ONS VIER ‘N 100 JAAR VAN DIENS DEUR ONS SUKSES TE DEEL.
Wie is AVBOB? Ons naam staan vir begrafnisse en begrafnisversekering. Maar ons is ook baie meer: ons is daardie simpatieke stem wat jy hoor wanneer ‘n geliefde te sterwe kom, ‘n skouer om op te huil, ’n vertroueling deur dik en dun… maar ons is ook ‘n kampvegter vir geletterdheid, ’n oprigter van skole en biblioteke, ‘n borg van die digkuns en sang. 100 JAAR OUD. 100 JAAR STERK. En dit alles het begin met ‘n sonderlinge visie. In die donker nadraai van die Eerste Wêreldoorlog het SuidAfrikaanse soldate die dodelike Spaanse Griep saam met hulle teruggebring. Uiteindelik het meer mense op een dag gesterf as wat gewoonlik in ‘n maand die geval sou wees. Die Suid-Afrikaanse landskap was besaai met massagrafte van die tallose slagoffers van siekte en armoede. Te midde van hierdie verwoesting het ‘ n amper blinde onderwyser, HH van Rooijen, homself daarmee getaak om ‘n begrafnisvereniging – amper ‘n soort stokvel – te stig. Dit was sy oortuiging dat elke mens geregtig is op ‘n waardige begrafnis teen ‘n bekostigbare prys. Een honderd jaar later staan daardie beginsel sterker as ooit vir AVBOB. Op 15 Augustus 1918 het AVBOB formeel tot stand gekom uit ‘n informele groepering wat in 1915 gestig is om onderlinge steun aan sy lede te bied. Hierdie klein begin sou oor dekades heen groei tot een van die sterkste huishoudelike name aan die mees suidelike punt van Afrika. Van Rooijen se benadering was om mense eerste te plaas. Die geld, het hy geglo, was sekondêr, en sou op een of ander manier altyd volg. Sy beleid om ‘mense eerste te plaas’ was ‘n reusesukses, en die vereniging het stadig maar seker gegroei. In 1922 het AVBOB sy eerste voertuig gekoop wat per trein na Bloemfontein vervoer is. Die dae van lykswaens wat deur perde getrek is, was skielik iets van die verlede. In Maart van dieselfde jaar het AVBOB sy eerste staatsbegrafnis, dié van wyle Generaal Christiaan de Wet, behartig. Teen 1928 was AVBOB in ‘n posisie om sy eie lykswaens te vervaardig en het boonop maniere gevind om in reaksie op die groeiende vraag toenemend plaaslike verskaffers te ondersteun. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het AVBOB voor ‘n krisis te staan gekom. Al die roumateriale vir begrafnisware is voorheen ingevoer, maar was nou onverkrygbaar. Teen hierdie agtergrond het AVBOB begin om begrafnisware plaaslik te vervaardig. Die groeiende tekort aan plaatmetaal het daartoe gelei dat konfytblikke herwin en omskep is in pragtige handgeverfde kranse. So was AVBOB ‘trots SuidAfrikaans’ dekades voordat die uitdrukking ontstaan het. Kort voor lank het AVBOB se behoefte aan gespesialiseerde regs-, aktuariële en mediese onderskrywingsdienste daartoe gelei dat hulle Bloemfontein agterweë gelaat en in die mid1950’s hul hoofkantoor Pretoria toe geskuif het. In die mid1960’s is die eerste AVBOB-tak in Namibië geopen.
Gerugsteun deur volgehoue groei, was die organisasie se slagspreuk ‘AVBOB is oral’. En AVBOB was vir almal. In laat 1947 was AVBOB die eerste onderneming wat begrafnispolisse aan alle rassegroepe verkoop het. So het AVBOB getrou gebly aan sy stigter se belofte om bekostigbare, waardige begrafnisse vir alle SuidAfrikaners moontlik te maak.
Ten spyte van die politieke klimaat van die 70's en die tragiese gevolge van die Soweto-opstande het AVBOB sterk gestaan en begrafnisse behartig vir gemeenskapsleiers soos die legendariese Ciskeise stamhoof, Generaal Magoma. Te midde van anti-apartheidsopstande in die middel-80's het AVBOB die begrafnis van Eerwaarde Petrus John Masango, aartsbiskop van die St. John Apostoliese Kerk van Suid-Afrika behartig, ‘n seremonie wat deur 40 000 roubeklaers bygewoon is. Op ‘ n ewe donker dag in 1995 was AVBOB die naam agter die massabegrafnis van 104 mynwerkers wat in die Orkneymynramp omgekom het. Tydens al hierdie gevalle, en nog baie meer, het AVBOB sy verpligtinge nagekom – en verwagtinge oorskry. En dit is net ‘n paar van die redes waarom ons ‘n unieke organisasie is wat diep in die Suid-Afrikaanse siel geburger is. Ons is immers dikwels die eerste oproep wat gemaak word wanneer ‘n geliefde te sterwe kom. AVBOB beskou homself as ‘n familie, en daarom is die hedendaagse AVBOB ‘n bloudruk van hoe diens aan elke SuidAfrikaner gelewer behoort te word om die diepste waardigheid te verseker op die dag wat elkeen van ons onvermydelik begrawe moet word. AVBOB was betrokke by die begrafnisse van elke Suid-Afrikaanse eersteminister en staatspresident. Met die heengaan van Nelson Rolihlahla Mandela op 5 Desember 2013 op die rype ouderdom van 95, is AVBOB se volle institusionele en professionele kundigheid ingespan. Alles is tot in die fynste besonderhede beplan en uitgevoer om ‘n geskikte afskeid vir die geliefde wêreldleier en ikoon te verseker. Ná die afsluiting van die staatsbegrafnis het die AVBOB-span eenparig besluit dat Madiba se begrafnis die grootste eer is wat hulle nog ooit te beurt geval het. AVBOB en Madiba is in dieselfde jaar gebore, en hul paaie het uiteindelik gekruis. Vir die afgelope 100 jaar loop AVBOB se paaie vêr en wyd. Ons bly getrou aan ons handelsmerkbelofte, ‘Ons is hier vir jou', en ons belê in gemeenskappe regoor Suid-Afrika deur ons ondersteuning en bevordering van geletterdheid en opvoeding. Die totstandkoming van die AVBOB Stigting in 2012 het hierdie belofte verder versterk. Want wanneer AVBOB praat van ‘familie', kring ons sirkel van verantwoordelikheid en sorg veel verder uit as ons polishouers en lede. Met die bekendstelling van ons Vraghouerbiblioteek-projek in 2013, het AVBOB onderneem om 50 biblioteke, elk volledig toegerus, aan minderbevoorregte skole in Suid-Afrika te skenk. Dit is nóg ‘n belofte wat ons met trots gestand gedoen het. Kort op die hakke van hierdie mylpaal het AVBOB op Mandeladag 2017, in samewerking met die Departement van Basiese Onderwys, ‘n belegging van R150 miljoen deur die AVBOB Skoleinfrastruktuurprojek aangekondig. Die doel van hierdie inisiatief – die grootste belegging in onderwys wat ‘n enkele onderneming nog ooit in Suid-Afrika gemaak het – is die opgradering van nege minderbevoorregte skole. As ‘n onderlinge vereniging het AVBOB geen eksterne aandeelhouers wat dividende ontvang nie. Oor die jare het ons miljarde rande aan ons lede toegewys in die vorm van spesiale bonusse en gratis begrafnisvoordele. Op 15 Augustus 2018, in ons eeufeesvieringsjaar, wys ons die enkel grootste bonus van R3.5 miljard aan ons lede toe, wat weer eens dui op ons vermoë om ons lede te bemagtig en toegang tot ekonomiese deelname te bewerkstellig. Hierdie onderlinge status weef ‘ n goue draad wat strek van AVBOB se totstandkoming in 1918 tot ons huidige status as ‘n huishoudelike naam. Om ‘n reputasie as ‘n huishoudelike naam te verdien, waarborg egter nie noodwendig groei nie. Daarom, terwyl AVBOB gesien en erken word as die bewaarder en verskaffer van ‘n tydlose ritueel, hou ons ook tred met die jongste tendense en vernuwings. Ons bestaan uit meer as 320 takke, het bykans 8 000 personeellede en honderde sakevennote, wat beteken ons slagspreuk van die 30's is steeds waar: AVBOB is werklik ‘oral'. Al hierdie groei, van sakeverwante uitbreiding tot nuwegeslag digitalisering, is die afgelope paar jaar gekonsolideer en geïntegreer onder die Een AVBOB-beginsel, geskep en ontwikkel deur die huidige bestuurshoof, Frik Rademan, om ‘n eenvormige ervaring aan alle Suid-Afrikaners te lewer. In Julie 2017 het AVBOB nóg ‘n unieke inisiatief aangekondig: ons borgskap van ‘n landwye poësiekompetisie in al 11 ampstale, oop vir alle Suid-Afrikaners, met gebruiksregbetalings vir alle gedigte wat op die kompetisiewebwerf (www.avbobpoetry.co.za)
Die rede hiervoor is weer eens die feit dat AVBOB ‘n mensliewende handelsmerk is wat bly by die verbintenis om na die behoeftes van ons nasie om te sien. Dit is behoeftes wat verder strek as ons kernrol as verskaffer van begrafnisse en begrafnisversekering. Dit is waarom AVBOB in 1951 ‘n onderlinge vereniging geword het en dit is ‘n status wat ons steeds trots handhaaf.