Huisgenoot

Survivor se Tom: “Ek is nié so nie!”

Tom Swartz, die nuutste Survivor SA-wenner, was ’n moeilike kalant op die stel, maar dis glo nie wie hy werklik is nie

- Deur SHANAAZ PRINCE Foto’s: CORRIE HANSEN

DIT was die gewone dinge wat hy die meeste gemis het: boodskappe van sy vrou, om saans teen haar te lê, om sy seun bedags by die skool af te laai.

Maar dit was ongetwyfel­d die verlang werd, want vandag sit Tom Swartz (41) met R1 miljoen in sy bankrekeni­ng.

Hy het dié prysgeld gewen toe hy ná 39 dae vol ontberings op ’n verre eiland in die Filippyne as die wenner van die sesde seisoen van Survivor South Africa aangewys is.

“Ek het dit reggekry!” het die pa van twee van Port Elizabeth gejuig nadat hy as wenner aangewys is in die laaste nael- byt-stamberaad wat onlangs regstreeks uit Kaapstad uitgesaai is.

“Al die harde werk, al die emosionele gesukkel, het tot daardie finale stamberaad gelei – en ek het gewen.

“Dit word nou eers werklik,” vertel Tom ’n dag later waar hy vrolik aan ’n brandewyn-en-Coke sit en teug by die Radisson Red-hotel in die V&A Waterfront in Kaapstad.

“Voor Survivor het ons nie eens geweet waar die geld vir my seun se rugbystewe­ls vandaan gaan kom nie. Ek het ’n gevoel dit gaan nou verander.”

By hom is sy vrou, Nicci (43), en hul kinders, Yasmin (24) en Dyllan (14), wat almal toegegooi word deur boodskappe van vriende en familie wat hulle met die groot meevaller gelukwens.

Selfs Nicci, ’n bedryfsbes­tuurder by ’n teenstropi­ngseenheid, moet nou aan die kollig gewoond raak.

“Jy kan dit nie glo nie,” sê sy. “Mense stop my in Woolworths en sê: ‘Jy’s mos Tom se vrou.’ Ek het nie gedink mense sal my herken nie, maar daar’s beslis ’n reuseklomp aanhangers.”

Hoewel hy ’n omstrede figuur op die eiland was, hou Tom vol hy is weg van die kameras net ’n sagmoedige reus met ’n hart vol liefde vir sy naaste.

Dit was vir hom moeilik om byna ses weke lank weg te wees van sy gesin, erken hy.

“Soms op die eiland sou ek enigiets gee om net ’n ‘Moenie die melk vergeet nie’WhatsApp-boodskap van my vrou te kry,” onthou hy.

Hy het veral verlang na ’n klein ritueel wat hulle saans het: Sy lê op sy bors en hy krap haar kop tot sy wegdommel.

“Ek het nie geweet wat om met my hande te doen nie. Dit was die vreemdste ding,” vertel hy met ’n laggie.

“My vrou gaan my vermoor, maar ek het dit ’n paar keer met (die ander deelnemers) Chane en Annalize gedoen.”

WAAR Tom ook al sy voete op die eiland gesit het, het drama gevolg. Sy eie spanmaats het hom beswadder en hy was betrokke by eindelose stryery en rugstekery.

Geen kyker of mede-eilandbewo­ner sou aanvanklik kon voorspel hy gaan wen nie, en dit was tot op die laaste ’n naelbytkom­petisie.

Tom het in die eindronde beland saam met die Kaapse radioprogr­amvervaard­iger Jeanne Michel, en ses van die sewe jurielede, almal vorige Survivor-spelers, het toe gestem hy moet wen.

“Hulle het hul taak ernstig opgeneem,” sê Tom. “Hulle het hulle nie deur hul emosies laat lei nie en vir die een gestem wat die beste gespeel het.”

Die voormalige bestuurder van ’n teenstropi­ngseenheid en avontuurka­mpe glo as die spel net fisiek was, was dit kinderspel­etjies. Hy het immers fisiek goed gevaar, hongerpyne en ’n maagseer oorkom en daarby ook ou beserings wat hy opgedoen het tydens sy destydse teenstropi­ngsdae. Maar niks kon hom op die emosionele kant daarvan voorberei nie.

“Soms het ek gedink ek gaan dit nie maak nie,” onthou hy. “Niks was opbeurend nie . . . en wanneer daar wel iets was, was dit bitter kort.”

Vir Tom was een van sy donkerste oomblikke toe hy nie sy woord gehou het nie en Werner Joubert, ’n pastoor en biokinetik­us van Secunda, uitgestem het.

“Ek het daardie aand by die vuur staan en dink: Is dit nou die moeite werd? Is dit wie ek is; die ou wat sy woord hou net so lank as wat dit hom pas?”

Dit was vir sy gesin moeilik om te sien hoe hy swaarkry.

“Dit het my ondergekry; ek kan nie jok nie,” sê Nicci. “Ek het groot respek vir Tom. Terwyl ek die reeks gekyk het, het dit gevoel asof hy nie die respek kry wat hy verdien nie. Dit het my hart gebreek.”

Maar wanneer kykers haar op straat herken, wys hulle hulle steun haar man.

“Mense het nog nooit iets leliks oor hom vir my gesê nie. Hulle het wel iets te sê gehad oor sy tafelmanie­re. Hulle het gevra of hy regtig sulke swak maniere het, en dan het ek geantwoord: Nee, hy was beslis net baie honger.”

DIT was nie net Tom wat swaargekry het deur weg te wees van sy mense nie; vir hulle was dit net so erg. Dit was byna ondraaglik om nie te weet hoe dit met hom gaan terwyl hy op die eiland is nie.

“Hy’s ’n baie betrokke pa. Ons het hom regtig gemis op Dyllan se verjaardag en op Valentynsd­ag,” vertel Nicci. “Die huis weergalm wanneer hy nie hier is nie.”

Yasmin woon in Kaapstad; dus was haar pa se afwesighei­d nie vir haar so erg soos vir haar ma en broer nie.

“Mense het hom basies as ’n skurk beskou,” sê Yasmin. “Ons het net daaroor gelag, want ons weet mos dis nie regtig hoe hy is nie. Hy’s nooit lelik nie.”

Noudat Tom ’n kitsmiljoe­nêr is, wil hy van die geld gebruik vir hul huis, want hulle het dit byna verloor toe dit geldelik swaar gegaan het met hom. Hulle wil nie hieroor uitbrei nie, maar Nicci sê dit was net ’n moeilike finansiële tyd. “Dit het ons laat besef hoe belangrik dit is om ’n dak oor ons kop te hê.”

En Nicci sal die operasie kry wat sy so begeer om haar borste te laat lig. “Ja, dit gaan nog gebeur,” belowe Tom. “Sy’s opgewonde daaroor, en ek ook.

“Ek dink nie dit (die wennery) gaan my verander nie. Ek hoop nie ek word verwaand nie. Dit sal nie oulik wees nie. Maar ek het ’n sterk vrou; sy sal my voete op die grond hou,” sê Tom.

Nou is hulle net bly hy is terug, groot mond, slegte tafelmanie­re en al. “Hy’s welkom om al die lepels in die huis te lek,” sê Nicci. “Ek gee nie om nie.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Tom Swartz van Port Elizabeth het onlangs ’n kitsmiljoe­nêr geword nadat hy Survivor South Africa: Philippine­s gewen het. REGS: Tydens een van die uitdagings. ONDER: By die radioprogr­amvervaard­iger Jeanne Michel, wat tweede was.
HOOFFOTO: Tom Swartz van Port Elizabeth het onlangs ’n kitsmiljoe­nêr geword nadat hy Survivor South Africa: Philippine­s gewen het. REGS: Tydens een van die uitdagings. ONDER: By die radioprogr­amvervaard­iger Jeanne Michel, wat tweede was.
 ??  ?? Voor van links is Tom se vrou, Nicci, hul dogter, Yasmin, en Tom, en agter staan hul seun, Dyllan. Hulle het by die Radisson Red-hotel in die V&A Waterfront in Kaapstad uitgespan nadat hy gewen het.
Voor van links is Tom se vrou, Nicci, hul dogter, Yasmin, en Tom, en agter staan hul seun, Dyllan. Hulle het by die Radisson Red-hotel in die V&A Waterfront in Kaapstad uitgespan nadat hy gewen het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa