Huisgenoot

OMMEKEER VAN DIE ‘ANTICHRIS’

Die stinkryk geldmeeste­r Florian Homm is dekades lank deur geld, mag, seks en dwelms gedryf, maar toe sy skansfonds in duie stort, het hy op die vlug geslaan. Nadat hy ’n rewolwersk­oot en ’n FBI-mensejag weens beweerde grootskaal­seg bedrog oorleef het, is

- (Blaai om)

EENS op ’ n tyd was hy amper R3,3 miljard sterk. Mag, seks en dwelms het hom voortgedry­f. Maar toe stort Florian Homm se skansfonds ineen en hy maak hom uit die voete. Daarna het hy ’ n sluipmoord­poging en ’ n soektog deur die Amerikaans­e speurdiens (FBI) oorleef. Nou beweer die Duitser, wat al “die Antichris van die sakewêreld” genoem is, hy het ’n nuwe blaadjie omgeslaan.

Vir iemand met ’n koeël in sy ruggraat en wie se naam steeds op die FBI se lys van mees gesoekte mense is, lyk Florian Homm merkwaardi­g gemaklik. Waar hy op die terras van ’n vyfsterhot­el in die beboste heuwels net buite Frankfurt, Duitsland, staan, sprei hy sy arms wyd.

“Is dit nie wonderlik nie,” sug hy en vra ’n kelnerin om vir hom vars lemoensap te bring. “Ek is dankbaar vir elke dag. Om ’n mooi uitsig te hê en water uit ’n fontein te hoor. Dis nie te sleg nie.”

Maar in die verte, deur die somerwaas, sien ons die blink wolkekrabb­ers van Frankfurt se sakekern, die middelpunt van Duitsland se finansiële sektor. Dit is hier waar Florian (58), wat ’n skansfonds met bates van R21 miljard bestuur het, meer as twee dekades lank soos ’n Duitse Gordon Gekko koning gekraai het. Dié karakter, gespeel deur Michael Douglas in die flieks Wall Street (1987) en Wall Street: Money Never Sleeps (2010), is bekend vir die sêding: “Gierigheid, by gebrek aan ’n beter woord, is goed.”

Die geldmeeste­r – meer as 2 m lank, blond met ’n skerp neus – rook ellelange sigare en is altyd sonbruin. Hy verlustig hom in sy reputasie as die stoutseun van die Duitse geldmarkte. ’n Vername entreprene­ur met wie hy deurmekaar was, noem hom “die Antichris van die finansiële wêreld”.

“Ek het sewe of agt jaar lank onbetaamli­ke winste gegenereer,” sê Florian trots. ’n Voorste Duitse sakepublik­asie het sy netto waarde in die middel 1990’s op sowat R3 miljard geraam.

Maar toe, in September 2007, verdwyn Florian in die middel van die nag met R8,4 miljoen se kontant wat by sy Calvin Klein-onderklere, sigaarboks­e en tasse ingeprop is. Vyf jaar lank het hy met ’n vals naam in onder meer Colombia in Suid-Amerika gewoon.

Waarom hy op vlug geslaan het, is die onderwerp van uitgerekte misdaadond­ersoeke in Amerika en Europa. As jy Florian glo, het hy ’n diepgaande geestelike en emosionele ineenstort­ing beleef. Dit het uit die ongemaklik­e besef gespruit dat die ontsaglike rykdom wat hy drie dekades lank nagejaag het ’n valse god was en besig was om hom en sy gesin te vernietig, sê hy.

“Ek moes weer mens word. My ver- dwergde siel moes gevoed word. Ek was baie ongelukkig.”

Vandag, verklaar hy, bid hy elke dag, wy hy sy lewe aan liefdadigh­eid en waarsku hy teen die gevaar daarvan om aan die najaging van rykdom verslaaf te wees.

In ’n nuwe dokumentêr­e rolprent, Generation Wealth, word sy katarsis ondersoek. “Florian is die verpersoon­liking van Gordon Gekko,” sê die regisseur, Lauren Greenfield, bekend vir haar dokumentêr van 2012, The Queen of Versailles. “Hy was die duiwel wat godsdiens ontdek het.”

Maar die Amerikaans­e owerheid beskou Florian as die skurk in ’n heel ander moraliteit­sverhaal. In die klagstaat van die Kalifornie­se vervolging­sgesag word beweer hy sit agter ’n reusagtige aandelebed­rogspul waarin mense wat in sy maatskappy­e belê het sowat R1,4 miljard verloor het. Hy het daarna met minstens R371 miljoen spore gemaak. Hulle beweer hy het die geld met eiendomme, goud en kunstransa­ksies oor die wêreld heen gewas. As hy aan al dié aanklagte skuldig bevind word, kan hy tot 225 jaar tronkstraf opgelê word.

“Ek weet ek is reeds in die media skuldig bevind,” sê hy. “Maar ek glo ek is onskuldig. Is dit so ondenkbaar?”

FLORIAN Wilhelm Jürgen Homm is in ’n skatryk familie gebore. Sy grootoom was Josef Neckermann, wie se posbestels­akeryk hom in die 1960’s een van Duitsland se vermoëndst­e mense gemaak het.

Maar Josef, ’n voormalige lid van die Nazi-party, het sy rykdom op onder- nemings gebou wat van Jode onteien is. Ná die oorlog het hy ’n jaar tronkstraf uitgedien. Florian en sy familie het naweke op die Neckermann-landgoed deurgebrin­g. Dit was ’n familie sonder ’n siel. “As kind het ek geen god gehad nie. Mensliewen­dheid was geen faktor in ons familie nie. Sukses het saak gemaak,” sê hy. “Dis nogal hartseer.”

Florian was slim en gemotiveer­d. Hy het aan die Harvard-universite­it studeer en toe aan die Harvard-sakeskool. Tussendeur het hy beleggings gemaak en op 22 was hy ’n miljoenêr. Ná Harvard het hy by Merrill Lynch en toe Fidelity Investment­s aangesluit. Hy is in 1993 daar weg om sy eie maatskappy op die been te bring.

In die laat 1990’s het Florian ’n leidende rol in Duitsland se sakewêreld gespeel, maar hy was ook ’n veragte figuur toe hy ’n “kort posisie” inneem (’n weddenskap dat die aandeelpry­s gaan val) teenoor die eeu oue skeepsboum­aatskappy Bremer Vulkan.

Hy het miljoene gemaak toe die maatskappy in 1996 bankrot verklaar is, maar duisende mense het hul werk verloor.

“Dink jy ek het in die minste omgegee?” vra Florian, geklee in ’n netjiese blou strepieshe­mp en taankleuri­ge langbroek. Hy kap met sy vuis op ’n tafel. “Hoe vinniger dit bankrot geraak het, hoe beter vir my, maar ek het dit nie bankrot gemaak nie: Daardie ouens het swak besluite oor beleggings geneem. Wie sê dit is ’n gewildheid­skompetisi­e? Ek kon slimmer en eleganter gewees het. Nou wat daarvan? Dis ’n vermorsing van my tyd. My ondernemin­g het floreer.”

Sy aandeel van 25% in die Borussia Dortmund- sokkerklub, een van die grootstes in Duitsland, het die klub in 2004 van bankrotska­p gered. Dit het van Florian ’n finansiële en mediasuper­ster gemaak.

Nadat meervoudig­e sklerose in 2000 by hom gediagnose­er is, het hy ter wille van sy gesondheid na Majorka, een van Spanje se Baleariese Eilande, getrek. Sy nuwe skansfonds, Absolute Capital Management, het in dié tyd blykbaar ’n reusewins gemaak en in 2006 is dit as die topskansfo­nds in Europa aangewys.

Sy sukses het hom ontsaglik ryk gemaak. Hy het privaat stralers, ’n seiljag,

Hy verlustig hom in sy reputasie as die stoutseun van die Duitse geldmarkte

‘As daar ’n prys op jou kop is, is dit dalk sinvol om jou skaars te hou’

dieretuin, kunsversam­eling en eiendomme, wat miljarde werd was, oral in die wêreld besit. Hy het selfs ’n aandeel in Artemis, Duitsland se grootste bordeel, gehad.

Maar hy het ’n knaende leegheid begin voel, vertel hy my, en ál minder tyd saam met sy vrou, Susan Devine, en hul twee kinders, Conrad en Isabella, deurgebrin­g.

“Die ure het langer geraak. Die fondse groter. Jy moes groter beleggings maak. Jy het ryker geword. Maar jou tyd het gekrimp. Jou siel het gekrimp. My vrou het vervreem gevoel, want die mens met wie sy getrou het, was op ’n ander planeet.”

In 2006 is hy en Susan uitmekaar en sy het met die kinders na Florida in Amerika getrek. Hy het ’n 27-jarige voormalige ontkleedan­seres uit Rusland in sy huis van R35 miljoen in Majorka laat intrek.

“Sy was ’n bewys van hoe laag ek gedaal het,” skryf hy in sy outobiogra­fie. “Sy was ’n bottelblon­dine sonder ’n brein met haarverlen­gings, vals borste en vals naels.”

Die besef dat sy lewe aan die uitrafel was, was nog sterker nadat hy in Caracas, Venezuela, geskiet is. “Caracas is ’n morsige plek,” sê hy. “Ek is ’n ou in die kollig. Ek het ’n paar vyande.”

Op pad van die lughawe is hy en sy lyfwag in ’n lokval gelei. “’n Polisiemot­orfiets met twee mense kom nader. Boem! Boem! Boem! Die glas bars. Hy skiet die bleddie lyfwag in die knie en my in die bors. Hoekom wil hy my van twee voet af wegblaas? Met ’n .38 op daardie afstand kan jy ’n olifant doodmaak.”

Die aanvallers het sy vriend se Rolex-horlosie gesteel. Florian het die bloed wat uit sy eie bors gevloei het, gestuit met ’n rol banknote wat by sy skoene ingedruk was. In ’n ses uur lange operasie is sy milt en die helfte van ’n long verwyder, maar die koeël het in sy ruggraat vasgesteek. Vandag het hy ’n litteken van sy borsbeen tot by sy naeltjie.

Hy meen dit was ’n sluipmoord­poging in opdrag van een van sy hordes vyande – van die Russiese mafia tot SerwiesKro­atiese afpersers. “Wat meer het jy nodig? Is dit nie genoeg dat ’n koeël jou tref en jy byna sterf nie? Is dit nie genoeg dat jou vrou en kinders jou ná ’n verhouding van 20 jaar verlaat nie? Ek bedoel, wat meer het ek nodig gehad om die boodskap te kry?

“Ek het nie wakker geskrik en die mooi dinge in die lewe begin waardeer nie. Ek het nie geweet hoe nie. Ek was ’n zombie. Partytjies gehou. Met meisies uitgegaan. Kokaïen gesnuif. Ek het nog nie ’n nuwe aksieplan vir my lewe begin volg of eens geweet wat die nuwe plan is nie.”

Dit was min of meer in dié tyd dat hy begin planne maak het om te verdwyn. Volgens die Amerikaans­e klagstaat en ’n Switserse ondersoek het hy ook miljoene na Switserse en ander bankrekeni­ngs oor die wêreld heen oorgeplaas.

Aanklaers beweer dit was nadat ’ n fluitjiebl­aser in 2006 ’n e-pos aan aandeelhou­ers gestuur het waarin hy Florian daarvan beskuldig dat hy die aandelehan­del gemanipule­er het. (Florian sê die fluitjiebl­aser het nou die meeste van die bewerings teruggetre­k.)

Hy het die wêreld se finansiële markte verstom deur op 18 September 2007 in die middel van die nag uit sy skansfonds te bedank nadat hy miljoene van sy eie aandele verkoop het. Sy skansfonds het ineengesto­rt, beleggers het honderdmil­joene dollars verloor en hy het soos ’n groot speld verdwyn.

Hy het in ’n privaat vliegtuig van Majorka na die vasteland van Spanje gevlieg en eindelik in Cartagena, Colombia, beland.

Intussen het aanklaers in Amerika, Switserlan­d en elders die verstommen­de kompleksit­eit van sy rykdom begin ontrafel. Die Switserse owerheid het ’n netwerk van meer as 120 bankrekeni­ngs op vier vastelande oopgevlek waarvan hulle meen hy in beheer was.

Hulle het ook ontdek Florian en Susan het ondanks hul egskeiding verbasend intiem gebly. Uit hofdokumen­te blyk dit dat sy op 1 Augustus 2006, net ses dae voor die skeisaak aanhangig gemaak is, hom in ’n e-pos as Gorgeous aangespree­k het. Sy het dit afgesluit met: “’n Groot drukkie. Ek het jou lief.”

Op 5 September 2006, ’n maand later, het Susan weer vir hom ’n e-pos gestuur: “Hallo, Gorgeous, ek moet baie terughoude­nd wees wanneer ek jou e-pos beantwoord. Kan ek maar ’ n bietjie stroperig wees? Nee, ek sal my inhou.”

In nog een, wat op 28 Augustus 2007 gestuur is, net drie weke voor sy verdwyning, beloof Susan: “As ek kan sukses behaal, sal jy en die kinders met ’n fortuin sit wat nog geslagte lank sal hou.”

Die Switserse owerheid raam hy en Susan het tussen Mei 2006 en Oktober 2007 sowat R461,3 miljoen na ondernemin­gs in beheer van Urs Meisterhan­s, die direkteur van ’n Switserse finansiële­dienstemaa­tskappy, oorgeplaas. Switserse aanklaers het Urs van verswarend­e geldwasser­y aangekla en die saak kom later vanjaar voor.

Maar Florian ontken enige wandade. “Ek het my geld probeer beskerm. Wat daarvan?” het hy in 2014 aan The New York Times gesê. Susan, wat in die Amerikaans­e klagstaat van 2015 ’n “medesamesw­eerder” genoem word, ontken ook skuld. Sy het onlangs ’n siviele saak in Amerika gewen teen beleggers wat geld van haar probeer verhaal het.

Florian verwerp die bewering dat sy egskeiding deel was van ’n skelmstree­k

om h hom sy bates bt te th help l versteek t k en beskerm. “Dit is tot vervelens toe ondersoek,” maak hy dit af.

Terwyl reguleerde­rs en gegriefde beleggers na hom gesoek het, het ’n Duitse privaat speurder namens ’n kliënt ’n beloning van sowat R13,5 miljoen aangebied vir inligting oor waar hy hom bevind. Florian het dit as ’n sluipmoord­dreigement beskou.

Hy erken hy het voor sy verdwyning “’n nuwe identiteit bekom”. Dit blyk hy het in dié jare met ’n Ierse paspoort onder die naam Colin Trainor gereis. Switserse aanklaers het ’n afskrif gekry van dié paspoort in ’n privaat bank waar hulle meen Florian met die alias ’n rekening geopen het.

“Ek gaan nie oor die paspoorte kommentaar lewer nie,” sê hy. “Maar as jy ’n koeël in jou ruggraat het en jy is nie seker of dit ’n rooftog of ’n poging tot moord was nie, en as daar ’n prys op jou kop is, is dit dalk sinvol om jou skaars te hou.”

Hy hou vol hy was geen voortvlugt­ige nie, want daar was destyds geen lasbrief vir sy inhegtenis­neming nie. “As jy ’n baie bekende ou is en jy onttrek uit die openbare oog en word privaat, veroordeel hulle jou as ’n vlugteling, maar dit het niks met die werklikhei­d te doen nie,” sê hy. Hy voeg by hy het in daardie stadium vrywilligl­ik 50 uur lank aanklaers se vrae in Switserlan­d beantwoord.

In 2012, vyf jaar ná sy verdwyning, het hy dit gewaag om te voorskyn te kom. “My prokureurs het gesê die saak het verjaar,” sê hy. “Ek het niks te vrese gehad nie.”

In ’n onbeskaamd­e outobiogra­fie, Rogue Financier: The Adventures of an Estranged Capitalist, erken Florian sy ernstige morele tekortkomi­ngs, maar ontken hy het enige misdaad gepleeg. Hy beweer hy het ’n geestelike ontwaking beleef en wil ander teen die sielsverni­etigende booshede van rykdom waarsku.

In daardie vyf jaar het hy na meer as 50 lande gereis, vertel hy. “Ek het antwoorde gekry: Dat familie saak maak. Kinders is vervullend. Laat ons goeie dinge doen. Om ’n entreprene­ur, skansfonds­bestuurder of ziljoenêr te wees is nie die antwoord nie.”

Omdat hy gereken het hy is nou veilig, was hy verstom toe hy op 8 Maart 2013 in Florence in hegtenis geneem word. Hy is in ’n Italiaanse maksimumse­kuriteittr­onk aangehou om aan Amerika uitgelewer te word.

“Ek het in die hel beland,” sê hy. As ’n multimiljo­enêr het hy voor gewelddadi­ge pogings te staan gekom om geld van hom af te pers.

“In die 450 dae in die tronk is ek 40 keer verskuif. Die ergste selle was dié vir Moslem-fundamenta­liste en gewelddadi­ge misdadiger­s. Die derde ergste sel – omdat ek sonder ’n milt en die helfte van een long is – was saam met mense met tering, hepatitis C en vigs. Enige van daardie siektes kon my dood beteken het.” Met sy vrylating het hy net 70 kg geweeg.

Tot die ontstelten­is van die Amerikaans­e aanklaers het die Italiaanse howe hom ná 14 maande vrygelaat, want dit is die langste wat mense in Italië vir uitlewerin­g aangehou mag word. Hy het vinnig spore gemaak na Duitsland – ’n land wat nie sy burgers uitlewer nie.

Solank hy in Duitsland bly, is hy buite die bereik van Amerikaans­e en Switserse aanklaers. Amerika verhoor nie mense in hul afwesighei­d nie. “Die enigste ander mens in die afgelope 50 jaar wat nie uit Italië uitgelewer is nie, was ’n baie magtige, misdadige oligarg. En toe ek,” sê Florian.

Hy glo sy geloof en goddelike ingryping het hom gered. Hy meen ook sy meervoudig­e sklerose is in remissie danksy sy geloof. “Geloof is om in die middel van die donkerste nag te glo die voëls sal in die oggend sing,” sê hy.

Deesdae wy hy die meeste van sy tyd aan werk vir sy welsynorga­nisasies, wat gestremde en agtergeble­we kinders help, vertel hy.

Hy het ook sy verhouding met sy eie kinders herstel. “Ek sien my seun en dogter gereeld,” sê hy. Maar hy voeg by sy verhouding met sy eksvrou is baie gespanne weens die voortslepe­nde regsproble­me.

Al is die geld in sy Switserse en ander bankrekeni­ngs gevries en leef hy skynbaar van weinig meer as ’n gestremdhe­idstoelae van sowat R11 550 per maand, beweer die voormalige “meester van die heelal” hy is nou gelukkiger as wat hy ooit was.

“Ek ly nie honger nie, en my blyplek is nou seker 3% van my vorige leefruimte. Daar is geen chauffeur nie. Daar is geen privaat straler wat wag nie.”

Wat hom die blyste maak, is dat hy nie meer “die slaaf van geld, ’n opgeblase ego en wêreldse ambisie” is nie.

Lauren, die regisseur van die dokumentêr oor Florian, erken sy is onseker oor sy inkeer.

“Hy is hierdie Ikarus-figuur wat ál hoër vlieg tot hy val,” sê sy. “Oomblikke van ’n verpletter­ende persoonlik­e of gemeenskap­like ineenstort­ing bring insig, en daarmee saam die moontlikhe­id van veranderin­g, maar dit is nie ’n uitgemaakt­e saak nie.

“Met Florian is die vraag: Het hy regtig verander?”

 ??  ?? HOOFFOTO: Florian Homm in 2007 in Majorka, Spanje, net voor sy verdwyning nadat hy beleggers glo uit miljoene bedrieg het. BO: Hy beweer hy het ’n damaskuser­varing gehad.
HOOFFOTO: Florian Homm in 2007 in Majorka, Spanje, net voor sy verdwyning nadat hy beleggers glo uit miljoene bedrieg het. BO: Hy beweer hy het ’n damaskuser­varing gehad.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BO, van links: Florian saam met sy eksvrou, Susan Devine, en hul seun, Conrad, in die 1990’s; Florian saam met sy dogter, Isabella; hy het sy eerste miljoen op 22-jarige ouderdom gemaak en kon sy geld aan die lewe se luukses bestee.
BO, van links: Florian saam met sy eksvrou, Susan Devine, en hul seun, Conrad, in die 1990’s; Florian saam met sy dogter, Isabella; hy het sy eerste miljoen op 22-jarige ouderdom gemaak en kon sy geld aan die lewe se luukses bestee.
 ??  ??
 ??  ?? ‘Ek was ’n zombie. Partytjies gehou. Met meisies uitgegaan. Kokaïen gesnuif’
‘Ek was ’n zombie. Partytjies gehou. Met meisies uitgegaan. Kokaïen gesnuif’
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa