Huisgenoot

SLAAPLOPER WIL TOT RUS KOM

-

V Ek loop in my slaap. Ek was by my dokter en het medikasie daarvoor gekry. Ek het die pille gedrink, maar dit het weer gebeur. Is dit geneesbaar, en wat veroorsaak die probleem? MOEDELOOS

A Sommige kenners meen sowat 4% van alle volwassene­s loop die een of ander tyd in hul slaap. Gewoonlik het slaaploper­s geen onderligge­nde psigiatrie­se of sielkundig­e probleem nie. Die snellers daarvoor is dikwels slaapontbe­ring, ’n deurmekaar slaaproost­er, medikasie soos antihistam­iene, onderligge­nde mediese probleme soos slaapapnee, ’n vol blaas of stimulante soos alkohol.

As jy jou patroon van slaapwande­lings kan aanteken en bestudeer, kan dit jou help om ’n einde aan dié gewoonte te maak. Jy sal op ’n huismaat moet staatmaak vir inligting oor die tye en datums waarop jy in jou slaap geloop het. Teken dit aan saam met enige faktore in jou lewe wat daartoe kon gelei het. Op dié manier kan jy moontlike snellers soos werkstres identifise­er.

’n Rustige slaapomgew­ing verhoog die kans op gehaltesla­ap. Probeer ’n goeie nagrus verseker deur die uur of wat voor slaaptyd die skerm van jou selfoon, tablet of rekenaar te vermy. Skakel elektriese toestelle soos die TV in die slaapkamer af wanneer jy gaan slaap. Die blou lig wat dit uitstraal, verhinder dat jy rustig word.

Leefstylaa­npassings soos om nie smiddags ná drieuur te slaap nie, kan ook help. Moet geen stimulante voor slaaptyd gebruik nie, veral nie alkohol nie. As jy rook, kan dit ook ’n invloed hê.

’n Goeie mediese ondersoek kan help om mediese redes uit die weg te ruim. Jou medikasie om slaapwande­lings uit te skakel kan aangepas word as die middels wat jy nou gebruik nie help nie. Dit kan ook wees dat medikasie wat jy vir ander kwale gebruik, jou slaap benadeel.

Ter wille van jou eie veiligheid, hou alle deure gesluit en sorg dat niks op die vloer om jou bed rondlê waaroor jy kan struikel nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa