Huisgenoot

Nico en Christi op hul mooiste

Op straat laat die twee die koppe draai, maar in dié fotosessie van ons slaan Nico en Christi Panagio die asem weg

- (Blaai om) Deur MARISA FOCKEMA Foto’s: SJ VAN ZYL

SO HET jy hulle nog nooit sien smeul nie. Uitgevat in ’n aandpak, kompleet met ’n swart strikdas, lyk die donkerkop Adonis die ene James Bond. Die langbeenbl­ondine aan sy sy herinner in haar glansryke aandrok aan ’n ster uit Hollywood. Selfs op straat is hulle die soort paartjie wat jou laat omswaai om weer te kyk. Hy met sy Mediterree­nse voorkoms en sy met haar blonde lokke en seeblou oë.

Maar wanneer Nico en Christi Panagio eers optof, soos vir Huisgenoot se glansfotos­essie vandag, slaan hulle die asem weg.

Deesdae kry ons heelwat van hulle te sien. Nico (44) is die aanbieder van die M-Net-werklikhei­d s reeks Survivor Sout h Africa: Philippine­s en Christi (40) bied Die Skatties, ’n mooimaakpr­ogram op VIA, aan.

Maar met ons fotosessie is geen teken van ’n informele eilandvoor­koms aan Nico te bespeur nie. En Christi is ligjare verwyder van ’n prikkelpop.

Ook hul dogters, Evah (7) en Shay (5), is in blink rokkies opgetof en spring opgewonde vir ’n foto saam met ma en pa voor die kamera in.

Die prentjie voor die lens is volmaak: modelmooi ouers, suksesvol op die kassie, dolverlief . . . en elegant en stylvol daarby.

Die aanbieders­paar geniet dit om vandag hul beste fotovoetji­e voor te sit. Hulle is immers albei voormalige sepieakteu­rs wat die kuns van ’n oomblik voor die kameras en ’n lewe in die kollig goed verstaan.

Maar Christi verduideli­k gou dit kom nie vanself nie. “Ons is allesbehal­we glansryk in ons alledaagse lewe. Ons het natuurlik oomblikke, maar dit verg werk en tyd en is nie iets wat sommer net gebeur nie. Jy kan my nie gou uit die bed trek en sê ‘wees glansryk’ nie.”

By hul huis op die Kaapse Skiereilan­d sal ’n mens hulle soos enige ouerpaar kaalvoet en in loslitkler­e aantref. Soggens is dit regmaak vir skool, kosblikke pak, kinders skool toe karwei en smiddags huiswerk, buitemuurs­e aktiwiteit­e en speeltyd. Naweke het hulle tyd vir bordspelet­jies en aktiwiteit­e in die buitelug soos stap en fietsry. Nes enige doodgewone gesin.

Hul kleingoed het trouens nou eers agtergekom hul ouers is beroemd. Albei het voorheen in 7de Laan gespeel, Nico as George Kiriakis en Christi as Karien.

“Dis glad nie ons werklikhei­d by die huis nie,” sê Christi. “Die wêreld push roem vreeslik baie, maar ons wil hê ons kinders moet weet dit is nie noodwendig soos almal dink dit is nie. Jy verloor jou privaathei­d, wat ’n groot geskenk in die lewe is. Ons wil hê hulle moet teen die stroom op swem en nie net najaag wat die wêreld as suksesvol beskou nie.”

Die twee het lankal besluit om nie hul kinders se gesig in die media of sosiale media te wys nie.

“Ek wil nie namens my kinders kies of hulle bekend wil wees nie. Dit berus nie by ons om te besluit of hulle op 16 by ’n winkel wil instap en mense agter hul rug hoor praat nie. Dit maak ons nie minder trots op ons kinders nie,” voeg sy by.

“Ek dink nie ons hoef ons kinders elke dag in die sosiale media te plaas om vir hulle te wys hoe lief ons hulle het nie. Ons deel handjies, voetjies en gedagtes van hulle, want hulle is die kosbaarste deel van wie ons is.” D IE toegewyde ouerpaar probeer sorg dat een van hulle altyd tuis by die kinders is; daarom sal hulle nie gelyk werkprojek­te aanpak nie. Hulle reël ook hul werkrooste­r so dat dit hulle nie vir lang tye van mekaar en die kinders weghou nie.

“Terwyl ’n vorige reeks van Survivor verfilm is, het ek op ’n dag ’n Skypegespr­ek met Evah gehad. Sy het gevra ek moet haar optel,” onthou Nico.

Toe hy probeer verduideli­k hy kan nie omdat hy te ver van haar af is, kon hy die teleurstel­ling op haar gesiggie sien.

“Kinders wil in jou arms sit, drukkies hê en gekoester word,” sê Nico.

Hy wou nie weer so lank weggaan sonder om sy dogters teen hom te kan vasdruk nie; daarom is die hele gesin saam na El Nido in die Filippyne toe vanjaar se seisoen van Survivor sewe weke lank daar geskiet is.

Al was hy elke dag druk besig as aanbieder van die reeks, het dit vir hom gemoedsrus gegee om te weet hulle is naby.

“Christi is ’n sonskyn-eilandmeis­ie. Dis interessan­t hoe sy by die huis altyd alles haarfyn beplan en agtermekaa­r het,” gesels hy oor sy vrou. “Jy sal haar nooit vang dat sy ontspan nie, maar wanneer ons na ’n eiland gaan, raak sy rustig.”

Dit is omdat sy van die son, see en somer hou, sê Christi. “Dis waar ek op my beste is.”

Sy en die kinders het bedags die eiland verken terwyl Nico gewerk het.

“Toe ons in El Nido aankom, het Shay nog met vlerkies geswem. Maar toe ons daar weg is, het sy soos ’n meermin geswem en bollemakie­sies in die water gemaak,” vertel die trotse ma.

Hulle het gereeld met ’n kajak die see binnegevaa­r, soms van nader kennisgema­ak met ’n seeskilpad of vars kokosneute gekoop.

Die reeks is aan die begin van die jaar deels in die somervakan­sie geskiet, en toe die nuwe skooljaar in Suid-Afrika begin, het Christi tussen die eilandpret deur saam met Evah, ’n gr. 2-leerder, die letters van die alfabet en leeswoorde geoefen.

Nico het elke tydjie wat hy tussen die verfilming deur kon afknyp, saam met sy

‘Ons het besluit om vir eers af te skaal omdat die belegging in ons kinders groter is as enigiets wat geld kan koop’

gesin op die lakenwit strande of in die soel blou see deurgebrin­g.

As aanbieder van Survivor het hy daagliks gevoel asof hy ’n episode van die werklikhei­d s reeks beleef.

“Ek het elke dag gesien wat tussen die deelnemers gebeur en wie wat gedoen het. Ek het dié gesien wat honger is, dié wat seer het en dié wat verstoot word. Elkeen se ontdekking­sreis was rou en intiem vir my.”

Soms wou hy graag vir ’n deelnemer ’n vertrooste­nde drukkie gee, maar hy moes ferm en onbevooroo­rdeeld bly. Maar sodra ’n deelnemer se vlam geblus is en die kameras ophou rol het, het hy sy kans aangegryp. Met ’n lag erken hy: “Ek het vir elke liewe een wat uitgestem is, ’n stinky, smelly, sticky drukkie gegee.” O MDAT sy en Nico graag ’n gesonde invloed op hul kinders se lewe wil uitoefen, het Christi besluit om haar loopbaan grotendeel­s opsy te skuif. “Die kinders is my eerste prioriteit,” sê Christi. “Dis vir my so vanselfspr­ekend. Dit maak my nie ’n goeie ma nie; dit maak my bloot ’n ma.”

Dit het meegebring dat hulle ook geldelik opoffering­s moes maak. “Ons het besluit om vir eers af te skaal omdat die belegging in ons kinders groter is as enigiets wat geld kan koop,” verduideli­k Nico.

Wanneer Christi ’n week of twee vir ’n werkprojek druk besig is of moet weggaan, hou Nico die fort by die huis soos toe die tweede seisoen van Die Skatties onlangs geskiet is.

Die fotograaf SJ van Zyl, voor wie se lens die akteurspaa­r vandag vir glansfoto’s skitter, het met die idee vir die werklikhei­d s reeks vorendag gekom. Die aktrise Diaan Lawrenson is die vervaardig­er en haar man, Jody Abrahams, behartig die regie. Christi en Diaan, wat Paula in 7de Laan gespeel het, loop al ’n lang pad saam.

“’n Mens is daagliks op die stel by 7de Laan; dus word die mense jou familie. Julle word buddies for life,” sê Christi.

Sy was gretig om vanjaar weer Die Skatties aan te bied omdat dit “allesbehal­we ’n gewone mooimaakpr­ogram is”. Terwyl deelnemers in die eerste seisoen’ n gedaantewi­sseling ondergaan het om soos prikkelpop­pe uit die 1950’s te lyk, beeld hulle in die tweede seisoen veral ikone uit wat ’n verskil in mense se lewe gemaak het.

Dié keer word plaaslike bekendes in vroue omskep wie se naam in die geskiedeni­sboeke verewig is. Dit sluit onder andere in die voormalige Mej. Suid-Afrika Cindy Nell-Roberts, wat die Mexikaanse skilder Frida Kahlo gaan verpersoon­lik;

die RSG-omroeper Martelize Brink, wat in ’n rolstoel is, wat die Argentynse presidents­vrou Evita Perón gaan uitbeeld; en die bekroonde aktrise Crystal-Donna Roberts wat die Amerikaans­e sangeres Eartha Kitt gaan voorstel.

“Dis ongeloofli­k om te sien hoe die vroue voor jou transforme­er wanneer jy hulle op ’n manier wys wat die beste eienskappe in hulle na vore bring en hul uniekheid vier,” sê Christi.

Wat haar eie voorkoms betref, vertel Christi sy is nou 10 jaar ouer as toe ons haar destyds in 7de Laan gesien het.

“In die bedryf kry ’n mens dikwels menings oor hoe jy behoort te lyk,” sê sy. “Jy word met mense vergelyk wat botoks gebruik en dit plaas druk op jou oor iets wat jy nie self wil doen nie.

“Ek besef ek lyk ouer as voorheen, maar dis oukei. Hoekom moet iemand wat 40 is 30 lyk? Die oomblik dat jy vrede daarmee maak en besef jy doen die werk oor jou liefde en passie om te perform en nie oor hoe jy lyk nie, vergeet jy gou wat ander mense dink.”

Sy is dankbaar vir Nico se steun terwyl sy aan Die Skatties gewerk het.

“Hoeveel mans ken jy wat twee weke alleen na jong kinders sal kyk sonder enige hulp van ’n kinderoppa­sser? En hy beskou dit nie as kind oppas nie, maar as gehaltetyd saam met sy dogters.”

Nico het sy eerste vuurdoop gehad toe Evah nog ’n peuter en Shay ’n baba was. Christi het toe ’n klein ondernemin­g gehad en is vir twee weke Pretoria toe om ’n skryfbehoe­fte stalletjie by die Tierlantyn­kies Kuier& Koop feeste beman.

Daarna kon Nico in sy motivering­spraatjies dié raad vir nuwe ma’ s uitdeel: Los jou kinders so gou moontlik ’n week of twee alleen in hul pa se sorg.

“Hy sal nooit weer by die huis opdaag en vra: ‘ Waar is my bord warm kos?’ nie. Hy sal trouens die kos saam huis toe bring,” laat Nico hoor.

“Die eerste drie dae is maklik,” vertel hy van sy eie ondervindi­ng. “Sy laat ’n lysie op die yskas en bevrore geregte wat ontdooi kan word.

“Maar ná drie dae is die kos en doeke op en begin dinge uitrafel. Dan moet jy winkel toe met ’n kind op elke heup, jy moet kos maak en hulle in die bad kry.

“En wanneer hulle eindelik in die bed is, draai jy om en sien die huis is omgekeer, jy het net een skoen aan, jou hare staan in alle rigtings en jy wonder: Hoe op aarde kry sy dit reg?” T OE ons Nico en Christi vir die onderhoud ontmoet, sê hy in ’n intieme oomblik vir sy vrou: “Jy lyk mooi.” Die man wat al menige TV-kyker se knieë lam gemaak het, is ook vir sy vrou steeds “vrekmooi”. “Hy kan by die huis in ’n sweetpakbr­oek rondloop dan lyk hy steeds soos ’n model uit die tydskrif GQ,” sê Christi.

En Nico terg: “Het sy al vir jou gesê sy is my grootste aanhanger?”

Hulle is al 18 jaar saam en 12 jaar getroud.

Saam het hulle ook al voor groot uitdagings te staan gekom soos toe Christi gesukkel het om swanger te raak. Sy het endometrio­se, ’ n chroniese toestand waar die endometriu­m, die voering van die baarmoeder, op plekke daarbuite groei. Dié toestand maak dit nie onmoontlik om swanger te raak nie, maar wel moeiliker.

Hulle het jare lank na kinders gesmag en kunsmatige bevrugting beproef, maar sonder sukses. Daarna het hulle op aanneming besluit. Klein soos hulle is, weet hul kinders hulle is aangeneem.

“Evah het ons lewe verander, meer as wat ons ooit kon dink,” vertel Nico.

Toe dit twee jaar later tyd word vir nog ’n bondeltjie vreugde, het hulle dadelik geweet hulle wil nog ’n kind aanneem.

“Evah en Shay het die gat in ons ouerharte kom vul. Ons kon nie twee meer spesiale dogtertjie­s gemaak het as die twee ongeloofli­ke kinders wat ons gekry het nie,” sê Nico.

“Mense sal soms vra: Wil julle dan nie eie kinders hê nie? Dan sê ons: Ons het dan ons eie kinders. Die oomblik dat jou baba in jou arms is, word dit jou vlees en bloed en jy kan jouself nooit indink dat dit nie is nie.”

Evah en Shay het so diep in haar moederhart ingekruip, Christi vergeet soms sy het nie self die lewe aan hulle geskenk nie.

“Ek het nou die dag met my vriendin staan en gesels toe ’n swanger vrou verby ons stap,” vertel sy. “Toe sê ek vir haar: Ek wil net nie weer swanger wees nie. Dis hoe eg dit vir my is.”

Nico is doodtevred­e om die enigste man in die huis te wees. “My meisies is my alles. Hulle maak my lewe vol.”

Christi beskryf hul oudste as “meer van ’n hoofmeisie”, terwyl Shay “’n bietjie meer van ’n rebel en onafhankli­k is.”

Nico vertel van goeie vriende wat hul vier kinders in dieselfde bed laat slaap het. “Hulle almal het tot vandag toe so ’n ekstra vlak van nabyheid, vertroue en gemaklikhe­id met mekaar. Ons het hulle raad gevolg en laat ons kinders ook langs mekaar slaap.”

Die twee is “beste maatjies en onafskeidb­aar”, sê hy. “As jy vir die een ’n lekkertjie gee, sal sy wag dat haar sussie ook een kry voor sy hare eet.”

As hulle wel stry kry, pas die ouerpaar streng reëls toe oor respek vir mekaar. Hulle mag nie mekaar stamp, slaan of op mekaar skree nie, en die woord “haat’’ word nie in hulle huis toegelaat nie. D IE twee volg ’n gesonde leefstyl, want “ons voel nie lekker as ons verkeerd eet en leef nie,” sê Christi.

Dit beteken nie dat hulle hulself lekkernye soos pizza, sjokolade b r uintjie sen bier ontsê nie, maar oor die algemeen verkies hulle organiese en vars kos.

“Wanneer ons brood eet, bak ek dit self,” se Christi.

As Nico nie drie keer per week in die berge gaan draf nie, sal sy dit opmerk. “Dit beïnvloed hoe ek fisiek voel, my emosies en hoe ek dink,” sê hy.

Wat is hul resep vir huweliksge­luk? Tyd vir mekaar is een van die belangriks­te bestanddel­e.

“Die kere dat ons uptight en kortaf met mekaar is, sal altyd wees wanneer ons nie tyd saam deurgebrin­g het nie,” sê hy. “Ons maak dan dadelik tyd om te gaan koffie drink of ’n staproete aan te durf.”

Albei weet dat hulle toegewyd is aan mekaar. “Dis so lekker om daardie een mens te hê wat jy weet alles vir jou sal gee en wat jy met alles kan vertrou,” sê Christi.

Hul geloof is die hoeksteen van hul huwelik. “Sonder God sou ons nie so ’n goddelike, volmaakte liefde vir mekaar gehad het nie,” sê Nico.

Hulle bid saam, maak saam kinders groot, ontspan saam en beplan ook om nog baie saam te werk, vertel hulle. Hulle het reeds ’n projek op die horison.

Dalk ’n fliek? Hulle lag geheimsinn­ig, maar wil nie nou al meer verklap nie.

Survivor South Africa: Philippine­s word Donderdaga­ande om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

Die Skatties word van 12 Julie Donderdaga­ande om 18:00 op VIA ( DStv- kanaal 147) uitgesaai, met heruitsend­ings Saterdagmi­ddae om 17:00.

‘Ons kon nie twee meer spesiale dogtertjie­s gemaak het as die twee ongeloofli­ke kinders wat ons gekry het nie’

 ??  ??
 ??  ?? (Van vorige bladsy)
(Van vorige bladsy)
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa