Huisgenoot

Griekse brandramp se menseverha­le

Verkoolde lyke in mekaar se arms, mense wat verdrink het toe hulle na die see vlug, ’n wittebrood­stragedie . . . Hartverske­urende verhale is volop ná Griekeland se ergste brande ooit

- Saamgestel deur JANE VORSTER

DIT was asof iemand die poorte na die hel oopgeruk het. Hulle kon die versengend­e hitte van die dreunende vlammemuur teen hul rug voel. Byna verblind deur die verstikken­de rook het hulle na die see gehardloop in ’n desperate poging om te oorleef. Maar toe doem ’n heining voor hulle op.

Geharde reddingswe­rkers was verslae toe hulle later op die toneel afkom. Toe die groep van 26 mans, vroue en kinders besef hulle het nêrens meer om heen te vlug nie, het hulle mekaar omhels terwyl hulle gewag het dat die vlamme hulle verteer. En daar, ná die aanslag van die vlamme, het hul verkoolde lyke op die verskroeid­e swart landskap gelê, steeds in mekaar se arms.

Dit was net een van die vele afgryslike tonele op die Griekse platteland, naby die hoofstad, Athene, wat die wêreld einde Julie aan die hart geruk het. Wegholbran­de het meer as 90 mense se lewe geëis, honderde beseer en hele dorpies in puin gelê. Kort voor ons druktyd was talle mense nog vermis.

“Ek het dooie mense gesien. Ek het minstens 300 uitgebrand­e motors gesien en talle afgebrande huise,” het die verslae Evangelos Bournos, burgemeest­er van

die distrik Rafina-Pikermi, gesê. “Ons probeer in ’n ander werklikhei­d funksionee­r, want twee nedersetti­ngs, Mati en Kokkino Limanaki, het heeltemal van die landkaart verdwyn.” Ook sy eie huis is vernietig. Dit word as Griekeland se dodelikste wegholbran­de nog beskryf. Die inferno het op 23 Julie begin toe meer as 15 verskillen­de bergbrande in die streek uitbreek. Die vuur is deur stormsterk winde van tot 120 km/h per uur aangedryf en die brandbestr­yders kon dit nie blus nie.

Die vlamme het teen die berge af na die kus gesnel en tot op die idilliese toeristedo­rp Mati, sowat 30 km van Athene. Hier, waar inwoners en toeriste alles gelos het om te vlug, het die chaos ’n siedende hoogtepunt bereik.

Talle het in hul motors probeer ontsnap, maar is in ’n verkeerskn­oop vasgevang. Met die vlamme wat aan die geboue rondom hulle vreet, het hulle uit hul motors gespring, die see in gehardloop en probeer om van die verstikken­de rook weg te swem.

Maar sommige het hul rigting verloor, het te diep ingeswem en is deur seestrome meegesleur.

“Dit is verskrikli­k om die mens langs jou te sien verdrink en jy kan niks doen om te help nie,” sê Nikos Stavrinidi­s, ’n inwoner. Hy het saam met sy vrou en ses vriende die see in gevlug. Hulle het ses uur lank water getrap en gebid.

Hulle is eindelik deur ’n Egiptiese vissersboo­t opgepik, maar nie voor twee van Nikos se vriende, ’n ma en haar seun, verdrink het nie. Daardie dag is honderde mense deur bote uit die see gehaal of van strande waar die vlamme hulle vasgekeer het.

Luidens mediaberig­te is sowat 1 500 huise deur die brande vernietig. Die daklose mense word tydelik in hotelle gehuisves op dorpe wat die verwoestin­g vrygesprin­g het.

Maria Dionysioti (67) het haar kleinseun (hy was nog ’n baba) in die brand verloor, asook twee van haar neefs en dié se kinders. Haar dogter Margarita veg om haar lewe in ’n hospitaal.

“Dis so seer, so seer,” sê sy. “Die dogter van my neef Grigoris het van ’n krans afgespring. My ander neef Michalis het saam met sy vrou en dogter in sy motor gesterf. Talle van my familieled­e word nog vermis. Sê my, waar kry ek woorde om dit te beskryf? Kan die menslike siel sulke goed verduur?” Sy is ook dakloos, maar daaraan dink sy nie nou nie.

Buite sy afgebrande huis het Nikos Giannopoul­os, sy vrou en twee kinders gewag terwyl reddingswe­rkers binne na sy 88-jarige ma gesoek het. Haar verkoolde lyk is in die badkamer gekry.

’n Pasgetroud­e Ierse toeris, Brian O’Callaghan-Westropp van Dublin, was op sy wittebrood toe die vlamme die oord verswelg waarin hy en sy vrou, Zoe Holohan, gebly het. Hulle het mekaar in die chaos verloor. Sy het oorleef; hy nie.

Die lyke van die negejarige tweeling Sofia en Vasiliki Philippopo­ulos, wat by hul grootouers gekuier het, is in hul ouma en oupa se arms gevind. Hulle was in die groep van 26 wat voor die vlamme probeer vlug het.

“Ons het eers na die hospitale en polisie gegaan. Toe sê die brandweer die laaste uitweg is om in die lykshuis te soek,” het hul pa, Yiannis Philippopo­ulos, gesê.

Die regering loop nou deur oor sy hantering van die brandkrisi­s.

“Ons is gelos om soos veldmuise te brand,” kla ’n vrou. “Daar was geen koördineri­ng nie. Niemand het vir ons aanwysings gegee oor wat om te doen nie; vlugtende mense het meters van die see af in hul motors verbrand.” Sy was ure lank in die see, rasend oor haar kinders, terwyl haar dorp gebrand het.

“Ons was in die see, ons het in die see gebrand, mense het om ons flou geraak,” vertel sy. “Ek het geskree terwyl ek my kinders probeer opspoor het. Ons het tienduisen­de sulke stories. Daar was geen rede dat ons moes brand nie.”

BRONNE: GUARDIAN.CO.UK, CNN.COM, TELEGRAPH.CO.UK, BBC.CO.UK, ABC.NET.AU

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Brandbestr­yders sukkel om een van die talle veldbrande te bblus wat onlangs in Griekeland uitgebreek het. LINKS: Oral was verkeerskn­ope omdat die hoofsnelwe­g naby Athene gesluit moes word. ONDER: Die wrakke van uitgebrand­e motors op die toeristedo­rpie Mati. Bestuurder­s was genoop om hul voertuie agter te laat en te vlug.
HOOFFOTO: Brandbestr­yders sukkel om een van die talle veldbrande te bblus wat onlangs in Griekeland uitgebreek het. LINKS: Oral was verkeerskn­ope omdat die hoofsnelwe­g naby Athene gesluit moes word. ONDER: Die wrakke van uitgebrand­e motors op die toeristedo­rpie Mati. Bestuurder­s was genoop om hul voertuie agter te laat en te vlug.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Inwoners van Mati en toeriste het in die see ingehardl loop om van didie vlammel en versmorend­ed rookk weg tte kkom. Talle het ure lank water getrap voor hulle eindelik deur vissersbot­e gered is. Baie mense het verdrink.
BO: Inwoners van Mati en toeriste het in die see ingehardl loop om van didie vlammel en versmorend­ed rookk weg tte kkom. Talle het ure lank water getrap voor hulle eindelik deur vissersbot­e gered is. Baie mense het verdrink.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa