Springs-‘monster’ se eks verloof
Die vermeended Springs-monster en sy vrou se huwelik h is verby, en sy is weer verloof
‘Ek sal jou nooit los nie, my sexy, my hart klop net vir jou’
TERWYL hy in aanhouding was, het sy liefdesbriewe op pienk papier aan hom geskryf. Dit was nadat hulle eers albei afsonderlik verhoorafwagtend agter tralies was ná meer as 20 jaar saam. “Ek is so lief vir jou, my sexy. Ek sal jou nooit los (nie), my sexy, my hart klop net vir jou, my sexy. PS:Iloveyou,” skryf sy in een van die briewe wat later voorgelees is in die hof, waar hulle saam verhoor is.
Maar daardie liefde was van korte duur.
Want die vrou van die OosRandse man wat sy kinders na bewering jare lank in die berugte gruwelhuis in Springs aangerand en mishandel het, het van hom geskei – en sy is nou aan haar eksman se neef verloof.
“Sy is die liefde van my lewe,” sanik haar eks deur die dik glas wat ons van mekaar skei in die besoekhokkie van die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria. “Ek het alles vir haar gedoen.”
Hy sê dít nadat ’n sielkundige onlangs in die hof getuig het sy eksvrou ly aan mishandelde-vrou-sindroom en dat sy nie destyds teen hom kon optree nie weens die “verskriklike geweld” wat hy teen haar gepleeg het.
Die ouerpaar staan in die hooggeregshof in Pretoria tereg op aanklagte van onder meer kinderverwaarlosing en -mishandeling nadat hulle in 2014 in hegtenis geneem is.
Die land het destyds gesidder toe hul beweerde gruweldade en die haglike omstandighede van hul huis in Springs op die lappe kom nadat een van hul vyf kinders uit die huis ontsnap het. Terwyl die pa sedert hul inhegtenisneming agter tralies sit, is die ma destyds binne twee weke op borgtog vrygelaat.
Sy het hom sowat 18 maande lank gereeld in die tronk besoek. Maar die besoeke het eindelik opgehou. En toe, uit die bloute, kom die egskeidingsbrief . . . Die man moes by ’n vriend, wat hom in die gevangenis besoek het, hoor sy eksvrou is nou aan sy neef verloof.
Nou is die beskuldigdebank die enigste plek waar die vermeende monster van Springs sy eksvrou sien.
“Toe hy (die neef) laas in die hof was, kon hy my nie eens in die oë kyk nie,” vertel hy omgekrap.
Die voormalige egpaar se name mag kragtens die wet nie gepubliseer word nie om die identiteit van hul minderjarige kinders te beskerm.
Hulle sal in Augustus weer voor regter Eben Jordaan verskyn.
Hy wag vir dié dag, sê die man in die gevangenis se besoekhokkie. Want hy wil sien of sy eksvrou se nuwe liefde ook daar gaan wees – en of hy hom dié keer in die oë kan kyk.
VOLGENS getuienis voor die hof was die lewe van die ouerpaar se vyf kinders – twee seuns en drie dogters – jare lank ’n haas ondenkbare hel. Hy, die pa, staan tereg op 22 aanklagtes. Sy, die ma, op 20 aanklagtes. Albei ontken skuld, maar volgens die staat het hulle saam dwelms gebruik en die kinders mishandel.
Die kinders se hel het eers geëindig toe die oudste seun in 2014 uit die groot siersteenhuis in Springs ontsnap en by die bure gaan hulp soek. Die ander kinders is toe deur die polisie uit die stink, rommelgevulde huis bevry.
Ná hul inhegtenisneming is die pa in die Modderbee-gevangenis naby Springs en die ma in die Johannesburg-gevangenis, bekend as “Sun City”, aangehou.
Dit is kort hierna dat sy die liefdesbriewe aan hom geskryf en vir hom gegee het wanneer sy kom kuier.
Hy het daardie briewe op pienk papier oor en oor gelees, sê hy.
Die man het nie aansoek om borgtog gedoen nie – glo omdat hy gehoop het dit sal haar kanse op borgtog versterk. Sy is ná twee weke op borgtog van R2 000 vrygelaat.
Ingevolge haar borgvoorwaardes mag sy nie hul kinders sien nie.
Drie van die kinders is in ’n staatskinderhuis en twee in pleegsorg.
“Die eerste 18 maande ná my inhegtenisneming het sy my drie keer per week in die tronk besoek. Elke Maandag, Dinsdag en Donderdag. Soms het my neef selfs saam kom kuier,” vertel die man verbitterd.
Hy sê hy en sy neef was na aan mekaar, want dié het sewe jaar lank vir hom gewerk.
Maar sy het “ewe skielik” opgehou om vir hom te gaan kuier. Sommer net so sonder enige verduideliking, sê hy vies.
En op 21 Julie 2016 is hy na die gevangenis se kantoor geroep, en daar op die lessenaar lê die skeibrief. “Ek kon dit nie glo nie, maar ek het geweet dit help nie om te baklei nie.”
Nadat hul egskeiding afgehandel is, het hy by ’n vriend gehoor sy eksvrou en neef is verloof. Hy was geskok en het verstote gevoel, vertel die man wat sy vrou na bewering mishandel het.
Hy het selfs drie keer sy eie lewe probeer neem, sê hy.
Eindelik het hy gevra om na die Kgosi Mampuru II-gevangenis oorgeplaas te word “omdat Modderbee net te veel herinnerings vir my ingehou het”.
Vir ander mense was dié verlowing g’n verrassing nie. “Sy en die neef het al ’n ding aangehad terwyl sy nog getroud was – destyds toe die neef nog vir haar man gewerk het,” beweer ’n vriendin van die eksvrou.
“En hulle was al saam nog voor sy geskei is; net nadat die saak die eerste keer in Pretoria voorgekom het.”
Volgens dié vriendin bly die verloofde paartjie nou op ’n kleinhoewe buite Brakpan saam met verskeie familielede van haar eksman.
Die vriendin vertel die neef sukkel om te loop nadat hy sewe jaar gelede sy been in ’n motorfietsongeluk beseer het. Hy het drie kinders van sy eie en is, nes sy nuwe verloofde, werkloos.
“Hulle lyk gelukkig saam . . . Maar weet jy, as jy haar sien, soek jy maar altyd (haar eksman) – ’n mens is gewoond aan hulle twee saam. Hulle was tog op ’n tyd gelukkig,” sê die vriendin.
Ander is meer krities. “Om eerlik te wees, ek dink die verhouding is ’n
cover-up,” meen iemand wat die Springspaar ken.
“Sy is net by hom (die neef ) sodat hy nie teen haar getuig nie. Hy weet baie van wat in daardie huis gebeur het . . .”
Die neef het destyds op die perseel van die Springs-gruwelhuis gewoon.
Nog ’n kennis glo die nuwe liefde sal nie lank hou nie. “Hou dié ruimte dop . . . Wanneer (haar eksman) uit die gevangenis uitkom, gaan sy die neef net so drop en na hom toe terughardloop.”
Die eksvrou en haar verloofde wou nie met Huisgenoot praat nie.
HIER waar hy in die besoekhoekie na sy eksvrou verlang, sê die Springs-pa gedurig hy het foute gemaak in sy verhoudings met sy eksvrou en hul kinders. Maar die woord “jammer” kom nie oor sy lippe nie.
Sy enigste woorde van berou is oor die gevolge wat sy beweerde misdade vir hom inhou. “Ek het alles verloor . . . My vrou. My kinders. Hulle was my alles. My hele bestaan.”
Tog het die hof gehoor hy het een wintersnag een van sy jong seuns vasgemaak en met water natgegooi. En dat hy die kind, wat hy glo sedert die ouderdom van vyf gemartel het, met pepersproei gespuit het.
By nog ’n geleentheid het sy eksvrou en een dogter hom glo gehelp om een van die seuns se kop onder die water te druk en daar te hou.
“Ek wens ek het daardie tyd van beter geweet,” soek hy nou na verskonings. “Maar ek het nie.”
Hy weet hy sal lank in die tronk sit as hy skuldig bevind word. Maar hy sê hy bid steeds sy eksvrou word onskuldig bevind op die 20 klagte teen haar.
En dan, byna asof hy nie besef hoe die werklikheid nou om hom uitspeel nie, sê hy: “Ek hoop sy sal dan kan seker maak als is reg met ons kinders.”