Kennisse oor Minnie se raaiseleinde
Was dit selfdood of skuil iets sinisters daaragter? Nabye kennisse van Mark Minnie vertel van sy laaste dae en sê wat hulle glo tot sy einde gelei het
DIS ’n Donderdagaand in ’n kuierplek in Port Elizabeth en Mark Minnie, omring deur vriende en oudkollegas uit sy polisiedae, bestel ’n J&B met sodawater en suurlemoen. Glase word geklink, want die local Baaise boikie het eindelik gedoen wat hy altyd wou.
Drie dekades nadat hy as jong polisieman skokkende bewerings oor’ n hoëvlak pedofiel netwerk begin ondersoek het, het Mark (57) eindelik sy saak teen hulle gestel – in die gedaante van sy opspraakwekkende boek, Die Seuns van Bird Island.
Daarin beweer Mark apartheidsleiers – die wyle ministers van verdediging en omgewingsake, onderskeidelik Magnus Malan en John Wiley –het jong bruin seuns na ’n eiland aan die Oos-Kaapse kus laat vlieg om hulle daar te molesteer.
Dis ook die verhaal van ’n beweerde toesmeerdery op die hoogste vlak, ’n ver- miste dossier en die oënskynlike selfdood van twee van die destydse betrokkenes, Wiley en die sakeman Dave Allen.
Die eggo’s van dié doodskote 31 jaar gelede sou binnekort weer gehoor word – soos niemand verwag het nie.
Maar eers vier vriende wat met die jare vir Mark soos familie geword het vanaand die publikasie van Mark se boek. “Daai bliksems van die ou regime,” sê ’n oudspeurder wat in die 1980’s saam met Mark in die narkotikaburo gewerk het. “Mag al daardie bruin laaities sonder name eindelik geregtigheid kry!”
Hy lig sy glas en Mark knik sy kop in erkenning en klink weer glase met almal om hom.
Mark lyk bedees midde-in al die joligheid, selfs al het hy sy selfopgelegde lewenstaak voltooi om die beweerde Bird Island-pedofielnetwerk oop te vlek. Dit was vir hom na aan die been, want hy is deels aangevuur deur die trauma van sy eie verkragtingshel as 12-jarige.
Later haal Mark sy skootrekenaar by die kroegtoonbank uit. Hy werk aan ’n tweede boek wat nog onthullings bevat, vertel hy aan die mense in die kroeg.
Maar kort-kort staan hy op, stap weg en tuur na die donker parkeergebied, so asof hy verwag om iemand daar te sien.
Dan tik hy opnuut op die rekenaar, staan weer op en gaan rook alleen buite. Hy lyk onrustig – selfs ietwat angstig.
Maar hy sê niks vir niemand; keer net terug kroeg toe en bestel nog ’n whiskey.
DIS drie dae later, Maandagoggend. Mark maak tee in sy eksvrou, Bernadine (nou du Toit), se kombuis in die Baai. Hy bly in haar huis wanneer hy hul dogter (13) uit China, waar hy die afgelope 11 jaar Engels gee, kom besoek.
Hy gaan vanoggend Tsitsikamma toe, sê hy vir Bernadine. “As iemand vra, sê net: ‘Geen kommentaar nie.’ ”
Mark klim in sy silwer Mercedes. Sy selfoon, vroegoggend al afgeskakel, sit hy in
die paneelkissie. Hy ry, maar dis nie na Tsitsikamma, waar seuns na bewering destyds gemolesteer is, nie; dis na sy vriend Brent Barnes se rooskwekery in Theescombe buite Port Elizabeth.
Vir Brent, wat buite werk, lyk Mark moeg. Mark sê hy wil net ’n bietjie wegkom van als. Brent vermoed nie onraad nie – selfs nie toe Mark die huis met ’n splinternuwe tou binnegaan nie.
Later, in die gim, bel iemand Brent: Niemand kry Mark in die hande nie. “Ontspan,” sê Brent. “Mark is by my plek.”
Maar toe hy terugkeer, is als stil. Brent sien die tou lê in die gang. En sy kluis, waarvan Mark die kode ken, staan oop. Brent sien sy pistool is weg. Maar selfs toe hy ’n ruk later die skoot hoor klap, is Brent nie bekommerd nie. Hy skerts met die werkers Mark het seker die pou geskiet wie se krete hom so irriteer, en stap in die rigting van die skoot.
Toe sien hulle hom waar hy blykbaar op sy knieë gestaan het met die loop van die pistool teen sy voorkop. Die koeël het hom agteroor geruk.
Langs die lyk was Brent se pistool en glo ook ’n handgeskrewe selfdoodnota. Later is ’n getikte brief versprei wat volgens ingeligte bronne in die polisie glo die bewoording van die selfdoodnota bevat, maar dit kon teen druktyd nie bevestig word of dit die ware Jakob of ’n vervalste brief is nie.
Dié brief, oënskynlik gerig aan sy seun, sy dogter en die medeskrywer van die Bird Island-boek, Chris Steyn, lui:
... Ná drie dekades het die sage van die beweerde Bird Island-pedofielnetwerk blykbaar nog ’n lewe geëis.
En weer, nes destyds met Wiley en Allen se dood, word in sommige kringe bespiegel dit was dalk nie selfdood nie, maar moord . . .
Kort voor ons druktyd het forensiese kenners van die polisie nog die brief ondersoek om vas te stel of dit eg is. Die polisie het gesê hulle vermoed geen misdaad nie, maar het met ’n geregtelike doodsondersoek begin.
Kan ’n mens nog onthullings verwag? En wat was die waarheid? Met Malan, Wiley, Allen en nou ook Mark Minnie se dood is die antwoorde op die vele vrae wat bly dalk saam met hulle graf toe.
En intussen bly die dekades lange raaisels van Bird Island, waar die branders soos geweerskote teen die rotse dreun en die seevoëls weemoedig krys, steeds onopgelos.
ALLES het vroeg in 1987 begin toe ’n ma van Despatch aan die polisie rapporteer haar twee seuns is gemolesteer. Mark, toe lid van die narkotikaburo in Port Elizabeth, het opdrag gekry om dit te ondersoek.
Sy oudkollega en vriend Gordon Lamastra – wat hom as ’n joviale persoon, karate-en motorfiets geesdriftige en passievolle, hardwerkende polisieman b eskryf–onthou die dag dat hulle op die flambojante sakeman Dave Allen toe-
Eindelik kan ek rus. Die jammerlike snikke van die verlore seuns van Bird Island het die afgelope 31 jaar by my gespook.
Eindelik is hul storie uit. Chrissy, moenie nou moed opgee nie. Jy is amper daar. Geen staatsamptenaar sal dié keer verhoed dat jy dit ondersoek nie.
Aan my familie, moenie te lank treur nie. Wees verheug dat ek vrede het. Ek het hierdie pad gekies, want ek is nou baie moeg. Ek sien uit na die ewige rus. Ek is tevrede met die besluit. Geen groot begrafnis nie, asseblief