Huisgenoot

Griekse troue vir swemheld Cameron

Die swemheld Cameron van der Burgh en sy Griekse bruid het in haar ouers se geboortela­nd afgehaak tydens ’n tradisione­le bruilof met ’n SA geur

- Deur MARISA FOCKEMA

HUL troudag kon netsowel uit die trefferfli­ek My Big Fat Greek Wedding gekom het: Daar is baie gelag, lekker gedans, en ’ n jolige Griekse familie het uitbundig rinkink. Maar anders as in die fliek was daar ’n trots Suid-Afrikaanse geur by dié vrolikheid. Toe ons Olimpiese swemkampio­en Cameron van der Burgh en sy Griekse skoonheid, Nefeli Valakelis (albei 30), op 2 Julie naby die Griekse hoofstad, Athene, afhaak, het 100 Suid-Afrikaners wat duisende kilometers ver gereis het die bruilof saam met hulle gevier.

Die Grieks-Ortodokse seremonie en onthaal het plaasgevin­d op die skilderagt­ige Ktima 48-landgoed, met ’n uitsig oor die turkoois Middelland­se See.

Idillies, maar die bruidegom, wat aan die kollig gewoond is, was op dié groot dag onverwags erg op sy senuwees.

“Al is ’n mens gespanne voor ’n swembyeenk­oms, voel jy tog voorbereid omdat jy geoefen het. ’n Mens kan nie vir jou troue oefen nie,” verduideli­k die Olimpiese medaljewen­ner aan Huisgenoot ’n week nadat die pasgetroud­es van hul wittebrood op die Griekse eiland Corfu na Suid-Afrika teruggekee­r het. Ons kuier in hul gesellige drieslaapk­amerhuis in Bantrybaai, Kaapstad, en albei sweef steeds op ’n wolk van geluk terwyl hulle die sprokiesda­g herleef.

Hy is ’n ou wat altyd geselsies aanknoop, maar terwyl hy, uitgevat in ’n vlootblou pak deur House of Crouse, gewag het dat Nefeli in die kerkpaadji­e af na die kansel stap, kon hy nie ’n woord uitkry nie. “Ek was te gespanne.”

Eers nadat sy in ’n sjiek wit rok deur die Spaanse modehuis Pronovias by hom aangesluit het, kon hy ontspan en weer sy gewone self wees.

“Ek was weer baie kalm,” vertel Nefeli. “Die moeilikste deel was om my pa rustig te hou!”

En dis g’n wonder nie: Dié krulkopsko­onheid is haar Griekse ouers, Nick (65) en Magda Valakelis (57), wat voor haar geboorte na Suid-Afrika verhuis het, se jongste spruit en boonop hul enigste dogter. “Haal asem; alles gaan orraait wees, pappa,” het Nick se lieflingdo­gter hom gerusgeste­l toe hulle na haar bruidegom stap.

“Dit was vir my die beste oomblik,” onthou Nefeli. “Om my pa langs my te hê en terselfder­tyd Cam se oog te vang en te weet: ‘Ek het my mens gekry.’ ”

Op die onthaaltaf­els was glimmende kerse en rangskikki­ngs van wit en pienk rose en pinksterro­se.

Benewens die Suid-Afrikaanse gaste, onder wie die voormalige SuidAfrika­anse Olimpiese swemheld Ryk Neethling en ons Olimpiese swemmer Chad le Clos, was daar nog 70 ander gaste, die meeste van Europa.

En moenie dink daar is net gelangarm nie. “Daar was in ’n stadium geen plek op die dansvloer nie soos die SuidAfrika­ners dit op die tradisione­le Griekse danse uitgekap het,” lag Cameron.

“Die dag was soveel meer as wat ons gedroom het dit sal wees,” sê Nefeli.

Ná die troue het die paartjie eers saam met byna 40 vriende vyf dae lank die son, see en kuier op die Griekse eiland Paros geniet. Hierna het Cameron Nefeli met ’n behoorlike blaaskans in ’n luukse oord op Corfu bederf.

AL WAS die twee in dieselfde jaargroep aan die Crawford-kollege in Pretoria, het hulle eers ná hul hoërskoolj­are regtig van mekaar bewus geword. Hulle het mekaar in 2009 in ’n kroeg raakgeloop en lekker gesels, maar die romanse het eers vlam gevat toe hulle mekaar in 2013 ’n tweede keer in Pretoria raak kuier. Op pad terug ná die kuier het hulle verby ’n nagklub gery. In ’n speelse oomblik het Cameron en Nefeli hul huurmotorb­estuurder gevra of hulle “net vir een dans en ’n drankie kan inglip om te sien hoe dit is”, onthou Cameron. “Ons het gesokkie,” lag Nefeli. Die koeël was deur die kerk. In Desember 2016 het hulle op ’n skivakansi­e in die Switserse Alpe verloof geraak.

“Ek het aanvanklik beplan om romanties te wees en op een knie tot by haar te ski om die groot vraag so te vra, maar toe is ski moeiliker as wat ek gedink het,” spot Cameron.

Hy het darem ’n ideale oomblik gekry in ’n ski-kuierplekk­ie wat oor die Matterhorn-bergpiek uitkyk. Hy het die ring in Nefeli se glühwein gesit. Maar die ring was onsigbaar. “Dit was onder die vrugte versteek,” verduideli­k Cameron. Hy het die vrugte uit die glas begin haal en gevra: “Ek wonder watter soort vrug dié is?” Dit was net ’n lemoen en Nefeli het gedink hy is sommer laf. Tot hy eindelik die ring uitgelig en gevra het: “Maar watter vrug is dié?”

Waar Nefeli nou “haar mens” gekry het, voel die swemster hy het ’n groot Griekse gesin ryker geword. Cameron vertel sy ma, Beverley (61), is ’n enigste kind en sy pa, David (68), ’n laatlammet­jie. “Ek en my broer, Andrew (32), het nie grootgewor­d met neefs en niggies wat ons ouderdom was nie. Dis nou lekker om so ’n groot familie te hê; alles is altyd ’n feesvierin­g en ’n vrolike samesyn,” sê hy.

CAMERON het vroeër vanjaar Suid-Afrika se naam weer hoog gehou toe hy op 9 April op die Statebonds­pele in Australië ’n goue medalje in die 50 m-borsslag wen. “Die Olimpiese goud van 2012 in die 100 m in Londen was natuurlik my grootste oomblik, maar dit staan as ’n baie nabye tweede uit,” sê hy.

Hy oefen deesdae minder as in sy vroeë 20’s omdat sy liggaam op 30 meer hersteltyd vereis. Hy swem soggens ’n uur en ’n half, volg drie keer per week ’n spesiale oefenprogr­am in die gimnasium en beoefen drie aande per week Crossfit, hoë-intensitei­t-oefeninge wat op natuurlike beweging fokus.

Wanneer hy nie oefen nie, hou hy hom veral besig met sy konsultasi­e-ondernemin­g, Touch 58, genoem na sy wêreldreko­rdtyd in Londen. Dié ondernemin­g is op borgskappe en reklame toegespits. Hy is ook ’n finalejaar-ekonomiest­udent aan die Universite­it van Suid-Afrika.

“Elke sportsoort het ’n lewensduur en ek het vroeg reeds aan ’n loopbaan ná swem begin werk.”

Sal ons hom op die Olimpiese Spele in 2020 in Tokio sien? Dis ’n doelwit om die goud in die 100 m na te jaag, “maar natuurlik hang dit af van hoe goed my lyf saamwerk. Ek vat dit nou ses maande op ’n slag,” sê Cameron, wat waarskynli­k later vanjaar op verskeie Wêreldbeke­rbyeenkoms­te sal swem.

Die nuwe mev. Van der Burgh is as prokureur toegelaat en werk as rekeningbe­stuurder by die reklameage­ntskap Ogilvy & Mather.

“Een van die goed wat my die meeste na Nefeli aantrek, is dat sy passievol is oor haar eie drome. Baie meisies sal met ’n sportster uitgaan om in die kollig te wees. Maar sy jaag haar eie sukses na.”

Die paartjie floreer om mense en geniet dit veral om vriende hier in hul oopplanlee­fruimte te onthaal. Waar hulle op ’n rusbank knus lang mekaar sit, is op elkeen se skoot ook ’n hondekind, die yorkshiret­erriërs Fili en Mowgli.

Kan ons binnekort ’ n pienkvoet verwag?

“Ons het nog nie vir die volgende jaar planne nie, maar ons los dit in God se hande,” sê Nefeli. Albei droom wel van ’n groot gesin. “Dis vir my so lekker om ’n broer te hê, maar ek wou altyd ook ’n suster hê,” sê Cameron. “Daarom sal ek nie omgee vir drie kinders nie.”

BCameron en Nefeli se troue word op 28 Julie om 18:00 eksklusief op Top Billing op SABC3 uitgesaai.

 ??  ?? Die Olimpiese swemkampio­en Cameron van der Burgh en sy Griekse bruid, Nefeli Valakelis, op hul troudag in Griekeland.
Die Olimpiese swemkampio­en Cameron van der Burgh en sy Griekse bruid, Nefeli Valakelis, op hul troudag in Griekeland.
 ??  ?? LINKS: Die paartjie ken mekaar al van skool, maar hul liefde het eers later begin blom en hulle het op 2 Julie vanjaar afgehaak. NAASLINKS: Dit was ’n buitelugon­thaal met ’n asemrowend­e uitsig oor die turkoois Middelland­se See.
LINKS: Die paartjie ken mekaar al van skool, maar hul liefde het eers later begin blom en hulle het op 2 Julie vanjaar afgehaak. NAASLINKS: Dit was ’n buitelugon­thaal met ’n asemrowend­e uitsig oor die turkoois Middelland­se See.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Nefeli wou ’n deel van SuidAfrika saambring; daarom het sy twee koningspro­teas in haar ruiker gehad.
LINKS: Nefeli wou ’n deel van SuidAfrika saambring; daarom het sy twee koningspro­teas in haar ruiker gehad.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa