“Springs-monster” se eks pak af
Die ‘Springs-monster’ se eksvrou vertel hoe anders haar lewe is noudat sy aan sy neef verloof is
WEG is die spykerhakstewels, minirompies, dik grimering, opgetofte hare en vals naels. Die vrou wat oorkant ons sit, lyk stemmig in ’n denimbroek, ligpers bloes en wit tekkies. Haar naels is netjies versorg; haar hare kort geknip en donker gekleur.
Maar hoewel sy deesdae anders lyk, kan sy nie haar lewe saam met haar eksman afstroop en wegmaak soos die aangeplakte grimering en gewaagde uitrustings waarvan hy gehou het nie.
Hy is immers die sogenaamde Springsmonster saam met wie sy teregstaan weens die jare lange mishandeling en aanranding van hul vyf kinders in die berugte gruwelhuis aan die Oos-Rand.
“Dit is sý skuld dat ek nie my kinders kan sien nie,” sê sy vol wrewel. “Ek is spyt ek het hom ooit ontmoet. Ek weet nie hoekom hy bestaan nie; ek háát hom.”
Terwyl die trane die soveelste maal oor haar wange rol, vat sy die man langs haar se hand en hou dit styf vas. Dis haar nuwe verloofde, haar eksman se neef, wat haar ondersteun.
Vandag se onderhoud met Huisgenoot kom ná haar eksman, wat agter tralies sit HOOFFOTO: Die vermeende Springsmonster se eksvrou en neef is drie maande verloof. REGS: Die huis waar haar man hul vyf kinders na bewering aangehou en mishandel het. Sy is ook aangekla. terwyl sy op borgtog uit is, se klaaglied teenoor ons omdat sy vrou sonder waarskuwing opgehou het om hom in die tronk te besoek. Oor hoe sy skielik van hom geskei het. En hoe hy verraai voel deur sy eksvrou en neef se verhouding.
Hy het vertel hy kan skaars wag tot hy en sy eksvrou op 13 Augustus weer saam in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Pretoria sit, want hy wil sien of sy neef hom in die oë sal kan kyk.
Sy eksvrou vertel sy onthou die dag glashelder toe sy vir oulaas uit die besoekhokkie van Springs se Modderbeetronk stap. Haar man is toe nog daar aangehou nadat sy borgtog gekry het.
“Hy het daardie dag vir my gesê hy het 20 jaar lank na my gekyk,” vertel sy; “dis nou my beurt om na hom te kyk.
“Ek het geantwoord: ‘Jy het nie 20 jaar lank na my gekyk nie; jy het my 20 jaar lank gemoer.’ Toe staan ek op en loop. Hy het agter my aan geskree: ‘Kom hier, engel . . .’ Maar ek’t geskree: ‘Los my uit!’ ”
En toe is sy klaar met hom, vertel sy, en snik weer.
Haar eks het gesê hy het ’n nuwe blaadjie omgeslaan nadat hy in die tronk geloof gevind het. Sy glo dit nie. “Hy was nog nooit ’n man van die Here nie. Hy’s ’n vieslike mens wat Hom gevloek het.”
Haar verloofde het haar soms voor die uitval en egskeiding op tronkbesoeke aan haar man vergesel. As neefs was hulle na aan mekaar. Maar ook hy het nie veel hoop vir sy neef nie. “Nee, hy’t nie verander nie. Hy is nog dieselfde mens.”
En tussen die snikke deur sê die vrou langs hom: “Hy sal nooit verander nie.”
DIS nou al sowat vier jaar vandat die egpaar in hegtenis geneem is nadat een van hul vyf kinders, ’n seuntjie, uit die berugte “Springs-gruwelhuis” ontsnap het om hulp te soek.
Die vermeende monster en sy eksvrou, wat R2 000 borgtog toegestaan is, staan tereg op 12 aanklagte van kindermishandeling, -verwaarlosing en aanranding. Hy staan voorts tereg op ’n aanklag van poging tot moord en ’n seksklag.
’n Sielkundige het tydens die verhoor getuig die vrou ly aan mishandeldevrou-sindroom. Sy kon volgens dié getuienis nie destyds teen haar man optree nie weens die “verskriklike geweld” waaraan hy haar na bewering onderwerp het. Albei pleit onskuldig. Hul kinders is in pleegsorg en tehuise geplaas, en hul ouers mag nie kontak met hulle maak nie.
Wat sal word van haar verhouding met haar nuwe verloofde as sy skuldig bevind word en lang tronkstraf kry?
“Ons dink nie eens daaraan nie,” sê die verloofdes feitlik tegelyk.
“Ons bid daaroor en sal daaroor worry as ons daar kom,” voeg hy by. Hulle druk mekaar se hande weer styf. Party mense wat die twee ken, beweer hulle het al jare lank ’n skelm verhouding – nog voor die inhegtenisnemings.
“Dis ’n leuen,” sê die neef, en sy beaam dit dadelik. “Dis my eksman wat agter die deur gestaan het. Ek was dan elke liewe dag tuis.”
Sy vertel haar verhouding met haar nuwe verloofde was tydens haar huwelik net platonies. “Ons was soos boetie en sussie.”
Hy sê weer hy was so geheg aan sy neef dat die gedagte aan ’n skelm verhouding met sy vrou nooit by hom opgekom het nie. “Hy was soos ’n kleinboet vir my; ek het hom nog die feite van die lewe geleer.”
Hulle vertel hul verhouding het eers ná haar egskeiding begin. Die twee is nou drie maande verloof en woon hier saam met sy familie in ’n huis op Springs.
Sy vertel die beste dag van haar lewe was 21 Julie 2016, die dag toe haar egskeiding bekragtig is.
En die tweede beste dag was toe haar nuwe liefde haar op ’n familiebraai by Springs se Presidentdam vra om te trou.
Haar onderlip begin weer bewe terwyl sy vertel sy het dadelik ja gesê. “Ek het geweet hy sal mooi na my kyk.”
Hy voeg by: “Ja, en ek slaan nie vroue nie . . .” “Hy is ’n regte softy,” koer sy. Al het hy voorheen as ’n uitsmyter by ’n klub gewerk?
Dit was voor hy sewe jaar gelede albei sy bene in ’n motorfietsongeluk gebreek het. “Ek kry nou ’n ongeskiktheidstoelae en het nie ’n werk nie, maar sy stick by my. Hoe kan mense nou skinder dat sy my gebruik?”
Sy vertel sy het altyd in vrees vir haar eksman gelewe. “Daar was nie ’n dag dat ek nie bang was nie. Vir hom was ek net ’n slegte h***,” sê sy en haar onderlip bewe weer. “Ek was soos ’n slaaf en dis die waarheid.”
“Jy is die mooiste ding wat met my gebeur het,” troos haar verloofde. In die groot siersteenhuis op Springs waar haar kinders volgens getuienis in haglike omstandighede aangehou en mishandel is, kon sy baie nagte nie slaap nie, vertel sy nou. “Want as ek durf waag om te slaap . . .” begin sy en bars dan in trane uit sonder dat sy haar sin voltooi.
“My jongste laaitie was so bang vir hom, as hy net sê ‘boe’, dan begin my laaitie klaar huil.
“En as ek dan my mond oopgemaak het om iets sê, was my oë toe,” sê sy en huil in haar hande.
Sy huil nagte om uit verlange na haar kinders, sê sy.
Haar verloofde klink instemmend. “Wanneer my kleinkinders soms kom kuier, bars sy sommer ook in trane uit.”
Maar die verskriklike dinge wat volgens getuienis met haar kinders gebeur het, kan geen trane wegwas of uitvee nie.
En terwyl dié twee droom van ’n toekoms saam, moet vyf kinders die stukke van hul lewe optel en die ondenkbare swaarkry van hul kinderjare probeer agterlaat. Voel sy skuldig? “Ja, ek voel skuldig . . . ” is al wat sy antwoord.
SY MOES altyd haar eksman se skoene vir hom aantrek, vertel sy. Toe sy by haar verloofde intrek, wou sy outomaties dieselfde vir hom doen. “Maar hy het vir my gesê: ‘Nee, los dit. Ek is kruppel; nie gebreklik nie.’ ”
Al het hulle nie eintlik geld nie en het sy haar kinders verloor, is sy veel gelukkiger as saam met haar eksman. “Ek was aanvanklik bang om weer in ’n verhouding te gaan, maar hy laat my weer soos ’n vrou voel.”
Sy het selfs gewig aangesit, iets wat sy vroeër nie sou gewaag het nie. “Hy het altyd gesê hy soek nie ’n vet vrou nie.”
Maar haar ekstra kilogramme maak nie vir haar nuwe liefde saak nie. “Ek sal hom vir niks verruil nie,” sê sy. En haar eksman? “Hy moet vir hom ’n ander vrou soek om te verniel. Hy sal my nooit weer kry nie, nie ná wat hy aan my en ons kinders gedoen het nie.”
Die ouerpaar mag volgens wet nie geïdentifiseer word nie om die identiteit van hul minderjarige kinders te beskerm.
‘Ek was aanvanklik bang om weer in ’n verhouding te gaan’