Bin Laden-ma praat oor “goeie seun”
Byna 17 jaar gelede het Osama bin Laden opdrag gegee vir die nagmerrieaanvalle van 9/11. 1. Maar hoe het sy familie gevoel toe die chaos losbars? In dié openhartige onderhoud vertel die Al-Kaïda-leier se ma die eerste keer van haar smart en ongeloof oor d
OP DIE hoekbank sit ’n vrou vol afwagting. Sy het ’n kleed met helder patrone aan, en die rooi hidjab wat haar hare bedek, word in die glaspaneel van ’n kabinet weerkaats. Daarin neem ’n geraamde foto van haar oudste seun ’n ereplek tussen familie-erfstukke in.
Die glimlaggende, bebaarde figuur in ’n militêre baadjie pryk ook op ander portrette in die ruim vertrek. Alia Ghanem is Osama bin Laden se ma. Naby haar sit twee van haar oorlewende seuns, Ahmad en Hassan (Bin Laden se halfbroers), en ook haar tweede man, Mohammed alAttas, wat al drie broers grootgemaak het.
Elkeen in die familie het hul eie storie om te vertel oor die man wat verbind word met die opkoms van wêreldwye
terrorisme en in 2011 tydens ’n klopjag op sy geheime skuilplek in Abbottabad, Pakistan, deur die Amerikaanse spesiale magte doodgeskiet is. Maar vandag is Alia die middelpunt van belangstelling. Ondanks alles bly hy haar geliefde seun. Iewers het iets skeefgeloop en hy het die spoor byster geraak, sê sy.
“My lewe was moeilik omdat hy so ver van my was,” voeg sy by. “Hy was ’n goeie kind en het my baie liefgehad.”
Alia, nou in haar 70’s en nie aldag ewe gesond nie, beduie na Mohammed – ’n lenige, fikse man. Nes sy twee seuns het hy ’n netjies gestrykte, lang wit top aan, ’n kledingstuk wat deur mans oral op die Arabiese skiereiland gedra word. “Hy het Osama grootgemaak vandat hy drie jaar oud was. Hy is ’n goeie man, en hy was goed vir Osama.”
Die familie sit saam in ’n hoek van die herehuis wat hulle deel in ’n gegoede buurt van Djedda, die stad in SaoediArabië wat al generasies lank die tuiste van die Bin Laden-familie is. Hulle is steeds een van dié koninkryk se rykste families. Hul familieonderneming het baie van die bouwerk in die hedendaagse Saoedi-Arabië gedoen. Hul huis weerspieël hul rykdom en invloed. In die middel van die huis is ’n spiraaltrap wat na spelonkagtige vertrekke lei.
Ramadan het gekom en gegaan en oral staan die bakke dadels en sjokolade waarmee die einde daarvan met ’n drie dae lange fees gevier word op tafels rond. Jare lank het Bin Laden, nes die res van Osama se familie, geweier om enigsins oor hom te praat – dwarsdeur die twee dekades wat hy Al-Kaïda aangevoer het en wat meer as nege jaar ná die terreuraanvalle op New York en Washington met sy dood in Pakistan geëindig het.
Nou het SaoediArabi ë se nuwe leiers korps, met die ambisieuse 32-jarige kroonprins Mohammed bin Salman aan die spits daarvan, my versoek toegestaan om met die familie te praat.
Bin Laden se nalatenskap is net so ’n klad op die koninkryk se naam as wat dit vir sy familie is. En senior amptenare meen deur die Bin Ladens toe te laat om hul storie te vertel kan hulle wys ’n uitgeworpene – nie ’n agent nie – was vir 9/11 verantwoordelik. Saoedi-Arabië se kritici beweer al lank Bin Laden het steun van die staat gehad en die families van ’n aantal 9/11-slagoffers het (tot dusver onsuksesvolle) regstappe teen die koninkryk geneem. Vyftien van die 19 kapers het van Saoedi-Arabië gekom.
Toe ek Bin Laden se familie op ’n warm dag vroeg in Junie ontmoet, sit ’n verteenwoordiger van die Saoediese regering in die vertrek, maar sy wend geen poging aan om die gesprek te beïnvloed nie. ’n Tolk sluit ook by ons aan.
Waar sy tussen Obama se halfbroers sit, onthou Alia haar eersteling as ’n skaam seun wat akademies goed gevaar het. Hy het in sy vroeë 20’s ’n sterk en gedrewe figuur geword, vertel sy. Dit was terwyl hy ekonomie aan die Koning Abdulaziz-universiteit in Djedda studeer het. Dis ook hier waar hy geradikaliseer is.
“Die mense by die universiteit het hom verander. Hy het ’n ander man geword.”
Daar het hy onder andere Abdullah Azzam, ’n lid van die Moslem-broederskap, ontmoet wat later uit SaoediArabië verban is en sy spirituele raadgewer geword het.
“Hy was ’n goeie kind tot hy mense ontmoet het wat hom so te sê gebreinspoel het,” sê Alia. “Jy kan dit ’n kultus noem. Hulle het geld vir hul saak gekry. Ek het altyd vir hom gesê om van hulle weg te bly. En hy het nooit teenoor my erken waarmee hy besig was nie, want hy het my baie liefgehad.”
In die vroeë 1980’s is Bin Laden na Afganistan om teen die Russiese besetting te veg. “Almal wat hom aan die begin ontmoet het, het hom gerespekteer,” vertel Hassan die storie verder. “Aan die begin was ons trots op hom. Selfs die Saoediese regering het hom op ’n edel, eerbiedige manier behandel. En toe word Bin Laden een van die moedjahedien (vegters vir Allah en Islam).”
Die familie vertel hulle het Bin Laden in 1999 die laaste keer in Afganistan gesien, ’n jaar waarin hulle hom twee keer by sy basis net buite Kandahar besoek het.
“Dit was ’n plek naby die lughawe wat hulle van die Russe verower het,” vertel
Alia. “Hy was baie bly om ons te ontvang. Hy het ons elke dag rondgewys. Hy het ’n dier geslag en ons het ’n fees gehou en hy het almal genooi.”
Alia begin ontspan en vertel van haar kinderjare in die Siriese kusstad Latakia, waar sy in ’n familie van Alawiete, ’n uitloper van Sjiisme, grootgeword het.
Sy het in die middel 1950’s na SaoediArabië verhuis. Bin Laden is in 1957 in Riaad gebore. Sy is drie jaar later van sy pa, Mohammed bin Laden, geskei en in die vroeë 1960’s met haar tweede man, toe ’n administrateur in die jong Bin Ladensakeryk, getroud. Bin Laden se pa het daarna nog 54 kinders by minstens 11 vroue gehad.
Toe Alia in ’n kamer gaan rus, sit Bin Laden se halfbroers die gesprek voort. Dis belangrik, sê hulle, om te onthou dat ’n ma selde ’n objektiewe getuie is. “Dit is nou 17 jaar (sedert 9/11) en sy is steeds in ontkenning oor Osama,” sê Ahmad. “Sy was baie lief vir hom en weier om hom te blameer. Pleks daarvan blameer sy die mense om hom. Sy ken net sy soetseunkant, die kant wat ons almal gesien het. Sy het nooit sy djihadi-kant leer ken nie.”
“Ek was geskok, verstom,” sê hy nou oor die vroeë berigte uit New York. “Dit was ’n vreemde gevoel. Ons het van die begin af geweet dat dit Osama was; binne die eerste 48 uur. Van die jongste tot die oudste, ons was almal skaam oor hom. Ons het geweet verskriklike nagevolge sal ons almal in die gesig staar. Ons familie wat oorsee gewoon het, het almal na Saoedi-Arabië teruggekeer.”
Hulle was oor Sirië, Libanon, Egipte en Europa versprei. Die familie sê hulle is almal deur die owerheid ondervra en ’n ruk lank verhoed om die land te verlaat. Nou, amper twee dekades later, kan hulle taamlik vrylik binne en buite die koninkryk rondbeweeg.
BIN LADEN se vormingsjare in Djedda was in die taamlik vrye 1970’s, voor die Iranse Revolusie van 1979 waarmee hulle die Soennitiese Arabiese wêreld met Sjiitiese geesdrif wou besiel. Daarna het Saoedi-Arabië se heersers ’n streng vertolking van Soennitiese Islam afgedwing – soos dit sedert die era van die geestelike Muhammed bin Abdul Wahhab in die 18de eeu wyd oor die Arabiese skiereiland toegepas is.
Baie meen dit het later regstreeks tot die opkoms van wêreldwye terrorisme bygedra. Al-Kaïda se wêreldbeskouing – en dié van sy uitloper, die Islamitiese Staat (IS) – is grootliks deur Wahhabigeskrifte ontwikkel. Saoediese geestelikes is al uit alle oorde daarvan beskuldig dat hulle ’n djihadiese beweging aangemoedig het wat dwarsdeur die 1990’s gegroei het, met Bin Laden die middelpunt daarvan.
In 2018 wil Saoedi-Arabië se nuwe leierskorps ’n streep onder hierdie era trek en “’n gematigde Islam” instel soos kroonprins Mohammed dit noem. Hy beskou dit as noodsaaklik vir die oorlewing van ’n staat waar ’n groot, rustelose en dikwels onvergenoegde jong bevolking amper vier dekades lank min toegang tot vermaak, ’n sosiale lewe of individuele vryhede gehad het.
Hervorming begin na baie aspekte van die Saoediese samelewing deursypel; van die duidelikste tekens hiervan was toe die verbod op vroulike motorbestuurders in Junie opgehef is. Rolprentteaters het geopen. Maar politieke vryhede bly taboe – die mag het meer gesentraliseer geraak en teenspraak word gereeld onderdruk.
Bin Laden se nalatenskap bly een van die koninkryk se dreigendste kwessies. Ek ontmoet prins Turki al-Faisal by sy villa in Djedda. Hy was 24 jaar lank – van 1977 tot 1 September 2001, 10 dae voor die 9/11-aanvalle – die hoof van die Saoediese Intelligensiediens. Turki, ’n geleerde man in sy 70’s, dra groen mansjetknope met die Saoediese vlag daarop aan die moue van sy lang top.
“Daar is twee Osama bin Ladens,” sê hy. “Een vóór die einde van die Sowjetbesetting van Afganistan, en een daarna. Voorheen was hy merendeels idealisties, nie ’n vegter nie. Hy het self erken hy het tydens ’n geveg flou geword, en toe hy bykom, was die Sowjet-aanval op sy posisie afgeweer.”
Toe Bin Laden na Djedda terugkeer, aangespoor deur die stryd en die Sowjetnederlaag, was hy ’n ander man, vertel Turki. “Hy het van 1990 ’n meer politiese houding ontwikkel. Hy wou die kommuniste en Suid-Jemeense Marxiste uit Jemen gooi. Ek het hom ontvang en vir hom gesê hy moet eerder nie betrokke raak nie. Die moskees van Djedda het die Afgaanse voorbeeld gevolg.”
Hiermee bedoel Turki die eng vertolking van die geloof soos die Taliban dit voorgestaan het.
“Hy het Saoediese aanbidders opgesweep. Hy is aangesê om daarmee op te hou.
“Hy was uitdrukkingloos,” vertel Turki verder. “Hy het nooit gegrynslag of geglimlag nie. In 1992 het ’n groot vergadering wat deur Nawaz Sharif se regering gereël is in Pesjawar, Pakistan, plaasgevind.”
Afgaanse stamleiers het in daardie stadium vir Bin Laden ’n toevlug gebied.
“Daar is ’n beroep gedoen op Moslemeensgesindheid; dat die leiers van die Moslem-wêreld moet ophou om mekaar in die hare te vlieg. Ek het hom ook daar gesien. Ons het oogkontak gemaak, maar nie gepraat nie. Hy het nie na die konink-
‘Hy het inderdaad daarin geslaag om ’n oorlog te ontketen, maar nie die een wat hy verwag het nie’
ryk teruggekeer nie. Hy is na Soedan, waar hy ’n heuningonderneming opgebou het.”
In ballingskap het Bin Laden ál meer aktivisties geword.
“Hy het altyd verklarings aan almal gefaks. Hy was baie krities. Die familie het hom probeer ontmoedig – met sendings na hom en so meer – maar hulle was onsuksesvol. Hy het waarskynlik gevoel die regering neem hom nie ernstig op nie.”
Teen 1996 was Bin Laden terug in Afganistan. Turki sê die koninkryk (SaoediArabië) het geweet hulle het ’n probleem en wou hê hy moet terugkom. Turki het na Kandahar gevlieg om die destydse leier van die Taliban, Mullah Omar, te ontmoet. “Hy het gesê: ‘Ek is nie ongeneë om hom uit te lewer nie, maar hy was die Afgane baie behulpsaam.’ Hy het gesê hy het volgens Islamitiese voorskrifte aan Osama skuiling gebied.”
Twee jaar later, in September 1998, het Turki weer na Afganistan gevlieg, en dié keer is hy deeglik afgejak. “Op die vergadering was hy ’n ander mens,” vertel hy oor Omar. “Baie meer terughoudend, en hy het baie gesweet. Pleks van die kwessie rustig bespreek, het hy gesê: ‘Hoe kan jy hierdie waardige man vervolg wat sy lewe daaraan wy om Moslems te help?’ ”
Turki sê hy het Omar gemaan dat wat Osama doen die mense van Afganistan skade sal berokken. Toe is Turki daar weg.
Die familie se besoek aan Bin Laden in Kandahar was in die volgende jaar ná ’n Amerikaanse missielaanval op een van Bin Laden se woonkwartiere – dit is uitgevoer in reaksie op Al-Kaïda-aanvalle op die Amerikaanse ambassades in Tanzanië en Kenia. Skynbaar kon sy familielede Bin Laden maklik opspoor, anders as die Saoediese en Westerse intelligensienetwerke.
Volgens amptenare in Riaad, Londen en Washington was Bin Laden toe al vir teenterrorismeorganisasies die no. 1-teiken ter wêreld, ’n man wat daarop uit was om Saoediese burgers te gebruik om ’n wig tussen die Oosterse en Westerse beskawings in te dryf.
“Geen twyfel bestaan dat hy opsetlik Saoediese burgers vir die 9/11-sameswering gekies het nie,” sê ’n Britse intelligensiebeampte vir my. “Hy was oortuig dit sou die Weste teen sy tuisland laat draai. Hy het inderdaad daarin geslaag om ’n oorlog te ontketen, maar nie die een wat hy verwag het nie.”
Turki maak daarop aanspraak dat sy intelligensieagentskap in die maande voor 9/ 11 geweet het iets kommerwekkends word beplan.
“In die somer van 2001 het ek een van die waarskuwings oor iets verskrikliks wat binnekort sal gebeur na die Amerikaners, Britte, Franse en Arabiere geneem. Ons het nie geweet waar nie, maar ons het geweet iets is aan die broei.”
BIN LADEN is steeds ’n gewilde figuur in party dele van Saoedi-Arabië onder dié wat glo hy doen God se werk. Hoe sterk sy steun is, is moeilik om vas te stel. Die oorblywende lede van sy gesin is intussen weer in die koninkryk toegelaat: Minstens twee van Bin Laden se vroue (van wie een by hom in Pakistan was toe hy doodgeskiet is) en hul kinders woon nou in Djedda.
“Ons het ’n baie goeie verhouding met Mohammed bin Nayef, die voormalige kroonprins, gehad,” vertel Ahmad vir my terwyl ’n huiswerker die etenstafel naby ons dek. “Hy het die vroue en kinders laat terugkeer.”
Maar al kan hulle vrylik in die stad rondbeweeg, mag hulle nie die koninkryk verlaat nie.
Bin Laden se ma sluit weer by die geselskap aan. “Ek praat feitlik elke week met sy harem,” sê sy. “Hulle woon hier naby.”
Ek vra die familie oor Osama se jongste seun, Hamza (29), wat vermoedelik in Afganistan is. Verlede jaar het Amerika hom amptelik tot ’n “wêreldwye terroris” verklaar. Dit lyk of hy die mantel by sy pa oorgeneem het onder die wakende oog van Al-Kaïda se nuwe leier en Bin Laden se oudadjunk, Ayman al-Zawahiri.
Sy ooms skud hul kop. “Ons het gedink ons almal is klaar daarmee,” sê Hassan. “En toe ek weer hoor, sê Hamza: ‘Ek gaan my pa se dood wreek.’ Ek wil dit nie weer deurmaak nie. As Hamza nou voor my gestaan het, sou ek vir hom gesê het: ‘God lei jou. Dink twee keer oor wat jy doen. Moenie in jou pa se voetspore volg nie. Jy sal aaklige dele van jou siel binnegaan.’ ”
Hamza se volgehoue opgang kan die familie se pogings fnuik om hul verlede af te skud. Dit kan ook die kroonprins se pogings belemmer om ’n nuwe era te skep waarin Bin Laden as die afwyking van sy generasie beskou word en waarin ekstremiste nie meer die streng leerstellings wat die koninkryk eens aangehang het, kan gebruik om hul optrede te regverdig nie.
Al is daar voorheen probeer om veranderings in Saoedi-Arabië teweeg te bring, was dit nie naastenby so uitgebreid soos die huidige hervormings nie. Dit bly ’n ope vraag hoe ver Mohammed bin Salman dit kan voer in ’n samelewing wat tot ’n onversetlike wêreldbeskouing geïndoktrineer is.
Saoedi-Arabië se bondgenote is optimisties, maar ’n Britse intelligensiebeampte met wie ek gepraat het, het om versigtigheid gemaan. “Selfs as Salman nie deurbreek nie, sal daar nog baie Osamas wees,” waarsku hy. “En ek is nie seker of hulle die vloek sal kan afskud nie.”