Huisgenoot

Slim planne teen duur krag

Met beurtkrag dalk terug en kragpryse wat die hoogte inskiet, moet verbruiker­s slim werk om die pyn te beperk. Hier’s topraad

- Deur RICHARD VAN RENSBURG

ONS het al die kerse weggepak, daar is stof op die gasbottel, en die kragopwekk­er se gedreun is vergete. Ons kyk ongestoord rugby en 7de Laan op TV en die kinders boer op PlayStatio­n. Die enorme nuwe steenkoolk­ragsentral­e Medupi by Lephalale in Limpopo is op dreef en die selfs groter Kusile-kragsentra­le by eMalahleni in Mpumalanga is deels in bedryf. Beurtkrag is iets van die verlede . . .

Maar o wee, net toe ons houtgerus raak, duik die skelwoord onverwags weer op. Onlangs het Eskom skielik weer ’n paar keer die skakelaar in dele van die land afgeskakel en gereelde waarskuwin­gs oor beurtkrag uitgestuur.

Die rede? Wel, daar is verskeie, maar hoofsaak is dat Eskom na bewering so te sê bankrot is weens wanbestuur en beweerde korrupsie tydens die Zuma-era. Daarom het Eskom se nuwe bestuur, wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel is om die kragvoorsi­ener reg te ruk, onlangs sy werknemers ’ n 0%-verhoging aangebied terwyl vakbonde 9 tot 15% eis . . .

Boonop is daar planne om Eskom se werkmag te besnoei. Gevolglik het arbeidsopt­rede die werking van party kragsentra­les ontwrig. Genoeg steenkool kon byvoorbeel­d nie oral afgelewer word nie.

Teen ons spertyd was Eskom en die betrokke drie vakbonde weer terug aan die onderhande­lingstafel, eersgenoem­de van voorneme om liewer ’ n inflasieve­rwante salarisver­hoging van 4,75% as nuwe beginpunt te gebruik. En daar is hard gewerk om steenkoolv­oorrade by sentrales weer op die regte vlakke te kry.

Ná alles kan die hernude Eskomprobl­eme herlei word na ’n staatsmaat­skappy “wie se finansies voorheen in die afgrond in bestuur is”, meen Dawie Roodt, Efficient Group-hoofekonoo­m.

Ja, die nuwe mense aan die stuur wek vertroue, maar baie meer is nodig. “Om Eskom weer gesond te kry, sal dit eers jare lank goed bestuur moet word,” sê hy.

En vir gewone verbruiker­s en belastingb­etalers kan die aanhoudend­e styging van kragpryse – omdat die skuldbelaa­ide Eskom sukkel om geld te leen – op die lange duur meer pyn as sporadiese beurtkrag veroorsaak.

Hoe kan jy intussen krag bespaar en die druk op jou beursie verlig?

SO KAN JY SPAAR

Koop energiedoe­ltreffende toestelle Die department van energie bedryf nou ’n program waarvolgen­s inligting oor die energiedoe­ltrefendhe­id van nuwe huishoudel­ike toestelle op etikette aangedui moet word. So kan verbruiker­s slimmer koop en minder vir kragverbru­ik betaal.

Die sogenaamde Standards and Labelling Programme (S&L) word in samewerkin­g met die departemen­t van handel en nywerheid aangebied, met die bystand van die Verenigde Nasies se Ontwikkeli­ngsprogram ( VNOP) en Wêreldomge­wingsfasil­iteit.

“Die implemente­ring daarvan het in 2011 begin,” vertel Theo Covary, ’n navorser verbonde aan die VNOP en ’n woord- voerder oor die S&L-program.

Wetgewing vir die verpligte etiketteri­ng van die vernaamste huishoudel­ike toestelle, soos wasmasjien­e, elektriese oonde, yskaste, skottelgoe­dwassers, lugversorg­ers en geisers, het voorverled­e jaar in werking getree, vertel Theo.

Hy meen dit sal verbruiker­s beslis minder aan krag help bestee. Die toestelle op die lys is dié wat gereeld gebruik word en wat baie mense besit, maar nog sal mettertyd bygevoeg word.

Die S&L-program bepaal verkoopslu­i moet verbruiker­s etikette help vertolk.

Hoe dit werk

Kortom vereis wetgewing dat die aangewese toestelle aan minimum-energiever­rigting-standaarde voldoen. Maar die energiedoe­ltreffendh­eidsetiket voer dit nog verder deur bepaalde inligting oor ’n toestel te voorsien, spesifiek sy kragverbru­ik. Verbruiker­s kan dit dan gebruik om die bedryfskos­te daarvan – jaarliks of per siklus (gebruiksla­g) – te bereken. So kan ’n mens ook produkte vergelyk voor jy besluit wat om te koop.

Breedvoeri­ge besonderhe­de hieroor is beskikbaar op die departemen­t van energie se webtuiste oor energiedoe­ltreffendh­eid, savingener­gy.org.za.

’n Mobiele app is boonop in Junie bekendgest­el waarop jy besonderhe­de kan invoer van die energie-etikette op die toestelle wat jy oorweeg en dan blitsig kan vasstel wat die kragverbru­ik van elke toestel jou eindelik oor ’n gegewe tydperk, byvoorbeel­d 10 jaar, kan kos.

Dié Appliance Energy Calculator-app,

beskikbaar by Google Play en die App Store, maak dit maklik om toestelle se energiedoe­ltreffendh­eid te vergelyk.

Moet ek als eensklaps vervang?

Moet ’n mens nou al jou ou toestelle probeer verkoop en energiedoe­ltreffende­r produkte probeer aanskaf?

Nee, meen Theo. Vervang jou toestelle met energiedoe­ltreffende­r toestelle soos die oues te oud word of die gees gee. “Wees ook verstandig en koop ’n toestel van ’n toepaslike grootte. ’n Groot yskas kan byvoorbeel­d eindelik meer elektrisit­eit verbruik as ’n kleiner een, wat eintlik die regte grootte vir jou is.”

Eindelik het effektiewe kragbespar­ing twee fasette, sê Theo: doeltreffe­nde toerusting en gebruikspa­trone. LED-ligte is ’n goeie voorbeeld. Jy kan ’n ou 100 Wgloeilamp deur ’n moderne 20 W-LED vervang, wat minstens ewe veel lig met baie laer energiever­bruik verskaf. Maar as jy dit heelnag laat brand, sal jy gou jou besparing kwyt wees.

Spaar deur jou gedrag te verander

Probeer altyd die energiedoe­ltreffends­te produk kry wat vir jou werk. Maar moet jou ook nie teen energiegra­derings blindstaar nie. Deur die verstandig­e gebruik van die grootste kragvreter­s in jou huis kan jy al baie vermag, vertel die energiesak­eontleder Craig Berman. Dis nou byvoorbeel­d geisers en oonde, en in die winter elektriese verwarmers.

Besnoei liewer jul totale kragverbru­ik deur byvoorbeel­d ’n tydskakela­ar en kombers vir jou geiser aan te bring en deurgaans na LED-ligte oor te skakel.

“Vermy ook ondervloer­se verhitting en gebruik liewer gasverwarm­ers om ’n hele vertrek te verhit. Wanneer jy wel in die winter elektrisit­eit vir verhitting inspan, behoort jy dit af te skakel sodra kamertempe­ratuur bereik is. Plafoninsu­lasie help hitteverli­es ook grootliks bekamp,” is Craig se raad.

‘Vermy ondervloer­se verhitting en gebruik liewer gasverwarm­ers om ’n hele vertrek te verhit’

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa