WAT WYS NOG?
HEREDITARY Gruwel. Met Toni Collette, Gabriel Byrne, Alex Wolff en Milly Shapiro. Regisseur: Ari Aster. 16DGrTNG.
Waaroor gaan dit?
Die miniaturis Annie Graham (Collette) woon saam met haar man (Byrne), hul tienerseun (Wolff) en 13-jarige dogter (Shapiro). Ná haar ma se dood word Annie se smart verdiep deur ’n reeks tragiese gebeure. Namate die gesin se angs hulle tot op die randjie dryf, word donker geheime ontrafel terwyl hul herkoms aan die lig kom. Maar hoe meer hulle van hul sinistere lot probeer ontsnap, hoe nader kom hulle aan hul ondergang.
Is dit goed?
Aster se debuutrolprent is uiters ontstellend en onvoorspelbaar – eintlik dalk ’n bietjie te ontstellend. Stel jou voor: Jy is in die middel van ’n skrikwekkende nagmerrie, jou hart bokspring en jou vel is klam van koue sweet. Skielik lui jou wekker en Billy Ray Cyrus se Achy Breaky Heart speel. Die deuntjie dring jou droom binne en verander die gevoel van makaber en manies tot uiters absurd. Dit is die wese van Hereditary se derde bedryf.
Gelukkig vergoed die opbou van spanning oorgenoeg vir die vreemde einde. Alles van die meesleurende beelde tot die ysingwekkende klankontwerp en kamerahoeke is pragtig geskep om van die begin af die kyker se toenemende vrees en verwarring uit te buit.
Die akteurs se boeiende spel staan die meeste uit. Hulle tree as die volmaakte gidse op vir die uitgebreide doolhof van emosies waardeur die rolprent jou sleur. Dit is nie heeltemal die nuwe The Exorcist (1973) soos wat baie resensente verklaar nie, maar dié besonder senutergende ervaring is lofwaardig uit eie reg.