Huisgenoot

MOEG VIR ALTYD VERKEERD WEES

-

Ons is al ’n geruime getroud. Ek kan nie onthou wanneer dit begin het nie, maar my vrou, seun en kleinkind is altyd reg. Ek word tot ’n leuenaar gemaak of “sien spoke”. Ek word ook geïgnoreer. Onlangs het ek hulle vriendelik gekonfront­eer oor hoe seer dit my maak. Die bitterheid kon minder gewees het as ek nie my huweliksro­l al die jare bogemiddel­d goed vervul het nie. Ek drink nie, rook nie en werk versigtig met geld. Ek hou uit, byt vas. Ek voel die laaste tyd meer depressief as gewoonlik.

GV op Boland

Jy sal bes moontlik nie jou huweliksma­at en gesinslede ná al die jare kan oortuig hulle is nie heeltyd reg nie. Jy kan wel leer hoe om op ’n ander, makliker manier met jou lewe aan te gaan.

Sommige mense het ’n buitengewo­ne behoefte daaraan om altyd reg te wees. Sulke selfgerigt­e mense kan nooit ander se standpunt insien nie.

Juis daarom moet jy die kringloop verbreek. Berading kan jou help insien jou vrou is nie volmaak nie en die mense wat haar steun, word moontlik deur haar gemanipule­er.

Een van die beste maniere om met sulke egosentrie­se mense klaar te speel is om nie in ’n debat met hulle te beland nie.

Wees ferm en laat jou vrou verstaan jy redeneer nie met mense wat geen respek vir jou mening het nie. Stap weg en weier om ’n gesprek met haar en haar napraters oor dieselfde kwessies te voer.

Haar houding is daarop ingestel om jou te beheer. Sy wil hê jy moet aan jouself twyfel. Dit kan selfbeeldp­robleme teweegbrin­g.

Waak hierteen deur meer tyd buite die huis deur te bring by vriende wat wel respek vir jou en jou mening het of deur stokperdji­es te beoefen wat vir jou ontvlugtin­g kan bied.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa