Huisgenoot

Siek kinders in superhelde omskep

Baie kinders wat met ernstige siektes of afknouery moet saamleef, toon bomenslike krag. ’n Fotograaf beeld hulle as ikone uit

- Saamgestel deur SANDY COOK

‘Ek het na die regte Justice League gaan soek en hulle afgeneem. Die kinders wat ek en my span gekies het, het regtig bomenslike krag’

HULLE is die dapperste, die magtigste, die vinnigste, die slimste en die sterkste. Hulle kan enige boef aanvat en wen, en geen uitdaging is te groot om te oorkom nie. Superhelde speel al jare baas op die grootskerm én die kassie, maar vir die Amerikaans­e fotograaf Josh Rossi is hulle nie die eintlike helde nie.

Josh se helde is kinders wat teen degenerasi­esiektes veg en op skool afgeknou word. Toe besluit hy om te wys hoe hulle as superhelde lyk en sy projek het meer as 100 miljoen trefslae op YouTube.

“Baie van ons wil graag in die regte lewe ’n superheld wees,” sê hy op sy blog by fulltimeph­otographer.com. “Ons wil kan vlieg soos Superman, so blitsig wees soos The Flash en so sterk soos Wonder Woman.

“Maar party mense het reeds sulke superkragt­e. Ek het ’n ruk gelede na die regte Justice League gaan soek en hulle afgeneem. Die kinders wat ek en my span gekies het, is al deur hel en hulle het regtig bomenslike krag.”

Josh het met die hulp van sy vrou, Roxana, ses siek of gestremde kinders gekies om Justice League-superhelde te wees. ( Justice League is die 2017-fliek waarin net superhelde speel.)

“Roxana, wat die fotosessie­s georganise­er het, het weke lank gesoek tot sy hulle gekry het.”

Tydens die soektog het hulle besef baie kinders stry nie net teen ernstige gesondheid­sprobleme nie; van hulle word ook afgeknou. Toe pak Josh ’n twee- de projek aan wat deur die jongste Avengers-fliek, Infinity War, geïnspiree­r is en dié keer het hy oorlog teen afknouery verklaar.

Die foto’s beeld dié spesiale kinders uit as die superhelde wat hulle in die werklikhei­d is.

“Ek en Roxana het aan die begin nie die hartverske­urende besonderhe­de van elke kind geken nie.

“Ons het nie geweet Jackson Sommers leef sonder 35% van sy brein of dat kinders hom by die skool platgedruk en op hom gespoeg het nie. Ons het nie geweet Sydney Gerardis het selfdood oorweeg omdat die kinders gesê het hulle gaan partytjie hou as sy doodgaan nie.

“Ons het besef ons moet die kinders help om teen afknouery op te staan.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa