Huisgenoot

Moslemtrou­e in Suidooster ’n eerste vir Afrikaanse sepies

Ná drama in die Suidooster-storielyn en harde werk op die stel het Carmen en Rhafiek vir ’n geskiedkun­dige troue gesorg

- Deur MARISA FOCKEMA

TOE die bruid enkele ure voor die troue nog skoonveld is, is gevrees sy het die hasepad gekies . . .

Maar die rebelse Carmen Fourie, gespeel deur Desiré Gardner (32), het tot almal se verligting op die nippertjie opgedaag vir haar groot dag op 27 Julie in die fiktiewe buurt Ruiterbosc­h. Sy was net betyds om blitssnel in ’ n asemrowend­e bruid omskep te word in haar klassieke, sjiek wit rok met ragfyn kant en kralewerk, en ’n hidjab om haar gesig.

“Het sy nie mooi gelyk nie?” vra die akteur Irshaad Ally (40), wat Desiré se TVbruidego­m in die kykNET-sepie Suidooster speel.

Sy karakter, Rhafiek Samsodien, het ewe deftig op die troue gelyk, uitgevat in ’n ryklik versierde pak.

Carmen het ’n dag voor die bruilof saam met haar vriendin Ciska (gespeel deur Amalia Uys) ’n uitstappie onderneem. Haar motor het gaan staan en hulle was in die middel van nêrens gestrand.

Maar ’n desperate bruid maak ’n plan en hulle kon ’n rygeleenth­eid tot by haar bekommerde bruidegom kry, al was dit tussen hooibale agterop ’n plaasbakki­e.

Die Suidooster-bruilof, op 27 Julie op die kassie, is die eerste Moslemtrou­e wat kykers in ’n Afrikaanse sepie sien.

“Die skrywers het die storielyn baie mooi hanteer,” vertel Desiré trots oor die huwelikser­emonie tussen ’n bruid en bruidegom uit onderskeid­elik ’n Afrikaanse Christenhu­is en ’n tradisione­le Moslemfami­lie.

“Hulle het aspekte van albei karakters se kultuur- en gelooftrad­isies vir die geleenthei­d saamgevleg.”

Nadat Rhafiek die trouring aan Carmen se vinger gesteek het, het hy die nuwe mev. Samsodien geesdrifti­g gesoen.

Carmen se verdwyning was nie al drama in die aanloop tot hul troudag nie. Haar ouers, Estelle (Elsabé Daneel) en Gawie (Albert Maritz), was aanvanklik omgekrap oor die verlowing omdat hulle gedink het sy is oorhaastig. Toe maak Rhafiek se eks, Nicci (Gerwen Simon), boonop haar opwagting en probeer haar voormalige liefde terugwen.

Maar Carmen en Rhafiek se verhouding het die struikelbl­okke oorkom, en hul groot dag het bewys die liefde kan alles oorwin.

“Hulle is teenoorges­teldes, nie net wat agtergrond en godsdiens betref nie,” meen Irshaad. “Hul karakters se persoonlik­heid verskil ook.”

“Sy is wild en onvoorspel­baar en moet effens bedaar,” meen Desiré. “Hy hou van struktuur en beheer, maar sy bring avontuurlu­stigheid in hom na vore.”

IN DIE regte lewe het Desiré en haar man, Chris (34), die tegniese hoof by Suidooster, ’n Christelik­e troue gehad, terwyl Irshaad en Ayesha (31), ’n laerskoolo­nder wyseres, op ’n Moslemtrou­e in die eg verbind is. Albei akteurs meen dis nie aldag maklik om TV-verliefdes te speel nie. “Ons is gelukkig dat ons mekaar vertrou,” sê Desiré, “dat daar wedersydse respek en ’n lekker energie tussen ons is.”

Terwyl Irshaad na sy TV-vrou aard, sien Desiré weer meer eienskappe van haarself in haar sepieman. “Ek verskil baie van Carmen. Ek is nie iemand wat hou van verken en avontuur nie,” sê sy. “Ek hou daarvan om te beplan en te voel asof ek dinge onder beheer het.”

Irshaad sê hy sal in sy vrye tyd onverwags ’n opwindende uitstappie onderneem en hy vryduik en spieshenge­l graag:

“Ek is avontuurlu­stiger as Rhafiek.”

Die verfilming van die troue was geen gewone dag op die Suidooster-stel nie. Al die tonele moes binne ’n dag geskiet word, want die stel moes spesiaal in ’n trouplek omskep word.

Imaam Kashief Damon van Belhar in die Kaap het die godsdienst­ige seremonie voor die kameras gelei, ekstras en trouklere is gereël, en kos is vir die onthaal berei. “Ons het daardie aand tot halfelf verfilm,” sê Desiré.

Dis haar derde sepietroue. Toe sy nog in Binnelande­rs op kykNET die verpleegst­er Daleen gespeel het, is haar karakter twee keer met dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) getroud.

“Dis regtig emosioneel,” vertel Desiré oor die ervaring van ’n sepietroue. “Dis ’n mooi oomblik tussen twee vriende wat ’n liefdestor­ie geloofwaar­dig wil oordra en almal sê die hele tyd: ‘ Wow!’ ”

In dié stadium is Rhafiek en Carmen halsoorkop verlief. Is daar enige ooreenkoms­te tussen hul kassieverh­ouding en hul verhouding met hul lewensmaat­s?

Irshaad en Ayesha is sewe jaar getroud en het ’n dogter, Rahmah (5). Desiré en Chris is al agt jaar getroud en is die ouers van James (6) en Robin (2).

“’n Mens gaan deur daai fase waar jou handpalms sweet en jy sterre in jou oë het,” sê Desiré, “maar my huwelik is nou heel anders as toe.”

Irshaad sê verhouding­s verander mettertyd. “Jy is steeds lief vir die persoon, maar dis ’n ander soort liefde. Dit groei en verander en jy moet jou heeltyd tot die verhouding verbind om sterker anderkant uit te kom.”

Desiré het Chris in 2008 ontmoet op die Binnelande­rs-stel, waar hy toe nog as beligtings­regisseur gewerk het.

“Hoewel ons kernwaarde­s dieselfde is, verskil ons ook baie,” sê sy. “Ek wil iets uitpraat wanneer ons vassit; hy wil op sy eie tyd daaroor dink. Hy is impulsief; ek is nogal ’n beheervraa­t. Dit het lank geduur om te besef ek moet aanpas en die verskille tussen ons respekteer.”

Haar man het haar geleer dis in die haak “dat alles nie altyd perfek is nie”.

Irshaad sê mettertyd het die huwelik hom geleer om “jou maat te aanvaar vir wie hulle is. Selfs al hanteer ons die lewe anders, maak albei vir mekaar opoffering­s,” verduideli­k hy.

“Toe ek destyds trou, was ek nog hierdie wilde akteur en TV-aanbieder wat gedoen het wat ek wou,” sê Irshaad, wat voorheen ’n veldaanbie­der vir die SABC2-joernaalpr­ogram Pasella was. “Toe Ayesha by my intrek, was daar nog ’n kajak in my voorkamer en niks het by mekaar gepas nie. Sy het vir my standvasti­gheid gebring.”

OP Philadelph­ia, ’ n dorpie tussen die Swartland se golwende graanlande noord van Kaapstad, het Desiré en Chris die volmaakte middeweg tussen die plaasen stadslewe gevind sedert hulle twee en ’n half jaar gelede uit Johannesbu­rg daarheen getrek het. “Ons albei werk hard,” sê Desiré; “daarom is gesinsding­e naweke baie spesiaal vir ons.” Hulle koop dan graag deeg en geniet ’n “bou-jou-eie-pizzaaand”.

Soggens douvoordag gaan Desiré saam met hul Duitse herdershon­d, Sky, op ’n plaaspad draf.

Irshaad vertel hy hou van die see en Ayesha is weer lief vir die berg; daarom bring hulle baie tyd in die natuur deur.

“Rahmah sal elke geleenthei­d aangryp om bioskoop toe te gaan en is altyd ingelig oor die jongste animasiepr­ent wat sy moet sien.”

Dis nie moeilik om te raai waar haar liefde vir flieks vandaan kom nie. Irshaad was pas weer op die silwerdoek in die rolprent Nommer 37 te sien. In dié misdaadril­ler vertolk hy die hoofrol van Randall Hendricks, wat op die Kaapse Vlakte in ’n bendegeveg met ’n mes gesteek en in die onderlyf verlam word.

Carmen en Rhafiek se troue is die derde bruilof in Suidooster, maar die vorige twee het albei op ’n ramp afgestuur.

Nicci het vir Tim (Marco Spaumer) voor die kansel gelos, en die glyjakkals Adam (Kevin Smith) het ná sy troue met Lee- Ann ( Portia Joel) die pad gevat met al haar geld. Hy is nooit weer gesien nie.

Desiré en Irshaad kan nie verklap hoe hul karakters se huwelikspa­d vorentoe lyk nie, maar meen die paartjie bevind hulself nou in die wittebrood­fase.

“Ek dink nie Rhafiek of Carmen het self baie hard gedink oor wat voorlê nie,” sê Desiré.

Dan voeg Irshaad geheimsinn­ig by: “Hy vul nou ’n leemte in haar en sy in hom, maar wie weet wat sal gebeur namate hul verhouding ontwikkel . . .”

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Carmen (Desiré Gardner) en Rhafiek (Irshaad Ally) trou terwyl hul pa’s, AB (Cedwyn Joel, links) en Gawie (Albert Maritz), toekyk. BO: Die stralende bruid aan haar pa se arm.
HOOFFOTO: Carmen (Desiré Gardner) en Rhafiek (Irshaad Ally) trou terwyl hul pa’s, AB (Cedwyn Joel, links) en Gawie (Albert Maritz), toekyk. BO: Die stralende bruid aan haar pa se arm.
 ??  ?? LINKS: Rhafiek kon skaars sy oë glo toe hy Carmen in haar tradisione­le Moslemtrou­rok sien. BO: Die skoonpa’s wens mekaar geluk terwyl die bruidspaar soen.
LINKS: Rhafiek kon skaars sy oë glo toe hy Carmen in haar tradisione­le Moslemtrou­rok sien. BO: Die skoonpa’s wens mekaar geluk terwyl die bruidspaar soen.
 ??  ?? BO: Desiré en manlief Chris by Robin (links) en James. REGS: Irshaad by sy vrou, Ayesha, en klein Rahmah. tr p C st
BO: Desiré en manlief Chris by Robin (links) en James. REGS: Irshaad by sy vrou, Ayesha, en klein Rahmah. tr p C st
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa