Huisgenoot

PLAAS TOE – VIR ’N DIEPER LIEFDE

’n Jaar nadat hul romanse op TV begin het, het Helene nader aan boer Adriaan getrek, en sy word nou vinnig ’n plaasmeisi­e!

- Deur PIETER VAN ZYL Foto’s: CORRIE HANSEN

DIE romanse wat in die vorige seisoen van Boer Soek ’ n Vrou ontvou het, was so reg uit ’ n storieboek: ’n Skugter skaapboer wat jaar ná jaar gewag het om in te skryf tot hy geweet het hy is reg om iemand in sy lewe te hê, het liefde by ’n petite stadsmeisi­e gevind. Sy het op haar beurt besluit sy wil eers deelneem as sy voel sy vind aanklank by een van die boere. Daardie boer, wat sy in’ n TV-advertensi­e vir die gewilde kykNET-werklikhei­d s reeks gesien het, was Adriaan Geldenhuys. En toe hy Helene Retief die eerste keer ontmoet, het hy dadelik geweet sy is sy droomvrou . . .

Nou, ’n jaar later, blom die liefde steeds op die plaas 10 km buite Riversdal in die Wes-Kaap. Toe Huisgenoot laas hier by Adriaan (28) gekuier het, het hy en Helene (28), toe nog ’n bestuurder van ’n koffierest­aurant in Kaapstad, mekaar net elke tweede naweek te sien gekry.

Maar drie maande gelede het sy sak en pak uit Vredehoek, Kaapstad, na ’ n woonstel op die dorpie aan die voet van die Langeberge getrek om naby haar geliefde boer te wees.

“Dis baie lekker dat sy nou hier is,” sê Adriaan. “Ek hoef haar nie net te vertel hoe dit op die plaas gaan nie; sy beleef dit self.” Dan benadruk hy: “Ek is vrek bly.”

Sy was nie van plan om so vinnig hierdie kant toe te trek nie, erken Helene. “Maar ons het so min van mekaar gesien dat ons mekaar nie beter kon leer ken soos wat ons wou nie. Ons het hard daaroor gebid en besef die beste sal wees as ek nader aan die plaas trek.” Daarby het die eienaar van Bali Trading op die dorp gesê Helene moet met hom kom praat as sy Riversdal toe wil trek. Sy werk nou daar as bestuurder.

“Ek kan nie glo ek het haar so lank in die Kaap laat bly nie,” skerts Adriaan waar ons gesels in die kleurryke sitkamer in die opstal wat hy met sy jonger broer, Divan (26), deel. Helene het ook ’n kamer hier en haar hand is reeds sigbaar in die twee broers se tuiste. Hul pa, Koos (59), en sy vrou, Louize (57), woon ook op die plaas, maar in ’n ander huis. Hul ma, Suzette van der Vyver (56), woon op die dorp. Koos en Divan behartig die graan- boerdery en Adriaan is die skaapboer.

Helene sorg dat daar altyd blomme in die huis is. “En ek het die kombuis ’n bietjie reggepak sodat dit makliker is vir ’n vrou wat help kook,” vertel sy.

Uit ’n kampie agter die huis klink ’n gebulk op. Dis haar troetelkal­f, Fransie.

“Wanneer ek hier is, maak hy my soggens seweuur wakker. Sodra hy my binne hoor praat, moo hy. Dis te oulik . . . Hy is eintlik hier om die gras kort te vreet, maar hy doen nie sy job nie,” gesels die voormalige stadsjapie, nou pure plaasvrou.

TOE seisoen 10 van Boer Soek ’n Vrou verlede jaar begin, het Adriaan geweet dié keer is hy reg om in te skryf. Hy het die reeks van die eerste seisoen af jaar ná jaar gevolg. “Ek het nog altyd gesê ek wil inskryf. Met seisoen 9 het my pa my gevra of ek gaan inskryf, maar ek wou eers wag. Dit was vir my belangrik om te weet ek is reg om iemand in my lewe te hê.”

Helene het Adriaan die eerste keer in Mei verlede jaar in ’n advertensi­e vir die

nuwe seisoen gesien. Sy het daarvan gehou dat hy so passievol oor sy boerdery en Christensk­ap praat. Daarom het sy besluit om vir hom te skryf.

Hy het van die begin geweet Helene is sy droomvrou, maar wou niks laat blyk nie om al die vroue ’n regverdige kans te gee. Hy wou nie die pret bederf nie, ook nie vir die kykers nie.

Teen die einde van die seisoen, wat in Januarie vanjaar uitgesaai is, was hulle al vyf maande lank ’n paartjie. Hulle was verplig om hul verhouding geheim te hou tot die aap uit die mou gelaat is op die kassie. Wanneer hulle op die promenade in Seepunt, Kaapstad, gedraf het, moes hulle ’n entjie van mekaar bly. En in winkelsent­rums moes hulle hulself keer om nie hande vas te hou nie. Nou kan hulle sonder voorbehoud vir die wêreld wys hulle is verlief.

Op 5 Augustus is hulle een jaar saam. Hulle het die mylpaal gevier deur vleis te braai, ’n glasie wyn te drink, en Adriaan het ewe romanties vir Helene rose en ’n kostydskri­f gekoop.

Augustus is ook lamtyd. Nes verlede jaar het Helene hand bygesit. Adriaan is vier keer per dag tussen soggens sesuur en saans tienuur by die lammershok­kie. “Ek help hom om die lammers te ontsmet. Ek is passievol oor diere,” vertel sy.

“Die lekkerste van my lewe is dat wanneer ek teen vyfuur klaar gewerk het daar nog ’n lewe daarna is,” voeg sy by. “Ek kan Adriaan meer ondersteun.”

Vanoggend hang silwer reëndruppe­ls aan die draadheini­ng om die skaapkraal ná ’n buitjie vroeër. “Elke bietjie help,” sug Adriaan.

Die plaas gaan onder ’n sogenaamde “groen droogte” gebuk. Die groen skynsel op die veld laat dit lyk asof daar baie vir die skape is om te eet, maar die weiding is nie genoeg nie en die skape is nie so vet soos vorige jare nie, verduideli­k Adriaan.

“Ons bly maar hoop. Van Januarie af – vra vir Helene – voer ons elke dag die skape.”

Adriaan is ’n voorslag in die kombuis en lief vir kos maak. Hy maak glo ’n malvapoedi­ng wat tot die tannies van die Vrouelandb­ouverenigi­ng jaloers sal maak. Helene kan weer ’ n bobaassuur­lemoentert bak en heerlike bykosse maak wanneer hy braai.

Voor sy hierheen getrek het, moes Adriaan dikwels naweke alleen na vleisbraai­e gaan.

“Nou braai ons in die week,” vertel hy toe hy vir ons die ruim braaikamer met geraamde foto’s van windpompe wys.

Leah, die mak boerbok, loer by die kombuis in. “Gedra jou,” raas Helene gemaak kwaai toe sy aan ons veters begin kou.

“Sy is nes ’n hond,” sê Adriaan. Benji, sy vyfjarige skaaphond, het beter maniere en sit buite en wag om saam met sy baas die merinoskap­e aan te jaag.

Watter raad het hulle vir deelnemers aan vanjaar se seisoen van Boer Soek ’n Vrou?

Wees oopkop, sê Helene. “Daar is die moontlikhe­id om liefde te vind, maar ook om vriendskap­pe te smee, ook met die kameraspan. Liefde begin dikwels as ’n vriendskap. En geniet dit, want dit verander jou lewe, wat ook al die uiteinde is.”

En wat van mense soos hulle wat voor die einde van die seisoen ’ n paartjie word? “Bly weg van Facebook en moenie mekaar in die openbaar soen nie,” lag sy.

As een van die vorige seisoene se suksesverh­ale is sy en Adriaan daarvan bewus dat hul verhouding steeds in die kollig is. “Ons is eintlik bevoorreg,” meen Adriaan.

“Ja, ons is ’ n voorbeeld van geluk, vrolikheid, ontvlugtin­g en positiwite­it,” sê Helene. Hulle vul mekaar goed aan: sy die analitiese perfeksion­is, en hy die sensitiewe dromer.

Maar daar is nog nie sprake van ’n boerebruil­of hier op die plaas nie.

“Daar is nog geen ringe nie,” sê Helene, en Adriaan knik instemmend. Hulle wil nie dinge ryp druk nie. Dinge sal uitwerk soos dit moet, voel hulle.

Tog wonder ’n mens of dit ’n verskuilde skimp is toe jou oog die woorde op die hoederak by die voordeur vang. Daar onder die hoede staan: “Bly kalm en trou ’n boereklong.”

Die 11de seisoen van Boer Soek ’n Vrou word van 18 Oktober af Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

 ??  ?? HOOFFOTO: Dis lamtyd op Adriaan Geldenhuys van Boer Soek ’n Vrou-faam se plaas naby Riversdal, en sy meisie, Helene Retief, is byderhand om te help om die diere te ontsmet.
HOOFFOTO: Dis lamtyd op Adriaan Geldenhuys van Boer Soek ’n Vrou-faam se plaas naby Riversdal, en sy meisie, Helene Retief, is byderhand om te help om die diere te ontsmet.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Hulle braai graag in die week en oor naweke in Adriaan se plaasopsta­l. REGS: Die twee gee haar troetelkal­f, Fransie, melk.
LINKS: Hulle braai graag in die week en oor naweke in Adriaan se plaasopsta­l. REGS: Die twee gee haar troetelkal­f, Fransie, melk.
 ??  ?? Die stoute, hans boerbok Leah maak moles in Adriaan se kombuis, waar Helene graag saam met hom kos maak.
Die stoute, hans boerbok Leah maak moles in Adriaan se kombuis, waar Helene graag saam met hom kos maak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa