DIE LIEFDE VIR ONS HOND
Twee boeties se heldetog om vir hul siek hond hulp te soek het hul lewe – en dié van hul bure – verander
IN SY splinternuwe tekkies is hy skaars ’n meter lank; sy boetie is net ’ n paar koppe langer as hy. Maar in die skraal lyfies van dié twee seuns klop sulke groot harte dat hul liefdesdaad mense wêreldwyd ontroer het.
Toe hulle sien hul herdershondkruis is dodelik siek, kon niks hulle keer om vir Meisie hulp te soek nie – nie die snerpende koue van ’n Kaapse winterdag, die staptog van byna 5 km na die naaste dierehospitaal of die feit dat klein Gerry Cedras (8) kaalvoet was en ouboet Peter (14) net R7 in sy sak gehad het nie.
Met die hond van meer as 20 kg in hul arms het hulle vier uur lank van hul ouers se huisie op ’n plaas in die omgewing van Philippi, suidoos van Kaapstad, na die naaste tak van die Diere welsyn svereniging van Suid-Afrika gestap.
Daar is gou vasgestel sy het ’n soort bosluiskoors wat die witbloedselle aantas. As die twee broers haar nie hierheen gebring het nie, sou sy doodgegaan het. Sy is op ’n drup geplaas en het kort daarna ’n bloedoortapping gekry.
Meisie het oorleef danksy die boeties se liefde en toewyding.
“Natuurlik het ons nie oor die R7 omgegee nie,” sê Jaque le Roux, ’n ver- pleër by die dierehospitaal, oor die geld wat Peter vir Meisie se behande- - ling aangebied het. “Ons wou hulle net et help om haar te red.”
Daardie paar muntstukke in die seun un se sak was geld wat hy met los werkies ies verdien en gespaar het om skoene vir sy kleinboet te koop.
Toe Jaque hul verhaal van ruimhartig- i heiden deursettingsvermoë op Facebook deel, het dit diereliefhebbers wyd en syd begeester.
Peter en Gerry het hul vereniging, een van die oudste diere welsynorganisasies in die land, “op die map geplaas”, vertel Jaque. Want van so ver as Nieu-Seeland, Engeland, Swede en Amerika wil mense nou iets skenk. Net vandag het hulle al 215 e-posse ontvang van mense wat wil weet hoe hulle kan help.
Danksy dié skenkings kan die twee broers nou vir die eerste keer splinternuwe klere en skoene dra en weet hulle hoe ’n hamburger en skyfies smaak.
“Ek is al gevra hoekom ons vir Peter en Gerry ’n uitsondering maak, en die antwoord is eenvoudig: Hulle is uitsonderlik. Punt,” sê Allan Perrins, uitvoerende hoof van die vereniging.
“Wat uitstaan, is dat die Cedras-gesin so geseën voel deur die welwillendheid van mense en al l die di skenkings k ki dat d th hulle ll bereid is om dit met ander in die klein gemeenskap op die plaas te deel. Die seuns het wonderlike ouers wat die karakter van die twee jong mans gevorm het,” vertel hy in ’n kantoor bo die dierehospitaal waar Meisie aansterk.
Terwyl ons gesels, kom die twee hondehelde ingestap. “Ons mis Meisie te veel,” kondig Peter aan.
Gerry lyk bekommerd en sê nie veel nie. Hy fluister darem: “Ons is bly Meisie leef.”
VANDAG is dit net so bytend koud buite soos toe hulle op Woensdag 15 Augustus die siek hond die hele pad tot hier gedra het. Maar waar Gerry daardie dag kaalvoet was en Peter ou skoene aangehad het, dra albei nou nuwe tekkies en is hulle warm en netjies aangetrek.
Hulle het weer die hele end van hul
ouerhuis hierheen geloop, maar dié keer er het vyf maats agternagetou. Almal is gretig om vir Meisie te kom kuier by die ie hokke waar siek diere herstel.
“Sy is een jaar oud. Sy wou nie eet nie ie en het net bietjies-bietjies gedrink. Sy het et swaar op die plaas rondgeloop. Dis hoe oe ons geweet het sy is siek,” vertel Peter van an die dag dat hulle haar lewe gered het.
“Ons moes haar help, want sy beskerm m ons teen die skelms en speel altyd saam m met ons,” verduidelik hy.
