Huisgenoot

MISLUKTE HUWELIK BLY SPOOK

-

Ek is ’n paar jaar gelede geskei, het twee tieners in die huis en oorleef net-net. Ek bly hartseer oor wat tussen my en my eks gebeur het. Ek wil vorentoe beweeg, maar weet nie hoe nie. Boonop het ek nie geld vir ’n sielkundig­e nie en ek praat nie uit die huis teenoor familieled­e nie. Ook wil ek nie my kinders belas nie. Ek voel so verlate en alleen.

MC op PRW

Emosionele wonde uit die verlede weens verwerping, verlating, verwaarlos­ing en onsekerhei­d kan ernstige probleme in ’n mens se gemoed veroorsaak as jy dit nie by die naam kan noem en die gevoelens een vir een verwerk nie. Dis moeilik om woede hieroor af te skud en dit kan jou lewe en hart op die lang duur beïnvloed.

Om emosioneel heel te wees en vry van die seer van die verlede te leef bring positiwite­it in jou lewe en ’n nuwe uitkyk op ou probleme. Wanneer jy op jou hartseer oor die verlede fokus, veroorsaak jy net meer seer vir jouself en ander. Seer mense maak seer.

Maar as jy in jou lewe op herstel fokus, sal jy meer emosionele genesing ervaar.

Dit beteken ook jy moet die identiteit agterlaat wat jy in die verlede weens jou seerkry gehad het. Om weg te kom van die mens wat jy tydens jou huwelik was, moet jy nuwe dinge doen en nuwe mense ontmoet. Moenie langer toelaat dat gister se seer jou vandag van gesonde verhouding­s weghou nie.

Dit kan help om ’n dagboek te hou waarin jy jou gedagtes neerpen as jy dit nie regkry om dit teenoor iemand anders uit te spreek nie. Maar dit sal die beste vir jou wees om een mens in jou vertroue te neem as ’n klankbord wat jy af en toe kan gebruik.

As jy uitreik en jou wêreld groter maak, kan dit ’n nuwe visie vir jou en jou enkelouerg­esin bring. Skryf jou doelwitte vir julle as nuwe gesin neer en begin daaraan werk.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa