, sonder om die voëls uit die oog te verloor. “Die slange is ook belangrik vir die omgewing en hou die rot- en muisgetalle onder beheer.”
’n Wegloperhond het hom eenkeer op die lughawe se terrein tuisgemaak, vertel sy. “Ons het hom Boeing genoem. Dit het ons twee jaar gekos om die dier se vertroue te wen en hom te vang. Ons kon dit net regkry omdat hy gesien het ons eie honde vertrou ons.”
Dié hond is na ’n dierebeskermingsvereniging geneem.
SCOTT beskerm die vliegtuie, hul bemanning en passasiers al 10 jaar lank. Einde vanjaar moet hy aftree. En dan?
Melissa gaan hom aanneem en na haar huis toe vat, vertel sy, nes BD, die vorige borderkollie wat haar patrolliemaat hier was. BD is in 2011 weens ouderdom oorlede.
Melissa sê wanneer ’n hond aftree, dek die lughawe steeds sy mediese onkoste en hondekos.
Maar tot dan is dit werk, werk, werk vir Scott en sy kollegas, elke aand tot omstreeks negeuur, wanneer hulle na hul hokke by die brandweerstasie geneem word. Hul houthokke is toegerus met ’n matras, kombers en verwarmer.
Die brandweerstasie is omhein, met ’n groot grasperk waar dié vier saans kan speel. Dis nou as hulle die dag nie genoeg tydens werktyd gespeel het nie . . .