Huisgenoot

Kyle Grant se stryd teen bottel verby

Ná sy pa se skielike dood het Adam se Kyle Grant hom jare lank aan drank vergryp – tot hy eendag groot geskrik het

- Deur CARLA COETZEE

VAN sy troudag onthou hy byna niks. Dit was net agt maande ná die skielike dood van sy geliefde pa, sy held, sy álles, en Kyle Grant was toe reeds ’n volslae alkoholis. Die drankies het vrylik gevloei op sy groot dag, soos op soveel ander dae ná sy pa se dood. Op foto’s van sy troudag lyk hy stralend, maar in die newels van die drankwolk het sy herinnerin­gs aan die kosbare oomblikke verdwyn.

Dit was om te vergeet van die hartseer; van die seer oor sy pa se dood. “Dit was vir my ’n nagmerrie dat my pa nie daar was nie,” vertel die aantreklik­e sanger van die mansgroep Adam.

“My pa was my beste vriend en ek het na hom opgesien. Ná sy dood het die lewe vir my ’n bietjie soos ’n grap gevoel en ek het begin drink,” vertel Kyle (32) eksklusief aan Huisgenoot.

“Ek het oornag teruggetro­kke en hartseer geraak, en al wat dié pyn verlig het, was drank. Bottels en bottels drank, en om tot drieuur in die middag te slaap.”

Dit was nie net op sy troudag in Maart 2013, toe hy met Elizca Coetzer (33) afgehaak het, dat Kyle (32) hom vergryp het nie, erken die sanger met die blou oë.

“Ek sou voor ’n show vinnig twee tequilas sluk om dapperder te voel. Ek het nooit op die stage gegaan sonder om te

buzz nie,” erken hy. Sy stryd teen die bottel het begin nadat ’n hartaanval in Julie 2012 die lewe van sy pa, Brian Whiteside, geëis het. Kyle was toe 26 jaar oud; sy pa net 55. Dit het sy wêreld in duie laat stort. “Mense het gedink ek’s skaam of stil, maar eintlik was ek net ongelukkig en vol pyn,” sê hy.

Al het hy selfs op sy troudag na die bottel gegryp, het Elizca hom bygestaan in die jare toe hy ’n stryd teen drank gevoer het, vertel hy dankbaar. Haar liefde en geduld het hom gedra. “Elizca is amazing. Sy het my altyd gesteun.”

Vandag vertel die sanger trots: Dis nou al ’n volle jaar sedert hy laas ’n druppel alkohol gedrink het. Hy is nou ná jare van verslawing dag ná dag, week ná week nugter. Hy straal toe hy sê: “Ek is nou die gelukkigst­e wat ek in jare was.”

Elizca drink ook nie meer nie, vertel hy, selfs al het sy nooit ’ n stryd teen drank gevoer nie. “Die mense naby aan my gee nie om dat ek nie alkohol drink nie, maar die vriendskap­pe wat op drank gebou was, het nie gehou nie.”

Maar dit maak nie saak dat sommige vriendskap­pe in die slag gebly het nie, want Kyle voel eindelik vry.

KYLE maak sy hart oop in die leefkamer van die eenslaapka­mer-tuinwoonst­el in Centurion waar hy en Elizca, ’n sangeres en aktrise, woon. Hulle het mekaar 11 jaar gelede ontmoet toe hulle die hoofrolle in die musiekspel Hairspray vertolk het en is nou net meer as vyf jaar getroud.

“Toneel is haar passie. Sy is gek daaroor,” vertel hy trots en wys na ’n foto van sy donkerkopv­rou teen die muur.

Oral is foto’s van Elizca en Kyle op die verhoog, en langs die televisie is rye CD’s.

’n Langhaarka­t kom vryf teen sy been en hy stel haar as Mimi voor. “Sy’s na die operasange­res Mimi Coertse genoem,” sê die sanger.

Voor hy in 2013 by Adam aangesluit het, was Kyle onder andere as die karakter Schalk in die sepie Egoli en in talle musiekprod­uksies te sien.

Maar toe hy ná Joe Foster se vertrek uit Adam teenoor Reynardt Hugo en Hugo Ludik ’n plek in die trio losslaan, het sy lewe verander.

Die popgroep het groot sukses behaal met treffers soos Sal Oorlog vir Jou Maak, Goud en Smoorverli­ef. Hulle het deur die jare vyf Ghoema-pryse gewen. Hul album Hoogtevree­s is verlede jaar met die

Ghoema vir die beste album deur ’n groep bekroon en hulle is op dié geleenthei­d boonop as groep van die jaar aangewys. Hulle het in 2017 ook ’n Sama vir die beste popalbum gewen. Hul jongste album, Bewe, is vroeër vanjaar uitgereik.

Kyle sê sy medesanger­s het hom “opgepas” toe hy nog te veel gedrink het om sy sorge te probeer vergeet.

“Ek sou aanhou drink tot ek uitpass. Ek wou niks meer voel en aan niks dink nie. Die drank het alles om my en my gevoelens verdoof. Alkohol was soos krukke wat my staande laat bly het,” sê hy en vat ’n sluk van sy rooibostee met heuning.

Sommige aande het hy maklik ’n halwe bottel wodka of jenewer gedrink, erken hy. Tog het dit nie sy werk beïnvloed nie. “Ek was altyd profession­eel op die verhoog. Dis die dinge wat ek backstage gedoen of gesê het waaroor ek vandag nog skaam voel.”

“Ek het die verskrikli­kste buie gehad. Ek was nie ’n lekker mens om om jou te hê nie. Dit besef ek nou.”

Sy vrou en ma, Liz (65), het probeer ingryp. “Elizca en my ma het keer op keer vir my gesê ek moet my regruk, want ek is besig om buite beheer te raak, maar ek het dit as niks afgemaak.”

Die keerpunt het gekom toe hy teen die einde van 2016 op ’n dag motor bestuur en so lighoofdig gevoel het dat hy bang was hy verloor sy bewussyn. Hy het kwaai maagpyn gehad en dokter toe gejaag. ’n Maagseer is by hom gediagnose­er en hy is daarvoor behandel.

“Ek het toe probeer minder drink. Ek het besef die drank beïnvloed my gesondheid en ek kon nie so aangaan nie.”

Maar sonder die verdowing van daaglikse drankies het hy angsaanval­le begin kry. “Die eerste een was so erg, ek het op die mat hier neergeval. Ek was alleen,” sê hy en wys na die sitkamerma­t. Hy het gedink hy sterf aan ’n hartaanval, nes sy pa.

Sy dokter het medikasie teen angs en depressie voorgeskry­f, en Kyle het vir reikibehan­deling begin gaan. Dié Japannese behandelin­g waartydens ’n terapeut sy hande op ’n pasiënt lê om innerlike energie na hom oor te dra, word gebruik om spanning te verlig. Tydens dié terapieses­sies kon Kyle ook sy hart uitpraat. “Dit het baie gehelp. Ek het besef my pa was so ’n belangrike mens in my lewe en nogtans het ek myself nooit kans gegun om oor hom te treur nie.”

Brian, ’n argitek, was nou betrokke by sy kerk en was ook Kyle, sy enigste kind, se musiekbest­uurder. “Hy het soggens halfvyf opgestaan om te gaan werk. Hy het so hard vir my en my ma gewerk,” sê Kyle. Hy het selfs vir Kyle en Elizca ’n huis ontwerp wat hy ná hul troue wou bou, maar toe sterf hy voor die tyd.

“In die jare ná sy dood toe ek so gedrink het, het ander dinge ook gebeur wat ek emosioneel swaar verwerk het. My ma het Plettenber­gbaai toe getrek. En ek, sy en Elizca was almal in aparte voorvalle slagoffers van misdaad.”

Die vroue het onder grypdiewe deurgeloop en Kyle se motor is gesteel terwyl hy ’n Adam-lied opgeneem het. Die trauma het letsels gelaat.

“Ons het ook finansieel gesukkel, want ek moes my ma help, en omdat Elizca nog vir haar graad in musiekteat­er aan die Tshwane-universite­it vir Tegnologie studeer het, moes ek op ’n sangersala­ris na drie mense omsien. Alles was net te veel en ek dink my lyf kon fisiek net nie meer byhou nie.”

Danksy die terapie en behandelin­g het hy geleidelik deur sy emosies gewerk en in die proses baie oor homself geleer, sê hy.

Hy het geleidelik minder angsaanval­le begin kry, maar drink vandag nog antidepres­sante en kalmeerpil­le en vertel dit help om hom op koers te hou.

Sy laaste drankie het hy in Julie verlede jaar gedrink.

“My laaste druppel alkohol was by my ma op Plettenber­gbaai, waar ek my pa se as in die see gestrooi het. Ek het toe ’n belofte aan myself en my ouers gemaak dat ek nou uit die donker sal kom en in die lig sal begin leef,” vertel hy.

“Ek het net besef ek het dit nie nodig nie. Ek het begin mediteer, ek speel met ons diere en ek oefen. Ek doen weer dinge wat goed is vir my.”

Kyle se raad aan ander wat met dieselfde stryd worstel, is om introspeks­ie te doen. “As jy nie in die spieël kan kyk en jouself respekteer nie, is dit tyd om op te tree. Praat met mense, veral beroepsmen­se, oor jou probleme. Jy sal hulp kry. Jy is sterker as wat jy dink.”

Die sanger vertel hy voel nou vir die eerste keer hy kan sy pa se skoene vol staan. Hy vryf oor Mimi se blinkgladd­e pels en glimlag breed.

“Ek dink my pa sou trots gewees het op my. Ek is trots op my,” sê hy.

 ??  ?? Kyle Grant is weer lief vir homself. Hy het ’n jaar laas alkohol gedrink ná jare se gestoei met ’n drankprobl­eem.
Kyle Grant is weer lief vir homself. Hy het ’n jaar laas alkohol gedrink ná jare se gestoei met ’n drankprobl­eem.
 ??  ?? LINKS: Die sanggroep Adam is van links Reynardt Hugo, Hugo Ludik en Kyle. REGS: By sy ma, Liz Whiteside, met wie hy ’n hegte verhouding het, al woon sy op Plettenber­gbaai en hy in Centurion. ONDER: Kyle gee sy vrou, Elizca Coetzer, ’n sangeres en aktrise, ’n klapsoen. Sy het ophou drink om hom te steun.
LINKS: Die sanggroep Adam is van links Reynardt Hugo, Hugo Ludik en Kyle. REGS: By sy ma, Liz Whiteside, met wie hy ’n hegte verhouding het, al woon sy op Plettenber­gbaai en hy in Centurion. ONDER: Kyle gee sy vrou, Elizca Coetzer, ’n sangeres en aktrise, ’n klapsoen. Sy het ophou drink om hom te steun.
 ??  ?? ‘Alkohol was soos krukke wat my staande laat bly het’
‘Alkohol was soos krukke wat my staande laat bly het’
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa