Huisgenoot

RAADOP OOR SY VELE FLIRTASIES

-

My man se eks stuur vir hom WhatsApps. Sy het nog altyd ons huwelik bedreig. Ons buurvrou koop ook soms vir my man geskenkies. Ek het op sy foon gesien sy is op sy WhatsApp onder ’n troetelnaa­m. Ek het agtergekom hy het ook by sy werk iets met ’n vrou aan. Nou werk hy ook Saterdae. Dit maak my mal. Ek werk nie, het nie geld nie en wens net my ma was hier om my te help. Sy het my destyds teen my man gewaarsku, maar is intussen aan kanker oorlede.

GE op KS

Jy verdien beter as om deur dié reeksflank­eerder seergemaak te word. Sulke mans kan nie aandag van ander vroue weerstaan nie en het dit nodig om hul manlikheid te bewys. Al het hy hom tot jou verbind, sal hy skynbaar met enigeen flirteer wat vir hom ogies maak.

Dit is ’n kortpad van flirteer na verkul. Jy kan tegnieke ontwikkel om daarmee saam te leef, soos om dit te aanvaar en as een van sy tekortkomi­ngs te verdra. Of jy kan ’n konstrukti­ewe gesprek met hom daaroor voer.

Omdat jy finansieel van hom afhanklik is, sal jy hom moeilik voor ’n ultimatum kan stel om te verander. Berei jou daarop voor om dit wel op ’n dag in die toekoms te doen deur nou daarop te fokus om werk te kry.

Hou op om op hom en sy foon te spioeneer. Sy affairs maak jou net onsekerder van jouself en te seer om jouself te bemagtig. Wanneer jy in ’n sterker posisie is, dink na oor of jy by ’n man wil bly wat geen respek vir die grense van jul huwelik toon nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa