Uitgesproke Bheki nou polisieminister
Die uitgesproke oudpolisiekommissaris is terug as polisieminister – en hy is vol planne vir ons misdaadprobleme
IN SY helderblou pak en parmantige wit fedora lyk hy uitgedos vir ’n dag van sjampanje en fuif. ’n Mens sou dink hy is op pad na ’n polowedstryd of die perdewedrenne, maar nee . . . Dié modieuse man is belas met gewigtiger sake. Dis Bheki Cele – en hy is terug. Ja, ons gewese polisiekommissaris is weer in die tuig, dié keer in ’n selfs groter amp: as nuwe polisieminister.
Met die intrapslag in sy kantoor in die polisiehoofkantoorgebou in Pretoria is dit duidelik die handhawing van wet en orde hou Bheki druk besig. Hy het net 40 minute voor sy volgende afspraak om te gesels; dinge gebeur hier op ’n drafpas.
Hy lyk energiek en veel jonger as sy 66 jaar. “Daar is in elk geval nie tyd om oud of moeg te wees nie,” skerts hy.
Bheki is pas drie maande in sy amp nadat pres. Cyril Ramaphosa sy voorganger, Fikile Mbalula, afgedank het.
Die werk is ’n riller van ’n taak weens Suid-Afrika se hoë misdaadvlakke. Transitorooftogte, geweld teen vroue en kinders en misdaad onder die polisie is van die uitdagings wat hom tot laatnag besig hou, vertel hy. “Maar ek is reg vir die werk,” sê hy selfversekerd.
Is die hoë misdaadsyfers nie soms ontmoedigend nie? “Daar is nie tyd vir sit en tob nie. Ek kan iets daaraan dóén.”
Hy is nou selfs besiger as in die drie jaar dat hy polisiekommissaris was, vertel hy. Hy reis gereeld tussen sy kantoor in Pretoria en die parlement in die Kaap. Van sy vrou, Thembeka Ngcobo, 20 jaar jonger as hy, en hul huis in Durban kry hy bitter min te sien. Hulle is in 2010 getroud, maar Bheki het vyf volwasse kinders uit sy vorige huwelik.
“Ek sê jou: Ministersvroue het ’n moeilike werk. Hulle sien net hul man op die TV of in die koerant,” laat val hy en lag.
Van dié uitgesproke minister sien sy darem heelwat in die media, want hy duik steeds by groot misdaadtonele op, waar hy vure probeer blus. So is hy kort ná sy aanstelling na die Oos-Kaap, waar lede van die Mancoba-sekte vyf polisielede doodgeskiet het. Maar deesdae daag hy op in sy pierewaaierstyl en nie meer in ’n polisie-uniform nie.
WAAR Bheki op die rusbank sit, is sy flambojante klerestyl in skrille kontras met die vaal grys-en-blou skakerings van sy tipiese staats- amptenaarkantoor. Niks verklap iets van sy persoonlike styl nie. “Hier is dit net vergaderings, vergaderings, vergaderings,” sê hy, so asof hy die saai dekor probeer verklaar.
Hy lyk eers ietwat bedees. “Ek was gisteraand tot ná 11 by pres. Ramaphosa; so ek voel ’n bietjie moeg,” verduidelik hy.
Maar toe hy eers oor sy werk en die polisie se uitdagings begin praat, leun hy vorentoe en beduie geesdriftig.
Wat hy van sy uniformdae as polisiekommissaris mis, is om self in die veld te wees, daar waar polisiewerk aktief plaasvind, vertel hy. “Wanneer jy kommissaris is, word van jou verwag om jou hande vuil te maak. Ek mis dit,” sê hy.
As kommissaris was hy die mees senior polisiebeampte in die land; die opperbevelvoerder van die nasionale misdaadstryd. As kabinetsminister is hy die politikus wat moet sorg vir beleid om wetstoepassers vir hul taak toe te rus.
Deesdae sorg hy dat hy sy oor deurentyd op die grond hou, selfs al staan hy nie meer met sy voete in die veld nie.
“Daar was byvoorbeeld gister ’n transitorooftog in Germiston; die polisie het by mý daarvan gehoor. Mense oorval my met inligting, of dit nou mense in die privaat sektor of ooggetuies is. Dit hou die polisie op hul tone,” sê hy met genot.
Hy is in 2009 as polisiekommissaris aangestel, maar in 2012 het oudpres. Jacob Zuma hom die trekpas gegee weens bewerings van korrupsie teen hom.
Hy is destyds daarvan beskuldig dat hy ’n onregmatige huurooreenkoms van R1,7 miljard vir polisiekantore in Pretoria en Durban met die sakeman Roux Shabangu aangegaan het. Die destydse openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, het bevind hy het nie die regte behoeftebepalingsprosesse gevolg nie.
Oor die aantygings van korrupsie wil Bheki nie nou uitwei nie. Met ’n skouerophaal sê hy net: “Die polisie kort steeds twee nuwe kantore . . . Ek sou alles weer dieselfde doen.”
In die ses jaar ná sy afdanking as polisiekommissaris was Bheki die adjunkminister van landbou en aktief binne die ANC-partystruktuur.
Hy glo sy ervaring as kommissaris kom goed te pas in sy nuwe amp. Met ’n knipoog verklaar hy: “Hulle kan my nie om die bos lei nie.”
Na wie presies hy met die “hulle” verwys, is onduidelik . . . Hoe lyk sy aksieplan; wat is prioriteit? “Eers moet ons aandag aan die polisielede gee. Meer as 66 000 moes al bevorder geword het. Sommige wag al 15 jaar. Kan jy jou indink hoe hulle voel?”
Die gesloer met bevorderings was hoofsaaklik weens swak administrasie.
“Ons gaan 28 000 bevorder en binne die volgende drie jaar die res. Dis hoe ons hulle deel van ’n span laat voel.”
Hy soek ook meer vrouepolisiebeamp- tes te en het die opleidingstydperk van v nuwe rekrute verleng. “Ek het gesê ge ses maande opleiding plus ses maande m internskap is te kort. Ek het h dit verander na ’n jaar opleiding en ’n jaar internskap.”
Misdaadbekamping bly ’n groot uitdaging. ui Op die oomblik bepaal hy sy aandag veral by die vlaag transitorooftogte sit van die laaste tyd.
“Ons “vorder wat transitorooftogte betref,” be verklaar hy hoopvol. “Ons keer ke verdagtes aan en het nou toegewyde gew spanne. Ons het ook met die privaat pr veiligheidsbedryf beraadslaag oor beter samewerking.”
Hy glo motorkapings hou verband met transitorooftogte. “Hulle kaap duur motors om in transitorooftogte te gebruik. As ons transitorooftogte verminder, sal dié soort voertuigdiefstal ook daal.”
Een van sy grootste sorge is geweld teen vroue en kinders. “Dis die moeilikste misdaad om te takel. Ongelukkig neem ’n groot deel van die bevolking hierdie misdade nie ernstig op nie. Dis ’n bedreiging vir ons almal.”
Hy wil die hoë moordsyfer met sigbare polisiëring takel. Hy het opdrag gegee dat administratiewe polisiebeamptes hul lessenaar verlaat om te patrolleer.
En dan ook nog die misdaad in eie geledere . . . “Net gister sê ek vir polisielede: ‘Moenie betrokke raak by sulke goed nie. Moenie ons naam deur die modder sleep nie.’ ”
Ná sy afdanking het die polisie se topbestuur foute gemaak, glo hy. Hulle was te sag. “Hulle het die polisiemag probeer bestuur. ’n Mens bestuur nie die polisiemag nie; jy beveel hulle.” Hy was immers nog nooit ’n man wat doekies omdraai nie. Destyds was hy in die moeilikheid oor sy omstrede uitlating: “Skiet om dood te maak.”
Nou verklaar hy: “Ek het nooit gesê ‘skiet om dood te maak’ nie. Ek het gesê die polisie sal geweld gebruik, soos die wet ons toelaat, indien nodig. En daarby staan ek steeds. Die misdadigers moet weet ons is in beheer.”
Maar sy eintlike sterk punt is om met mense te kommunikeer en te onderhandel, meen hy. “Ek ontlont situasies; albei kante is bereid om met my te praat. Toe (die AWB- leier) Eugène Terre’ Blanche vermoor is, was ek die een wat met die familie en die Afrikaners gaan praat het om die vrede te bewaar.”
Hy verklaar die Marikana-slagting, toe die polisie tydens ’n protesoptrede in Noordwes 17 mynwerkers doodgeskiet het, “sou nooit onder my bevel plaasgevind het nie” omdat hy dit met onderhandeling sou probeer voorkom het.
Hy was onlangs in die nuus omdat hy sy privaat telefoonnommer aan die publiek bekendgemaak het. “Ons werk vir die publiek en hulle betaal ons salaris. Waarom kan hulle dan nie ons nommer hê nie? Al wat ek vra, is dat mense eers die gewone proses volg voor hulle my bel. Gaan eers na ’n polisiekantoor,” sê hy. En bel mense hom? Ja, lag hy. Die meeste mense bel net om te hoor of dit hy is wat antwoord. “Soms bel hulle sommer tweeuur snags en kan jy hoor hulle het lekker partytjie gehou. Dan sê hulle: ‘Minister, kom kuier saam!’ ”
HY MEEN polisiebeamptes moet fiks wees en sien nog te veel groot mae in uniform, maar erken hy moet self meer oefen.
Destyds as kommissaris het hy soggens om vyfuur gaan gim, van Maandag tot Donderdag. Maar deesdae kom hy dikwels nie daarby uit nie.
“Ek probeer, maar my dagboek is nie my eie nie. En wanneer daar ’n noodgeval is, moet ek gaan. Ek moet meer oefen. Pas verlede week het my vrou vir my gesê ek moet tyd daarvoor inruim . . . Ek dink sy probeer vir my iets sê,” skerts hy weer.
Die minister staan op om te groet. Hy trek die windmakerige wit fedora reg sodat dit presies só sit.
Voor sy vlug Durban toe, verduidelik hy, moet hy eers nog ’n vergadering inpas . . .
‘ ’n Mens bestuur nie die polisiemag nie; jy beveel hulle’