Meisie én die twee het kort tevore ’n ander ramp oorleef. Die vorige Vrydag ag het ’n brand in hul werkershuisie van n betonstene uitgebreek.
“’n Kers het ongelukkig omgeval terwyl yl ons geslaap het. Ek het my boetie wakker gemaak, en ons moes my ma help om die vlamme te blus,” onthou Peter.
Hulle het geen krag of water in die huis nie en moes saam met hul bure emmers water aandra van ’n dam ’n paar honderd meter daarvandaan.
Hul pa, ’n munisipale werker in Kaapstad, het hom huis toe gehaas. “Hy het geskree: ‘My kinders, my kinders,’ ” vertel Gerry sag.
“Ons is nou besig om die huis reg te maak,” voeg Peter by.
Hy en Gerry het blou pette aan met hul name en die woorde “junior diere-ambassadeur” daarop gedruk. As die vereniging se nuwe jong ambassadeurs is dit hul taak om by hul skool en in hul gemeenskap te verkondig hoe belangrik dit is dat mense hul honde met respek en liefde behandel.
“As jy hulle baie slaan, gaan hulle besluit dis nie meer nodig om jou te verdedig nie,” verduidelik Peter. “Gee hulle eerder kos en water.”
Dié boodskap wil die Dierewelsyns- vereniging oral in die Skiereiland versprei. Allan-hulle is ook met ’n veldtog in Elsiesrivier en Mitchells Plain besig om eienaars te oorreed om hul diere te laat steriliseer.
Ook in die plaasgemeenskap waar die Cedras- gesin woon, is die klompie honde, met name soos Witvoet en Huisbaas, ingeënt en reggemaak nadat Meisie hier in die hospitaal opgeneem is.
Toe haar besoekers by haar hok aankom, spring sy opgewonde teen die hek op. Die twee broers glimlag van oor tot oor terwyl sy hulle om die beurt in die gesig lek. “Meisie, kom jy gou huis toe?” vra Gerry. Sy sal ná twee weke in die dierehospitaal kan terugkeer na die plaas, waar nou sakke vol kos op haar en die ander honde wag. Haar behandeling van altesaam 21 dae sou ongeveer R25 000 gekos het, maar die vereniging het besluit om die koste te dek.
“Ons sit geen diere uit wat ons kan red nie, want ons glo elke dier verdien ’n tweede kans,” vertel Jaque oor hul werk.
By die aannemingshokke is die geblaf oorweldigend. oorwe Dit klink soos ’n smeekkreet: “Neem ons huis toe.”
Tussen 50 en 60 honde wag gewoonlik hier op nuwe huise, en 10 tot 20 katte. Perde, donkies en skape wat van mishandeling gered is, wei vredig in ’n troetelplasie op die terrein. Die vereniging lewer al 89 jaar lank ’n diens hier in Philippi.
By die hek waar ons uitstap, is ’n bordjie opgeplak om besoekers aan te moedig om hul troeteldiere te kom haal. Daarop staan: “Rescued: My favourite breed.”
OP DIE plaas in die Sandvleigebied van Philippi wag Peter en Gerry se ma, Henna, ons in toe ons met die vereniging se bakkie daar opdaag. Dié is swaar gelaai met kos, klere en beddegoed, alles skenkings van weldoeners. “Ek wil net baie dankie sê aan die mense wat gee,” sê sy.
Allan vertel hy bring ook vir hulle ’n bed en matras. In die tweevertrekhuis is nou net ’n enkelbed waarop al vier moet slaap wanneer hul pa, Jerome, ook by die huis is. Peter en Gerry het ’n ouer broer, Trevor (20), maar dié werk en bly op ’n plaas hier naby.
Die huis is ’n verbrande bouval. Binne hang die reuk van rook swaar in die lug, maar die gesin woon steeds daar. Met ’n vorige besoek het Allan ’n muis gesien wat aan kos knabbel en Henna daarop gewys. “Los die muis dat hy hom knuppeldik eet,” het sy toe gesê.
“My ouers het my van kleins af geleer dat ’n mens mooi met diere moet werk,” vertel sy nou. “Ek het die boodskap aan my kinders oorgedra.”
Buite is haar twee jongste seuns met die groot harte vir mens en dier besig om mieliemeel en brode uit ’n geskenksak aan die bure uit te deel . . .
‘Ons sit geen diere uit wat ons kan red nie’