Huisgenoot

Troos vir Andrea Venter se pa

Ná die wrede moord op sy dogter het Dries ook sy vrou verloor; nou help sy nuwe vrou sy hart heel

- Deur JANA VAN DER MERWE

DIT is ou wonde wat nooit werklik sal genees nie, selfs al het hy vir die eerste keer in baie jare nou ’n bietjie troos teen die seer.

Sewe jaar gelede is Dries Venter se lewe aan skerwe geruk toe sy dogter op 25 vermoor word en haar ekskêrel, haar vermeende moordenaar, daarna landuit vlug. Vyf jaar later is sy vrou dood; “aan ’n gebroke hart”, het die mense gesê.

Sy kind se eks is in hegtenis geneem, maar het landuit gevlug nadat hy op borgtog vrygelaat is. Hy het ’n tweede keer weggekom nadat hy in Brasilië aan- gekeer is, maar daar vrygelaat is.

Waar Dries sy storie in die tweede seisoen van die VIA- program Huisgenoot: Ware Lewensdram­as vertel, onthou hy hierdie verpletter­ende tyd in sy lewe so helder asof dit gister gebeur het. Die aflewering oor die lewe en dood van sy dogter, Andrea Venter, is pas uitgesaai.

Dries en Annetjie was 45 jaar getroud toe sy op 28 Januarie 2016, vyf dae ná haar 63ste verjaardag, in hul huis “aan haar hart” oorlede is.

Sy het nooit die gemis van hul dogter oorkom nie, die pragtige Andrea wat so wreed gesterf het nadat Gerhard Jansen van Vuuren haar glo volgens ooggetuies buite haar woonstel met sy knipmes doodgestee­k het.

“Ná Annetjie se dood het ek snags soos ’n wandelende gees van die een kamer na die ander gestap,” vertel Dries. “Ek het in my slaapkamer op die vloer geslaap. Ek kon nie op die bed slaap nie, want dit is waar ek al die jare langs Annetjie geslaap het.

“Ek is werk toe en huis toe. Ek het geleef van brood en koffie soggens; brood en melk saans . . .”

Oral in sy huis hier in Rustenburg, waar Andrea en haar ouboet, Kobus (45), grootgewor­d het, is foto’s van Andrea uitgestal. Bo die televisie is nou ook die geraamde foto van haar ma, wat haar na haar dood gevolg het.

Maar deesdae is hier ’n nuwe vrou in die huis, iemand wat Dries se gebroke hart help heel word.

Naby hom sit sy tweede vrou, Daleen. Die geskeide donkerkopv­rou (53) is die steunpilaa­r met wie hy op 21 Januarie verlede jaar getroud is, byna ’n jaar ná sy eerste vrou se dood.

Daleen pink saam met Dries ’n traan toe hy sê: “Ja, nadat ek Daleen ontmoet het, was die lewe darem meer normaal.”

Hy kyk ’n oomblik lank met waardering na haar. “Ek het vir die eerste keer weer gekookte kos gekry om te eet.”

En Daleen is die een wat opstaan om die brief te gaan haal wat Dries so graag aan Gerhard wil gee as hy die dag weer vasgetrek word . . .

NÁ Annetjie se dood het Dries gevoel asof hy niks oorhet om voor te leef nie, erken hy. Boonop moes hy worstel met die wete dat Gerhard op vrye voet verkeer en die gereg ontduik.

Gerhard is aangekeer op 2 Mei 2011, die dag toe hy Andrea na bewering vermoor het buite haar woonkomple­ks in Fourways, noord van Johannesbu­rg.

Dit was vir Dries ’n slag toe Gerhard borgtog kry en nog erger toe hy nie op 20 Mei 2013 vir sy verhoor opdaag nie. Hy het landuit gevlug, maar is daardie Augustus in Brasilië vasgetrek.

Hy is hier weens ’n vervalste paspoort en omkopery vir vier jaar en vier maande tronk toe gestuur. Maar vroeg in 2016 het die IT-spesialis wéér tussen neus en ore verdwyn toe ’n regter hom per ongeluk vrylaat.

Die brief wat Dries aan hom wil gee as hy die dag aangekeer word, is in groot swart hoofletter­s getik.

Dit is vol verwyt, want Dries verkwalik hom nie net vir sy dogter se dood nie; ook vir sy eerste vrou s’n. Hy onthou hoe Annetjie destyds met hul aankoms by die Douglasdal­e- polisiekan­toor ineengesto­rt het nadat hulle moes hoor hul kind is dood.

Nou vertel hy: “Mense sê my hulle glo sy het haar doodgetreu­r. Ná Andrea se dood het sy ál stiller geword.”

Hy en Annetjie het ná hul dogter g se dood naderhand nie meer elke dag daaroor gepraat nie. “Dit was net die gemis; die gemis was altyd d daar.”

Dries se hande e bewe toe hy die e brief aangee. Dit t lui: Baie, baie dankie dat jy ons met jou teenwoordi­gheid vereer. Jy weet wat jy gedoen het. Die lang arm van die gereg het jou opgespoor. Jy is terug om jou vonnis uit te dien wat jy verdien het toe jy Andrea Venter met jou knipmes vermoor het. Jy smeek verniet by my; dit sal jou niks help nie!

Dan sluit hy die brief af: My vrou is oorlede weens die hartseer wat jy veroorsaak het deur Andrea dood te maak. Eintlik is jy verantwoor­delik vir my vrou se dood ook. Met ander woorde: twéé moorde!

Oor Gerhard sê Dries nou: “Ek wil hom nie eens aanrand nie. Ek wil net sien hulle boei hom en vat hom tronk toe. ’n Mens kom dalk een keer, dalk twee keer, maar nie sommer ’n derde keer weg nie.

“As hulle hom nou kry, sluit hulle hom toe. Dan wil ek hom net die brief daar in die beskuldigd­ebank gee, omdraai en wegstap.

DALEEN en Dries het mekaar vier maande ná Annetjie se dood ontmoet. ’n Familielid van haar was ’ n vriendin van Annetjie, maar sy het Annetjie nooit geken nie. Daleen vertel: “Dries het die dag by my kom koffie drink. Toe ek die hekkie oop- sluit en hy sien my, het hy gesê: ‘Hier is my trouvrou.’ ”

Sy het later uitgevind Dries kan nie kook nie en dat die ergste vir hom was dat niemand hom meer saans by die huis ingewag het nie.

“Hy was stukkend toe ons mekaar ontmoet. Terwyl hy gehuil het, het ek hom getroos terwyl hy my alles vertel het van Andrea se moord. Ook oor Annetjie en hoe hy die dag haar lewe probeer red het deur vergeefs noodhulp toe te pas.

“Ek het sy seer en verlies verstaan, want ek het destyds my pa verloor. Dries sou ruk soos hy huil, en ek sou sy hand vashou en sy kop teen my bors vasdruk.”

Sy vertel haar pa, Hannes Potgieter, is in 2012 op 82 op sy plaas in Noordwes dood nadat ’n slang hom gepik het.

Daleen het begrip gehad vir Dries se seer. “Ek kon dit verstaan, want ek het ook iemand na aan my hart verloor. Dit is daardie kameraadsk­ap wat ’n mens die meeste mis. Ek het vir hom gesê: ‘As jy wil praat, praat met my.’ Dit is al manier om ontslae te raak van wat binne aangaan en beter te voel. ’n Mens dra mooi herinnerin­gs saam met jou oor die geliefdes wat jy aan die dood afgestaan het.”

Terwyl Daleen praat, kyk Andrea en Annetjie vanuit hul geraamde foto’s toe. “Ek glo Andrea en Annetjie beweeg saam met ons in hierdie huis,” sê Daleen. “Hulle weet alles wat ons doen en waar ons gaan. Hulle is in die gees by ons en ek weet dit vertroos hom.”

Die twee se troue in die Hervormde kerk Rustenburg-”Suid was ’n intieme geleenthei­d met die onthaal in die kerksaal. “Ek het alles self gemaak en gedoen,” vertel Daleen. “Ek dink dit was ’n nuwe hoofstuk vir ons albei.”

Haar eerste huwelik het net vyf jaar gehou, sê Daleen, die ma van drie opgeskote kinders. Maar nou het sy weer geluk gevind.

“Ek en Dries doen alles saam. Ons gaan saam winkels toe; dis net wanneer ek bak dat hy rekenaarsp­eletjies speel. Ek verruil hom vir niks en niemand.”

Huisgenoot: Ware Lewensdram­as word op Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Die heruitsend­ings kom op Sondae om 21:00 aan die beurt.

 ??  ?? HOOFFOTO: Dries Venter se geliefde dogter, Andrea, is na bewering wreed deur haar ekskêrel Gerhard Jansen van Vuuren (LINKS ONDER) vermoor. Vyf jaar later het haar ma, Annetjie, aan ’n hartaanval gesterf.
HOOFFOTO: Dries Venter se geliefde dogter, Andrea, is na bewering wreed deur haar ekskêrel Gerhard Jansen van Vuuren (LINKS ONDER) vermoor. Vyf jaar later het haar ma, Annetjie, aan ’n hartaanval gesterf.
 ??  ??
 ??  ?? Annetjie en Andrea was baie geheg aan mekaar. Dit was Annetjie wat Andrea na haar balletklas­se en kooroefeni­nge aangery het. Mense glo sy het haar doodgetreu­r oor haar dogter wat op 2 Mei 2011 vermoor is.
Annetjie en Andrea was baie geheg aan mekaar. Dit was Annetjie wat Andrea na haar balletklas­se en kooroefeni­nge aangery het. Mense glo sy het haar doodgetreu­r oor haar dogter wat op 2 Mei 2011 vermoor is.
 ??  ?? Dries het ná die verlies van sy dogter en vrou by die geskeide bakster Daleen geluk gevind. Hulle het begin 2017 getrou. Daleen vertel Dries was stukkend weens die groot verlies toe hulle mekaar vier maande ná sy vrou se dood ontmoet.
Dries het ná die verlies van sy dogter en vrou by die geskeide bakster Daleen geluk gevind. Hulle het begin 2017 getrou. Daleen vertel Dries was stukkend weens die groot verlies toe hulle mekaar vier maande ná sy vrou se dood ontmoet.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa