Huisgenoot

WEERSIENS NÁ SKEIDING VERSUUR

-

Ek was sewe toe my broer en susters van my weggeskeur is. Ons was saam in ’n kinderhuis, maar is toe van mekaar geskei. Ek het hulle ná langer as vier dekades opgespoor. Net my broer aanvaar my. My twee susters wil my nie ken nie, maar ek wil hulle graag weer sien. CJ op MP Wanneer ’n mens om aanvaardin­g pleit by mense wat jou verwerp, kan dit ’n uitgerekte proses word wat ál meer hartseer veroorsaak. As jy probeer verstaan waarom hulle jou nie in hul lewe wil verwelkom nie, sal jy miskien makliker afsluiting vind.

Soms wil mense hulself teen pylike herinnerin­gs beskerm en ontken hulle wat in die verlede gebeur het, veral as hulle nie met ander in hul lewe oop kaarte daaroor gespeel het nie. Selfs al het ’n mens bloedbande met hulle, leef sulke mense asof julle vreemdelin­ge vir mekaar is.

Ek kan my nie indink hoeveel pyn jy moet ervaar nie. Tog moet jy ’n rukkie langer aanhou uitreik op maniere wat vir almal aanvaarbaa­r is sodat jy kan weet jy het alles probeer om versoen te raak. Bepaal net ’n sperdatum wanneer jy jou sal onttrek en vrede met die feite probeer maak.

Jou broer kan dalk as middelman optree om jou saak by jou susters te stel. Waarom jy in voeling met hulle wil bly, moet duidelik aan hulle oorgedra word. Stel hulle gerus dat jy nie die verlede wil ophaal nie, maar hulle af en toe wil sien. Sê kalm wat jy verlang, sonder om daarop aan te dring om deel te word van hul lewe.

As misverstan­de opgeduik het in jou poging om met hulle versoen te raak, klaar dit op. Stel voor julle begin mekaar beter leer ken deur mekaar vir koffie te ontmoet. Wees bereid om vir eers net kennisse van mekaar te wees.

Om vrede te maak met die verlies van iets waarna jy lewenslank gehunker het, kan ’n lang pad wees wat jy nie alleen moet stap nie. Kry hulp by ’n berader wat dalk ook mettertyd as bemiddelaa­r tussen jou en jou susters kan optree.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa