Alzheimerlyers verg spesiale begrip en onkritiese steun
DIS
waar wat oor alzheimersiekte gesê word: Dis asof iemand in die familie gesterf het, hoewel die mens in die vlees nog leef. Daardie geliefde word soos ’n vreemdeling in jou huis.
Maar hoe maak ’n mens vrede met hierdie vreemdeling in jou midde, hierdie mens wie se emosies heeltyd wipplank ry tussen “normaal wees,” kwaai vergeetagtigheid en woedeuitbarstings? Dis genoeg om enigiemand te ontsenu.
Twaalf jaar gelede het ek ’n kompleks vir verswakte alzheimerlyers op die been gebring. Dit was ’n konsep wat by die lyers sowel as hul families byval gevind het, want die kompleks lyk en funksioneer nie soos ’n inrigting nie.
Die plek is wel baie arbeidsintensief, want alzheimers is so ’n degenererende siekte en daar moet dag en nag personeel wees om die lyers te versorg. Namate hulle verswak, kan hulle nie meer na hul eie higiëne omsien nie, en later moet hulle selfs gevoer word.
In die laaste stadium van die siekte is die lyers pal in die bed; hulle moet dus elke twee uur omgedraai word om bedsere te voorkom.
Ons hanteer die lyers met die grootste respek. Ons het ook vasgestel ’n mens moet glad nie met alzheimerlyers redeneer nie, al is hulle volgens jou onredelik. Jy gaan eenvoudig na die metaforiese “plek” waar daardie pasiënt in daardie oomblik is. Wees instemmend. Stel hulle gerus. Wees beskikbaar vir die lyers, maar ook die geliefdes.
Die pad wat ’n mens met hulle stap, is soms kort en soms lank, maar altyd moeilik. Dit is pynlik vir die families, en elkeen hanteer die verlies van wie die mens was op hul eie manier. Geen kritiek nie; wees net in die oomblik. STAFVERPLEEGSTER, KRUGERSDORP