Alzheimersiekte steel my pa se kop
‘Ek is so jammer. Ek wil julle nie met hom agterlaat nie'
EK KON pa by die trap hoor afkom, ál nader. “Waar is jy, jou f***** dief ?” het hy geskree. “Jy dink jy kan by my huis inkom en my goed steel? Ek maak jou vrek, hoor jy my?” Toe hy die vertrek binnekom, duik ek agter die rusbank in. Ek kan sien hy hou ’n vleismes vas en het sy pantoffels verkeerdom aan. Hy kyk na die venster en loop dan terug kombuis toe.
Ek is vasgekeer. Ek kan nie die voordeur haal nie; hy sal my sien en voorkeer. En ek kan nie by die agterdeur uit nie, want dan sal ek by hom moet verbykom.
Toe hoor ek hom die ketel aanskakel en by homself mompel. Ek bid dat dit ’n oomblik sal wees wanneer hy vergeet. Ek kan hom in die kombuislaaie hoor rondkrap. Iemand klop aan die deur. Hy beweeg nie. Die een klop weer. Hy stap voordeur toe en maak dit oop. “Haai daar! Is jy oukei?” Dis die buurvrou. “Hallo daar, skat!” My pa se stem is sag en vaderlik, nie mal en moorddadig nie. “Hoe kan ek jou vandag help?”
“Ons . . . uhm . . . het ’n geraas gehoor en gewonder of jy oukei is . . . Hoekom het jy ’n vleismes in jou hand?”
“Vreemd genoeg het ek pas op ’n inbreker afgekom; ek probeer nou die klein f***** hier uitrook,” verklaar pa heel trots.
Die buurvrou het my net ’n halfuur tevore in die tuin gesien. Ek bid sy sal besef dit was ek en dat ek hulp nodig het. “Goed dan . . . kan ek jou help?” Sy weet, maar ek kan hoor sy is ook bang. “Laat ek inkom,” bied sy aan.
“Nee wat,” sê pa. “Ek sal haar net vrekmaak. Dis wat jy deesdae moet doen, nie waar nie? Jouself en jou gesin beskerm.”
Ek besluit om te vlug. Terwyl hy met die buurvrou praat, glip ek uit.
Toe ek eers buite is, slaak ek ’n sug van verligting. Al staan ek daar sonder ’n foon, beursie of geld, weet ek ek kan nie teruggaan nie. Ek strompel sonder skoene na my vriendin Kate se huis. Sy maak die deur oop en sien my daar staan, onversorg en met ’n betraande gesig.
Ons bel saam die plaaslike owerheid en die versorgingspersoneel van Alzheimer’s Support. Hulle raai my af om terug huis toe te gaan. Hulle sê ek moet my nie in gevaar stel nie, want ek kan maklik beseer word – en as dit gebeur, moet die polisie betrek word en kan my pa dalk in hegtenis geneem word.
MY PA, David Coles, was ’n sjarmante, intelligente man wat homself opgewerk het. Hy het mense laat lag en wonderlike dinge gedoen. Hy was ’n siviele ingenieur wat kragsentrales in tal-
le wêrelddele gebou het. Eindelik het hy in Pontypool, Wallis, beland. Hy het mense van krag voorsien. Hy het lig in hul lewe gebring. In myne ook, op ’n ander manier.
My ma het vir ’n liefdadigheidsorganisasie gewerk. Pa het in sy laat 50’s afgetree. Al het hy die vrye tyd geniet, het ons almal geweet hy wou nie ophou werk nie, maar sekere veranderings in hom het dit onmoontlik gemaak om voort te gaan.
Dit het met die ooglopende simptome begin: die herhaling van stories. Sy taal het ook kleurryker geword namate hy ál meer gefrustreer geraak het omdat hy nie die eenvoudigste dinge kon regkry nie.
“Terloops, pa, jy het jou trui verkeerdom aan,” het ek op ’n dag uitgewys. “Ag, f****,” was sy antwoord. “Moenie so met jou dogter praat nie!” het ma laat hoor en geskok gelyk al het hierdie taal deesdae ál meer opgeklink. “Jy kan ook f****,” het hy bygevoeg. Ek het nie geweet of ek moes lag of beledig voel nie.
’n Jaar nadat Alzheimersiekte by hom gediagnoseer is, het ek besluit om my werk as assistentmodeaankoper by ’n Londense afdelingswinkel te bedank en terug te keer na Wallis om ma vir pa te help versorg. Ek was 25 en kon min troos in die oppervlakkige, kunsmatige modewêreld vind nadat pa siek geword het.
Die vroegste fases van die siekte het pa waarskynlik die ergste van almal getref. Tog het dit mettertyd gelyk asof dit ál makliker vir hom en ál moeiliker vir ons word. Geleidelik, terwyl sy geheue weggekwyn het, het sy buie drasties begin verander.
Hy het ma op ’n keer gebel terwyl sy inkopies gedoen het. “Waar is my paspoort?” het hy gevra. “Uhm, ek weet nie, liefling, ek is nie seker nie – waarom wil jy dit hê?”
“Dis my paspoort. Ek mag dit mos sien wanneer ek wil,” het hy haar toegesnou.
Ma het dadelik besef pa beleef een van sy “episodes”. “Beplan jy om iewers heen te gaan, skat?” het sy geskerts.
Pa het die foon neergesit en al het ma hom ’n paar keer probeer terugbel, het hy nie geantwoord nie. Toe sy tuiskom, het ons huis gelyk asof dit geplunder is. Op die eetkamertafel was flenters papier van dokumente wat stukkend geskeur is, twee eetkamerstoele is op hul sy omgegooi en ’n paar kombuislaaie was oopgetrek. In die hoofslaapkamer is al die laaie uit die kas gepluk en hul inhoud deur die vertrek gestrooi. Van die laaie is middeldeur gebreek. In die bed onder die duvet was ’n hopie in die vorm van pa. Dit het effens beweeg, bewend en huilend. Ma het die kombers afgetrek en al was sy seker woedend, het sy sagkens met haar hand sy ken opgelig en sy gesig na haar gedraai. “Ek is so jammer,” het sy vir hom gesê. Want al was dit in soveel opsigte pa wat moes jammer sê, weet ek my ma het verskoning gevra vir die gedagtes wat in haar kop rondgemaal het. Sy was skaam dat sy so kwaad was vir iemand wat dit werklik nie kon verhelp nie. Soms was daar ook ligter oomblikke. Ons het een aand almal in die sitkamer na ’n sepie gekyk. Wel, ma het gekyk, pa het haar afgekraak omdat sy daarna kyk,
Onder die duvet was ’n hopie in die vorm van pa, bewend en huilend
en ek en my broer, Gareth, wat ’n paar dae lank tuis was, het nie kant gekies nie.
“As jy niks vriendeliks kan sê nie, hoekom gaan maak jy nie vir my ’n lekker koppie koffie nie,” het ma vir hom gesê.
’n Bietjie riskant, het ek gedink, maar hy is daar weg. Ek het die ketel minstens vier keer hoor kook. Ons het al byna van die koffieversoek vergeet toe pa die skuifdeur met sy voet oopstoot. Met ’n breë glimlag het hy binnegestap.
“Jou woord is my bevel,” het hy vir ma gesê. Hy het ’n skinkbord gedra waarop hy ’n sopbakkie vol stomende warm koffie gebalanseer het. “Vars uit die mikrogolf !” het hy trots verklaar en die skinkbord versigtig op ma se skoot neergesit en ’n vadoek en lepel te voorskyn gehaal.
Hy het haar op die kop gesoen en gaan sit. Toe kyk hy na die televisie en bulder: “Is hierdie k** steeds f***** aan?”
Ons het niks gesê nie terwyl my ma ’n hele sopbak vol koffie uit die mikrogolf eet/drink. Terwyl sy dit doen, het sy vir pa geglimlag en gepaste waarderende geluide gemaak.
Ek het ma baie jammer gekry. Dit was asof sy met ’n ander mens getroud was; haar man se verstand was daarmee heen, maar fisiek was hy nog dieselfde. Dit het soms nogal gevoel asof pa gehipnotiseer is – hy het nog presies soos altyd gelyk, maar die mens wat jy geken het, was weg. My ma het eenkeer in ’n seldsame oomblik van openhartigheid erken hoe vreemd dit was.
“Natuurlik het ek hom nog lief, in ’n sekere opsig, maar dis nie die mens op wie ek verlief geraak het nie; dis nie die man met wie ek getrou het nie,” het sy gesê.
METTERTYD het dit my verbaas hoe beskermend ek teenoor my pa geword het. Ek het nooit verwag ek sou so voel nie. Dit is ouers se taak om hul kin- ders te beskerm, nie andersom nie. e. Maar namate die situasie begin uitrafel het, het ek besef my pa is net ’n mens; nie ’n superheld of ’n god nie, en bowenal, nie net my pa nie, maar ’n doodgewone mens.
Ek wens ek kon sê dit was bevredigend om hom te versorg, maar dit was nie. Dit was hartseer, ’n verleentheid en ek wou dit nie doen nie. Ek het geweet hy sou dit ook nie so wou hê nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, dit het my geensins gegrief nie en ek sou nooit daarvan droom om van hom weg te gaan nie. Maar dit was moeilik.
Om alles te vererger is ’n aggressiewe velkanker sowat twee maande nadat ek teruggetrek het huis toe by my ma gediagnoseer. Sy moes dadelik hospitaal toe gaan vir ’n operasie en as dit nie werk nie, sou sy chemoterapie moes kry.
Ons het vir pa gesê sy is in die hospitaal vir ’n prosedure, maar blykbaar het hy nie verstaan sy is siek nie. Hy het teenoor ’n man in die poskantoor geskerts dat sy haar borste laat vergroot het. Ek wou hom met ’n koerant bydam.
Maar toe ons hom neem om haar in die hospitaal te besoek, het hy hewig ontsteld geraak.
Ek dink die werklikheid het toe tot hom deurgedring: Ma was regtig ernstig siek en hy kon niks daaraan doen nie. Hy kon nie eens na homself kyk nie, wat nog te sê na sy eie vrou.
Hy het haar hand vasgeklou en in ’n huilstem gesê: “Kom terug na my, my lief, kom asseblief gou terug.”
Dit was hartverskeurend, maar net ’n paar uur later was alle herinnnerings aan die roerende gesprek uit sy geheue gewis. Terwyl ek hom reggekry het vir slaaptyd, het hy my aangekyk en gevra: “Liefling, waar is ma? Hoekom is sy nog nie terug van die werk af nie? Het sy weggegaan?”
Dit het my stomgeslaan. Hoe sê jy vir jou pa met Alzheimersiekte dat sy geliefde vrou met kanker in die hospitaal is? Ek het my asem diep ingetrek.
Ondanks die chemoterapie het ma se gewasse versprei, en twee maande ná haar diagnose het ons uitgevind die kanker is terminaal. Die dokters het vir ons gesê hulle kan niks meer vir haar doen nie en het haar huis toe gestuur.
Pa was in die wolke om sy “meisie terug te hê”, maar het haar wel gevra hoe die bootvaart saam met haar vriende was. Sy het net geglimlag en vir hom gesê dit was heerlik.
Ma het in die volgende paar weke ál swakker geword. Toe die familie bymekaarkom om haar te groet, het sy ernstig met my en my broer gepraat.
“Julle kinders moet baie goed vir mekaar wees, hoor julle?”
Dit was asof ons weer kleuters was en uitgetrap word omdat ons baklei het.
“En julle moet omsien na jul pa en . . .” Sy het stilgebly en kon nie voortgaan met haar nuttige afskeidswenke vir die lewe nie. “Ek wil vir julle baie dankie sê. Ek is so jammer. Ek wil julle nie met hom agterlaat nie; julle behoort dit nie te moet doen nie.”
Ma het by die huis gesterf. Net voor ek en pa met haar begrafnis die kerk binne-