Huisgenoot

WIL SKEI OOR MAN SE AFJAKKE

-

Ek en my man is in ons 60’s en al 36 jaar getroud. Hy is ’n goeie mens, maar snou my die mislikste afjakke toe wanneer ons oor die verkoop van ons kleinhoewe praat. Ons het ooreengeko­m ons gaan dit verkoop omdat ons na ’n veilige meenthuisk­ompleks wil trek. Hy wil gewoonlik nie gesels om dinge uit te pluis nie. Sy houding maak my so diep seer dat ek wil skei. Hy is erg gespanne oor geld, soos oor sy pensioenge­ld se groei. Hartseer van VDBP Mense wat stilweg kwaad is vir die lewe en die woede onderdruk, gaan nie verander net omdat jy dit wil hê nie. Om jou met sy stilswye te manipuleer het deur die jare sy styl geword.

Jy is nie die een met die probleem nie, al voel dit dikwels so. Al kan jy nie maklik sy gedrag verander nie, kan jy hom moontlik sover kry om saam te werk. Dit gaan net uiterse geduld en tyd, dalk ses maande, verg.

Jy het die patroon raakgesien van kwessies wat hy vermy en ontken: geld en veranderin­g. Gooi dit oor ’n ander boeg. Jy gaan hom moet help om in te sien wat sy behoeftes vir die toekoms is. Jy sal kalm en vriendelik aan die hand moet doen dat julle begin rondkyk na ’n blyplek wat by sy doelwitte en begroting pas eerder as om by die verkoop van die hoewe te begin.

Al wil hy nie daaroor praat nie, moenie tou opgooi nie; gaan eerder op ’n nieaanvall­ende, onemosione­le manier voort. Moenie hom die drama gee wat hy soek nie.

Sulke mense is geneig om die rol van die slagoffer te speel; daarom moet jy hom nie so laat voel nie. Moenie hom blameer nie, want hy glo nie hy is verkeerd nie.

Wanneer jy sy samewerkin­g het, kontak ’n eiendomsag­ent sodat julle kan sien wat in die mark beskikbaar is. Oorreed hom om ’n agent wat hy mettertyd begin vertrou ’n waardasie van jul kleinhoewe te vra.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa