Spiertierma en -seun maak opslae
Dié ma en seun met die bultende spierspiere het verlede maand hoë louere verwverwerf op ’n wêreldbyeenkoms vir liggliggaamsbouers
DIT was nog nooit vir haar nodig om haar seun nader te roep om vir haar ’ n flessie of potjie in die kombuis oop te draai nie. Dit doen sy sommer maklik self, dankie. Boonop staan haar blokkiesmaag en bultende spiere nie ’n oomblik terug vir dié van haar seun nie. Hierdie Vrystaatse ma en haar spruit is immers albei spiertiere – en liggaamsbouers van wêreldformaat.
Wanneer die twee hul spiere begin bult, hang jou mond oop – sommer twee keer.
Net verlede maand het Leonie van Jaarsveld (37) en haar seun, Déwayne (19), saam aan die Wêreldfiksheidsfederasie se wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Singapoer deelgeneem. Déwayne het ’n tweede plek behaal in die afdeling o. 23- mansliggaamsbou, en Leonie was sesde in die superlyfafdeling vir vroue.
Die byeenkoms was vir hulle ’n emosionele maar kosbare ervaring, vertel die ma-en-seun-spierpaleise terwyl ons by hulle in hul tuisstad, Welkom, kuier.
Leonie besit die Trainher-fiksheidsentrum in die stad. Op ’ n rak in die sentrum staan rye trofeë en medaljes wat die suksesstorie vertel van dié liggaamsbouer wat net 10 jaar gelede met die sport begin het. Maar as jy so na haar kyk, lyk sy glad nie soos op die foto’s waar sy met bultende spiere aan kompetisies deelneem nie.
Mense is altyd verbaas wanneer hulle haar die eerste keer ontmoet, vertel sy laggend: “Dan sê hulle ek is baie kleiner as wat hulle gedink het.” Sy verduidelik dat liggaamsbouers net voor hulle op ’ n verhoog uitstap eers daardie spiere moet oppomp vir die bultende effek. Sowat 14 km verder, in die woonbuurt Riebeeckstad, is Déwayne op sy beurt ’n vennoot van die Body Fanaticgimnasium. Hy vertel wanneer hy en sy ma oefen, maak hy haar moeg. “Dis omdat hy jonger as ek is,” skerm Leonie. “Maar ek sal hom nooit die bevrediging gee om te erken hy is beter as ek nie.”
Wanneer die twee die langpad vir ’n 10 km-padwedloop aandurf, is sy weer die een wat hom behoorlik laat les opsê. “Hy sal met sy laaste bietjie asem probeer om my verby te steek, net om te wys hy is beter as sy ma,” vertel Leonie.
In een van hul oefeninge is hulle darem altyd kop aan kop, want albei kan dieselfde getal armopstote per minuut doen – ’n asemrowende 40.
DIE oomblik toe ek daardie dag op die verhoog klim, was ek ’n bondel senuwees,” erken Leonie oor haar optrede op die wêreldkampioenskapsbyeenkoms. Maar Déwayne sê hy het elke oomblik van sy deelname geniet: “Ek het vir myself gesê ek het 12 weke lank hard gewerk hiervoor; hierdie 10 minute op die verhoog is myne.”
Natuurlik was die oomblik toe die medalje om sy nek gehang word ’ n hoogtepunt. Maar Déwayne lag lekker oor ’n ander ervaring in die vreemde wat hom altyd sal bybly. Hy het een aand ’n restaurant gaan soek waar hy hoender kan gaar stoom aangesien die gebraaide kosse op die spyskaarte daar nie deel van sy en sy ma se spesiale eetplanne was nie.
Nie ver van hul hotel af nie kry hy toe ’n restaurantjie waar hy dit kan doen. “Toe vat hulle my na die kombuis sodat ek ons kos stoom. Ek het ’n kortbroek aangehad en die twee Taiwannese eienaars kon hul oë nie van my bene afhou nie. Toe ek hulle vertel ek is hier vir die liggaamsboukompetisie, begin die mans oral aan my lyf vat om my spiere te voel.”
By die huis het pa Renier (42), ’n sakeman wie se firma vloerbedekkings installeer, na ’n regstreekse uitsending van die kompetisie gekyk wat oor die internet gestroom is.
“Die mense het my foon gaar gebel,” onthou hy. “Al ons vriende wou net kortkort weet hoe die kompetisie vorder.”
Ma en seun se pad na spiereglorie het begin toe Déwayne nog ’n kannetjie op laerskool was. Sy ouers het destyds na ’n liggaamsboukompetisie gaan kyk, en Leonie vertel: “Net daar byt die gogga ons. Ons het sommer dadelik by ’n gimnasium aangesluit en begin oefen.”
Die jonge Déwayne moes natuurlik saam wanneer sy ouers gaan oefen.
“Jong, dit was vir my die lekkerste om te kyk hoe die grootmense met die gewigte speel,” onthou hy. “Ek was 14 jaar oud, toe weet ek liggaamsbou gaan eendag my beroep wees.”
Tydens sy matriekjaar aan Welkomgimnasium het hy vir die skool se eerste rugbyspan uitgedraf en ook die SA tweekampspan gehaal, maar saans was hy in ’n gimnasium aan die yster pomp vir sy toekomstige loopbaan.
“My skoolpunte was dalk nie die hoogste nie, maar ek het elke aand geoefen,” vertel die jong sportman. “Ek het amper gehuil toe my ouers my gimtye tydens die matriekeksamen beperk.”
Maar aanhouer wen, en vandag, skaars 18 maande nadat hy matriek geskryf het, is hy die wêreld se no. 2-liggaamsbouer in sy afdeling. Verlede jaar het hy aan sewe plaaslike kompetisies deelgeneem, vertel hy trots. En twee eerste plekke behaal.
Ma Leonie het destyds in 2009, ná ’n jaar se oefening, die Vrystaatse liggaamsbouspan gehaal. Sedertdien het sy aan soveel kompetisies deelgeneem dat sy nie eintlik kan onthou hoeveel nie. En die getal eerste plekke? Sy dink hard. Miskien so 14, sê sy.
En toe kwalifiseer ma en seun albei vroeër vanjaar om aan die wêreldkampioenskapsbyeenkoms deel te neem. Daar was net een probleem: In dié sportsoort kry atlete geen finansiële ondersteuning van die nasionale departement van sport en ontspanning of die sportfederasies nie. Hulle moes die sowat R30 000 per persoon wat dit sou kos om in Singapoer te gaan spiere wys met borgskappe finansier.
Déwayne skud sy kop en glimlag. “Ek het soos ’n bedelaar gevoel om van plek tot plek te stap vir borgskappe.”
“Maar die gemeenskap van Welkom is wonderlik,” val Leonie hom in die rede. Ma en seun is vol lof vir die stad se ondersteuning, waarsonder hulle nooit die wêreldverhoog sou bereik het nie.
TER voorbereiding vir die kampioenskapsbyeenkoms het hulle’ n 12 weke lange oefenprogram van twee uur per dag gevolg bestaande uit gewigoptelen kardio-oefeninge. Hulle het ’n hoëproteïen-eetplan gevolg van hawermeelpap, eierwitte, proteïendrankies, witvleis en baie stysel.
Déwayne erken hy het by Leonie gaan hulp soek oor hoe hy sy dieet kan aanpas, want ’n ma weet mos van kos.
“Ma, my lyf lyk nie reg nie; wat moet ek nou eet?” het hy haar dikwels gevra.
Hy beweer hy het haar raad altyd gevolg, “want ek is ’n gehoorsame kind”, maar ma Leonie stem nie saam nie.
“Nee, ons het baie koppe gestamp, want ons is al twee maar hardkoppig,” sê sy. “Maar hy het my weer emosioneel sterk gehou wanneer ek wou moed opgee. Die voorbereiding is ongelooflik straf. En dan nog die stres oor die borge en die reis na ’n onbekende land.”
Renier vertel hy moes sy vrou heeltyd kalm hou en moed inpraat. Hy is self ook ’n liggaamsbouer wat in 2013 die tweede plek op World Beauty F i t nes sand Fashi onse kampioenskapsbyeenkoms in Pretoria behaal het. Maar omdat die sport so duur is, neem hy aan minder kompetisies deel. Hy sal ook nooit oorsee gaan optree nie, al het hy reeds vyf jaar gelede hiervoor gekwalifiseer. “Ek gee hulle liewer die kans,” sê hy.
Noudat ma en seun op die wêreldranglys pryk, wat is hul toekomsplanne?
Hulle gaan die volgende 12 maande af vat en aan geen kompetisies deelneem nie, sê Leonie. Dan sê Déwayne: “Jy moet jou liggaam kans gee om te rus.”