UIT DIE ARGIEF: DIE STEM VAN DIE SLAGOFFERS
In 1995 het Huisgenoot ’n artikel oor Dave Allen en John Wiley se dood gepubliseer. Mark Minnie is daarin aangehaal en het toe al beweer seuns is op Bird Island gemolesteer. By dié berig het ’n onderhoud met die ma van twee van Dave Allen se beweerde slagoffers verskyn. Hier is dit soos dit in 1995 gepubliseer is:
Die twee jong seuns met wie Dave Allen in 1984 ’n noodlottige vriendskap aangeknoop het, is vandag albei volwasse. Die een het spoorloos verdwyn; die ander het Huisgenoot voorverlede week op ’n OosKaapse dorp honderde kilometers van Port Elizabeth af opgespoor.
“Kyk, ek wil nie oor Allen en al hierdie dinge praat nie,” sê die jong man van 23 met die intrapslag.
“Ek wil vergeet.” Hy boor vergeefs met sy vuiste in sy oë; die trane wil nie weg nie.
Dan vertel hy tog, gespanne, met hande wat geen oomblik tot rus kom nie. Eers was daar oom Percy*.
Hy het Danny*, toe maar agt jaar oud, en sy ouer broer, Raymond*, gereeld met sy motor kom oplaai.
Drie jaar lank het dit so voortgeduur. Hy het hulle betaal vir gunsies wat hulle aan hom bewys het.
Dit was in 1984 dat Raymond by die huis kom vertel het van die gawe man wat hy ontmoet het – Dave Allen.
“Een aand het Raymond my omgepraat om saam met hom en Allen te gaan rondry. Toe vat hy ons uit vir ete. Daardie eerste aand het hy nie aan my gevat nie, maar die tweede keer het dit gebeur. “Daarna dikwels. “As ek reg onthou, het hy my daardie eerste keer R50 betaal.
“Allen het altyd van sy eiland gepraat en belowe om ons met sy boot daarheen te vat. Raymond was dikwels daar.”
Soms het Allen hulle na ’n hotel geneem; ander kere na een van sy huise – “die een met die baie opgestopte visse teen die mure”. Daar het hy hulle video’s gewys; mans saam met mans.
Langer as drie jaar het dit so aangehou, tot hul ma eindelik besef het wat aan die gang was.
“Ek en my kinders het deur die hel der helle gegaan,” sê sy. “Ek kon nie sielkundige behandeling vir hulle bekostig nie en vandag is my oudste se hele lewe verwoes en Danny sukkel om reg te kom en van als te vergeet.
“Baie dinge het gebeur, maar Raymond wou nie praat nie. Soos toe hy in die hospitaal was. Tot vandag toe weet ons nie presies wat met hom gebeur het nie. En hy het gesê ek moet nooit oor dié dinge praat nie, want ek kan in die moeilikheid kom.”
Volgens koerantberigte is Raymond in die hospitaal opgeneem ná ’n voorval op Bird Island waar mans oor die kind baklei het en ’n haelgeweer agter by hom ingedruk is.
Die vorige jaar is ’n elfjarige seun wat ook op Bird Island beseer is in die hospitaal behandel.
Raymond se ma sê sy het hom probeer uitvra oor presies wat op Dave en sy vriende se partytjies gebeur het. Raymond het vertel dat daar net mans was, dat van hulle bekend was, dat hulle van ver gekom het, dat hulle saam gejag het, maar het geen besonderhede verstrek nie.
“Hy het gesê hy kan nie praat nie; dat ons nooit die waarheid uit hom sal kry nie. ‘Ma, hulle gaan my doodmaak, hulle gaan my doodmaak,’ was sy woorde. Altyd die verskriklike vrees.
“Dave het mooi beloftes aan Raymond gemaak. Hy het gesê hy sal hom oorsee neem en hy moenie hom oor sy geleerdheid bekommer nie; hy sal sorg. Toe het Raymond net st. 7 gemaak en die skool verlaat.
“Ek weet vandag nie eens waar my kind is nie, maar ek glo daardie mense het hom vernietig. Ek bid elke dag dat ek hom tog net weer kan sien, dat hy my net sal laat weet of dit goed gaan met hom . . .” * Name verander.