Moord op kind ná 30 jaar nog ’n raaisel
Die onopgeloste moord op ’n vierjarige seun spook al langer as 30 jaar in Frankryk. Terwyl nuwe ondersoeke gedoen word na sy vermeende moordenaars, word die regswendings bekyk van ’n familiesage en vendetta wat mense al dekades lank ontstel en boei
DIT was die laaste keer dat Grégory Villemin vir ’n skoolfoto poseer het. Dis die herfs van 1984. ’n Oulike vierjarige slimkopseuntjie kyk reguit na die kamera en glimlag. Ongelukkig word hy vandag, meer as 30 jaar later, steeds Le Petit Grégory (“klein Grégory”) genoem, want hy het nooit die kans gekry om groot te word nie. ’n Maand nadat die foto geneem is, was hy dood – heel waarskynlik vermoor deur ’n lid van sy uitgebreide familie.
Meer as drie dekades nadat sy byna bevrore lyk gevind is waar dit in die Volognerivier in ’n afgeleë deel van die Vosgesstreek in Oos-Frankryk dryf, is daar steeds geen duidelikheid oor die omstandighede van sy dood nie.
Die saak het die Franse waarskynlik meer as enige ander hedendaagse onopgeloste moord in hul land geboei en ontstel. Dit was die inspirasie vir boeke, rolprente, ’n televisiedrama in ses af- lewerings en duisende koerantberigte. Netflix werk tans ook aan ’n dokumentêre reeks.
Ten spyte van al die ondersoeke en dekking is niemand ooit skuldig bevind nie. Drie mense, almal familielede van Grégory, word nou ondersoek vir hul aandeel in sy ontvoering. En die afgelope Europese somer is hulle onder geregtelike toesig geplaas.
Die saak het verlede jaar in Julie nog ’n wending geneem met die skokkende selfdood van die regter wat oorspronklik aangewys is om die saak te ondersoek. In ’n brief aan ’n Franse koerant het regter Jean-Michel Lambert te kenne gegee die nuwe bewyse wat in die saak opgeduik het, trek sy eie bevindings in twyfel.
“Ek het besluit om myself om die lewe te bring, want ek weet ek sal nie die krag hê om nou te veg in die laaste toets wat vir my voorlê nie,” het hy geskryf.
Die vlaag van regstappe en Lambert se dood het nuwe belangstelling in die saak laat ontstaan.
Joernaliste het soos een mens na Dijon opgemars, maar was teleurgesteld toe die nuwe ondersoekrigtings wat soveel beloof het op niks uitloop.
KORT ná hul seun se dood het Grégory se ouers, Christine en Jean-Marie, die Vosges vir goed verlaat. Al het hulle nog drie kinders gehad, wat nou volwassenes is, het hulle nooit hul eerste seuntjie vergeet nie.
Christine staan nie meer onderhoude toe nie, maar haar jare lange prokureur, Marie- Christine Chastant- Morand, ontmoet my by haar kantoor in Parys. “Hulle was twee eerlike jong mense wat midde-in ’n ingewikkelde geregtelike spiraal beland het,” sê sy. “Hulle moet eindelik weet wat gebeur het. Vir hulle, vir hul kinders en vir Grégory.”
Op die dorpie Lépanges-sur-Vologne in die Vosgesstreek waar die gesin gewoon het, was lank voor Grégory se ontvoering reeds onderstromings. Dit is ’n afgeleë en bekrompe plek, met min om te bied. Werk is skaars en betaling swak.
Twee hooffamilies, die Villemins en Laroches, oorheers die gemeenskap, en die mans in dié families ding teen mekaar mee om ongeskoolde poste by fabrieke en tekstielfirmas. Christine het self lang ure as ’n naaldwerkster gewerk. Die Laroches is meestal as die armer tak van ’n arm familie beskou.
Jean-Marie Villemin is in 1979 met Christine Blaise getroud. Sy was ’n buitestander, ’n indringer, van ’n dorp 60 km na die noorde. Jean-Marie was ’n leier en gesiene man in die Villeminfamilie. Die jong egpaar is as ambisieus, hardwerkend en vooruitstrewend beskou, ten minste aan die flou standaarde van Lépanges gemeet.
Jean-Marie is tot voorman bevorder in ’n fabriek wat motoronderdele vervaardig, en binne ’ n paar maande ná hul troue kon hulle in die huis intrek wat hulle teen die hange bo die dorpie laat bou het.
Hy was sportief, aantreklik en charismaties en het in die familie as le chef, die hoof, bekendgestaan. Soos ’n mens kan verwag, het nie almal in die familie dit waardeer nie. Op dorpies soos Lépanges sal enige sukses, selfs op die nederige skaal wat Jean-Marie geniet het, altyd wrokkigheid stook.
Dit het nie lank geduur voor die bitterheid oorgekook het nie.
Die eerste aanduiding dat iemand op die dorp teen die egpaar gedraai het, was toe hulle in 1981 anonieme foonoproepe by die huis begin kry. ’n Gedempte kraakstem wat nie as manlik of vroulik geïdentifiseer kon word nie, het dreigemente gemaak en intieme besonderhede oor hul huislewe onthul. Die beller was wreed en meedoënloos en het JeanMarie dikwels gespot oor sy begeerte om homself te verbeter.
Sy ouers, Albert en Monique, het ook beledigende oproepe ontvang. Toe begin die briewe aankom. Op die Franse platteland is ’ n lang tradisie van gifpenbriewe: Iemand wat dit stuur, staan as le
corbeau – die kraai of raaf – bekend. Die Lépanges- corbeau het duidelik ’n intieme kennis gehad van wat in die lewe van die dorpsmense aangaan. In ’n brief aan Jean-Marie se ouers vra die corbeau hulle moet hul seun buite in die koue los. “Dis le chef se beurt om soos ’n basterkind behandel te word.”
Die foonoproepe en briewe het mettertyd dreigender geword. Maar die polisie en privaat speurders kon steeds nie die
corbeau identifiseer nie. In daardie stadium het niemand die tegnologie gehad om die oproepe na te spoor nie.
In 1982 het Jean- Marie ’ n ysingwekkende oproep by die werk gekry. Dit was weer die bekende kraakstem. Dié keer was die corbeau spesifiek: “Ek sal ’n koeël tussen jou skouers plant. Aan die ander kant, dalk sal ek nie. Ek sal liewer jou kind kry. Moet hom nie buite los nie. Jy sal hom op die bodem kry.”
Dit kon net die rivier aan die voet van die vallei beteken. Daarna het die foonoproepe opgehou.
CHRISTINE het haar seuntjie op Dinsdag 16 Oktober 1984 die laaste keer lewend gesien.
Sy het hom ná skool by ’n vriend se huis opgelaai. Hulle het met haar Renault huis toe gery en hy het voor die huis gaan speel.
Die radio het hard gespeel terwyl Christine die strykwerk gedoen het. Soos gewoonlik was die hortjies toe; die egpaar het altyd gevoel die corbeau hou hulle dop. Omstreeks halfses die aand het sy uitgegaan om te kyk wat Grégory doen, maar hy was nêrens te sien nie.
Die volgende paar uur het vir Christine en Jean-Marie ’n waas geword. Hulle het oral gesoek, almal gekontak wat hulle
ken, maar daar was geen teken van hul seun nie. Terwyl hulle gesoek het, het Jean-Marie se broer, Michel, ’n oproep by sy huis in Aumontzey, 10 km daarvandaan, gekry.
Dit was die corbeau se spottende stem op die lyn: “Ek het le chef se seun gevat en hom in die Vologne gegooi.”
Die corbeau het sy woord gestand gedoen. Om negeuur die aand het ’n brandweerman Grégory se lyk in Docelles, sowat 6 km stroomaf van die gesinshuis, uit die water gevis. Sy hande en voete was met ’ n dun koord vasgebind, sy wolmus oor sy gesig getrek. Die brandweerman wat hom uit die rivier gelig het, het gehuil.
Die lykskouing het geen merk aan die kind se liggaam getoon wat op ’n struweling kon dui nie. Hy was waarskynlik lewend toe hy in die rivier gegooi is. Sy dood is nie deur verdrinking veroorsaak nie, maar deur skielike blootstelling aan die koue.
Hy was ’n soet seun en het dalk uit vrye wil op daardie laaste reis gegaan. Christine het niks by die huis gehoor nie. Al die bewyse het daarop gedui hy het waarskynlik sy ontvoerder of ontvoerders geken.
Die polisie het op voetspore en buitebandmerke afgekom naby die plek waar Grégory gevind is. Een stel voetspore het waarskynlik aan ’n man behoort; ’n ander stel is deur ’n paar hoëhakskoene gemaak. Later is onthul ’n spuitnaald en leë insulienflessie is naby die rivieroewer gevind. Die medisyne is vermoedelik as ’n susmiddel gebruik.
Die dag nadat Grégory se lyk uit die Vologne gehaal is, het sy pa nog ’n brief van die corbeau ontvang. Dit het die posstempel van Lépanges opgehad. “Ek hoop jy sterf van smart, chef,” het dit gelui. “Jou geld sal nie jou seun terugbring nie. Dit is my wraak, jou bliksem.”
Grégory se begrafnis was ’ n deurmekaarspul vol emosie. Sowat 600 rouklaers en 200 joernaliste het opgedaag. Die polisieondersoek was in volle gang, maar talle ondersoekrigtings is geïgnoreer en forensiese bewyse beskadig. Die beamptes was plaaslike mans en taamlik onbevoeg. En Jean-Michel, die naïewe en onervare jong regter aan wie die saak toegewys is, was nie veel beter nie.
In Frankryk het die ondersoekende landdros in ’n moordsaak die gewigtigste rol. Hy lei die polisieoperasie en ondervra getuies voor ’ n hofsaak. Namate die ondersoek ontvou het, het dit gou duidelik geword Jean-Michel is nie vir die taak opgewasse nie. Hy het basiese foute rakende prosedures gemaak, was indiskreet met getuies en die pers, en het die media-aandag geniet.
Maar sy grootste fout het hy sowat ’n maand ná die moord begaan toe ’n verdagte aan die lig kom – en hy hom laat wegglip. Bernard Laroche, ’n neef van Jean-Marie, is in November 1984 in hegtenis geneem en aangekla: Handskrifkenners het hom met twee van die briewe verbind en ’n skynbare motief is gevind.
Bernard was altyd gegrief oor JeanMarie se sukses en jaloers op sy gesin. Grégory was slim, innemend en selfversekerd. Bernard se eie seun, Sébastien, het leerprobleme gehad.
Maar die verdoemendste was dat Bernard se 15-jarige skoonsuster, Murielle Bolle, die polisie vertel het hy het haar in sy motor by die skool opgelaai en na die Villemins se huis gery om Grégory op te laai. Sy het beweer hulle het na ’n plek daar naby gery en sy het in die motor gebly terwyl Bernard met die seun weggestap het. Hy het alleen teruggekom.
Bernard is in hegtenis geneem, maar Murielle het dae later haar verklaring teruggetrek. Sy het gesê sy het gevoel die polisie intimideer haar en het beweer familielede – haar suster (en Bernard se vrou), Marie-Ange, inkluis – het haar gedreig.
Die feit dat sy haar verklaring teruggetrek het, het daartoe gelei dat Bernard drie maande later, met Jean-Michel se toestemming, vrygelaat is. Die polisie het hul ondersoek voortgesit, maar Bernard is nooit verhoor nie. Op 29 Maart 1985 het Grégory se pa met ’n jaggeweer na Bernard se huis gery en sy neef met ’n enkele koeël doodgeskiet.
Hy het die dood van sy seun gewreek, het hy geglo, maar sonder ’n hofsaak kon nooit bewys word of Bernard alleen opgetree het en of daar ’n groter sameswering was nie.
Jean-Marie is aan die moord op Bernard skuldig bevind, maar het net vier jaar tronkstraf uitgedien. Murielle, wat in Junie verlede jaar in hegtenis geneem is, is nou die sentrale figuur in die nuwe ondersoek. Dis belangrik om vas te stel waar sy haar die aand van die moord bevind het. Was sy saam met Bernard in die motor? Het hulle die seun ontvoer?
Kort ná die moord op Bernard het die polisie hul ondersoek op Christine begin fokus. Haar weergawe van die middag waarop Grégory ontvoer is, het hulle nie oortuig nie. Hoekom was die hortjies toe? Hoekom het sy hom sonder toesig laat speel? Was sy die corbeau?
Verskeie bewysstukke het haar onder verdenking geplaas. ’n Koord wat by haar
huis gevind is, het ooreengestem met dié waarmee Grégory vasgebind is. Sy het moontlik ook ’n affair met Bernard gehad. Maar nóg die polisie nóg die ondersoekende landdros wat die onbekwame Jean-Michel later vervang het, kon enige bewys vir ’n motief vind. Hoekom sou ’n ma haar seun vermoor?
Sy is in Julie 1985 van die moord op Grégory aangekla, maar in Februarie 1993 vrygespreek. Sy was agt jaar onder geregtelike toesig: Nie net het sy haar seun verloor nie; sy was ook haar reputasie en ’n groot stuk van haar lewe kwyt.
IN DIE drie dekades sedert Grégory se dood het Lépanges nog armer geword. Werk is skaarser en mense het weggetrek. Net sowat 900 mense woon nou op die dorp. Die kerk kan nie meer gereeld ’n Sondagerediens hou nie, maar die enkele oorblywende kroeg is altyd oop op die oggende dat die kerk toe is.
Christine en Jean-Marie Villemin het lank gelede na Evry, ’n dorp suid van Parys, verhuis. Maar baie van die familielede woon steeds op Lépanges. Grégory se oorskot is uit die begraafplaas verwyder; sy graf het te veel aandag getrek. Christine se prokureur, Marie-Christine, sê vir my Grégory se lyk is op sy ma se versoek veras en aan die gesin terugbesorg. Sy granietgraf is steeds in Lépanges; nou ongemerk maar onmiskenbaar.
Bernard Laroche, die mens wat hom waarskynlik vermoor het, is daar naby by Jussarupt begrawe. Op sy grafsteen staan hy is ’n “onskuldige slagoffer van blinde haat”. Vars blomme word gereeld op sy graf geplaas; ’n teken dat die familie nooit sal vergewe of vergeet nie.
Dit is vir almal op Lépanges moeilik om te praat, want hulle voel nog deur die skaduwee van die corbeau bedreig. Die vrees is oënskynlik steeds daar. Ek ontmoet ’n man, nou in sy 50’s, wat in dieselfde skool as Murielle Bolle, die beweerde “medepligtige”, was. Hy is bereid om anoniem te praat, maar wil nie afgeneem word nie.
“Van wat ek onthou, het Murielle nie baie slim gelyk nie. Dalk het sy ’n effens laer as gemiddelde IK gehad, maar sy was nie vertraag nie,” het hy gesê. “Sy het nie na ’n slegte mens gelyk nie. Sy was eintlik nie veel anders as baie van die mense op die dorp nie.”
Hy sê die inwoners het beledig gevoel oor hoe hulle in die media uitgebeeld is.
“Ons is as ingeteelde idiote, onnosel, uitgemaak. Ons het nie eintlik ’n kans gehad om iets in die openbaar te sê nie uit vrees dat ons onsself sou inkrimineer. Die storie het in sekere kringe histeries geword en ons enigste opsie was stilte. Dit was nie die geval dat ons nie wou praat nie; ons kon net nie.”
Ons ry na Aumontzey, waar JeanMarie se ouers steeds woon. Monique, die matriarg van die familie, is daarvan beskuldig dat sy anonieme dreigbriewe aan die regter geskryf het wat die saak oorgeneem het nadat Jean-Michel afgedank is. Sy is in Junie verlede jaar deur die ondersoekers ondervra en vrygelaat, maar haar rol in die saak is nooit ten volle verklaar nie.
Haar man, Albert, sien ons van ’n venster op die boonste verdieping en kom na die deur. Ek stel my voor, en sonder om ’n woord te sê klap hy die deur weer toe. Die ontmoeting duur minder as 30 sekondes.
Op Lépanges wil niemand eintlik oor die saak praat nie.
Grégory se groottante en -oom, Marcel en Jacqueline Jacob, is in Junie verlede jaar saam met Murielle in hegtenis geneem en vir ondervraging deur die nuwe regter ingebring. Die verrigtings in die appèlhof in Dijon is in camera gehou, maar nuwe bewyse wat hulle aan die ontvoering van Grégory verbind, het glo aan die lig gekom.
Al lyk dit of die owerheid tevrede is dat Bernard die voorbok was, is hulle nie oortuig hy was die corbeau nie.
Die vermoede is Bernard het as deel van die Larochetak van die familie opge- tree. Die groep het dalk twee of drie, moontlik meer, mense ingesluit, onder andere Murielle, Marcel en Jacqueline.
In November het Jacqueline na die appèlhof in Dijon teruggekeer. Haar prokureur het beweer sy het ’n waterdigte alibi vir die aand van die moord, en hy het die regter oortuig om haar geregtelike toesig op te hef.
Sy is toegelaat om na haar huis in die Vosges terug te keer en in Desember het haar man, Marcel, haar gevolg.
In April is Murielle ook toegelaat om na haar huis terug te keer nadat haar prokureurs ’ n tegniese regspunt uitgebuit het. Getuies sê sy is op die aand van die moord saam met Bernard in sy motor gesien nadat sy ’n skoolbus gehaal het om hom te ontmoet. Sy het ook maklike toegang tot insulien gehad, wat haar ma vir diabetes gebruik het. Die drie word steeds verdink.
Intussen was nog ’n corbeau aan die werk: Die prokureur-generaal wat die saak in Dijon hanteer, Jean-Jacques Bosc, het ’n anonieme doodsdreigement gekry.
Maar met die nuwe bewyse is die owerheid optimisties dat geregtigheid eindelik sal geskied.
Die prokureur-generaal sê ’n moordverhoor kan dalk tog plaasvind wanneer die ondersoekende landdros sy werk afgehandel het. Vir Grégory se naaste familie is afsluiting ná 34 jaar eindelik ’n moontlikheid. Hul prokureur is hoopvol die waarheid sal oplaas aan die lig kom.
“Ek is nie bereid om die regsproses vooruit te loop nie, maar ek dink ons weet nou, ná al die jare, ná al die foute, dat Grégory weens ’ n familiesameswering dood is,” sê MarieChristine. “Dit was nie net een man wat hom vermoor het nie; verskeie mense het tot die uitvoer van die misdaad bygedra. En ons hoop om binnekort die waarheid te hoor.”
Of ons enigsins iets sal hoor van die dorp Lépanges, wat al so lank die middelpunt van die ondersoek is, is ’n ander saak. Niemand wil veel sê nie uit vrees hulle haal hulle die misnoeë van die familie op die hals.
In die afgesonderde begraafplaas waar die lyk van ’n vierjarige seun kortstondig ter ruste gelê is, hoor jy skaars ’n geluid, net die sagte geruis van die rivier.
‘Ons weet nou hy is weens ’n familiesameswering dood’