Ons topreuken -sweetweerders
Niemand hoef na sweet te ruik nie, al word dit ook hoe warm. Hier is ons produkkeuses
REUKWEERDER OF SWEETWEERDER?
Watter een is die beste? Dit hang van jou behoeftes af. Albei werk om bakterieë te bestry en reuke te voorkom, maar reukweerders fokus meer daarop om jou onderarms te laat vars ruik, terwyl sweetweerders sweetkliere blokkeer en so sweet verminder.
VOORKOM WIT VLEKKE
Wag dat jou aanrol reukweerder droog word voor jy aantrek, anders kan dit wit vlekke op jou klere veroorsaak wat moeilik is om te verwyder.
Deesdae kry jy ook sweetweerders wat spesifiek gemaak is om geen wit vlekke te laat nie. Gebruik dit wanneer jy donker klere dra.
AANWENDING
Meer beteken nie beter nie. Moenie die fout maak om te veel reukweerder aan te wend in die hoop dat jy meer beskerming sal kry nie, want dit sal geen verskil maak nie. Jy hoef net een keer op en af te rol of 3-4 sekondes te spuit vir voldoende beskerming.
REUKBEHEER
Wanneer jy sweet, is jou sweet reukloos. Die slegte reuk ontstaan wanneer bakterieë op jou vel met jou sweet meng. Probeer ’n antibakteriese seep gebruik voor jy jou reukweerder aanwend om dit te bestry.
SENSITIEWE VEL
As jy ’n sensitiewe vel het, kan die aanwending van reukweerder ongemak, soos ’n branderigheid, veroorsaak. Volg ons raad hieronder om dit te help voorkom:
Verkeerd skeer Dit kan jou onderarms sensitiewer laat raak. Skeer in die rigting van die haargroei en probeer net een keer oor
die area beweeg wat jy skeer. Hiervoor het jy ’n skerp genoeg skeermes nodig. Gooi dit weg wanneer dit stomp word. Gebruik matige seep, skeerroom of -jel pleks van sterk seep, want dit sal irritasie veroorsaak.
Stukkende vel Moenie reukweerder aan stukkende of geïrriteerde vel aanwend nie.
Alkohol As jy van nature ’n sensitiewe vel het, bly weg van sweetweerders wat alkohol bevat. Dié produkte is sterker en sal jou vel laat reageer.
DONKER ONDERARMS
Donker oksels kan deur ’n aantal dinge veroorsaak word, onder meer inflammasie, skeermesbrand, die langdurige gebruik van sterk onderarmprodukte, genetiese toestande of selfs ’n onderliggende mediese probleem.
As jy van nature ’n donker vel het, sal jou oksels ook donker wees. Vir oksels wat verkleur is deur produkte en behandelings wat op die vel aangewend word, beproef bevogtigende sweetweerders wat die vel streel.
Dit verminder dalk nie die kleur nie, maar dit sal keer dat dit donkerder word.
As jy besorg is oor hoe donker jou oksels is, raadpleeg ’n dermatoloog vir moontlike mediese behandeling.