Huisgenoot

Nuwe aaptwakwet maak leser paranoïes oor man se ou gewoontes

- ANONIEM

EK het altyd dagga gehaat. Toe ontmoet ek my man. Hy was baie sjarmant.

Eers ná die troue het ek uitgevind hy rook dagga. Ek het baklei en gesoebat.

Hy het met tye die dagga met drank gemeng. Dit het alles vererger. Die dagga het veroorsaak dat hy gewelddadi­g en paranoïes was. Hy het my en ons dogters die lelikste goed toegesnou en aangerand. Dit het so erg geword dat die welsyn betrokke moes raak.

Hy was vreeslik bakleierig. Hy kon nie ’n werk hou nie en as gevolg daarvan was hy permanent gerook. Ons kon niks met hom uitgerig kry by die huis nie. Hy was altyd te lui of te gechill, soos hulle dit noem. Hy wou niks doen nie.

Toe eendag begin ek saamrook. Tot my spyt. Aan die begin was dit een per dag. Later het dit meer geword. Naweke sommer 10 per dag. Toe my man met cat begin, is ek agterna. Van daar af was dit net afdraande.

In ’n stadium het ons al die sterk dwelms gelos en net dagga gerook. Ek het begin om paniekaanv­alle te kry. My gesondheid het baie verswak.

Vandag is ons albei skoon, maar die skade wat dit veroorsaak het, is geweldig. Ons het kosbare tyd en baie mooi jare saam met ons kinders en familie verloor. Ons was oorgewig weens al die munchies. In ons huis was ’n alewige bakleiery en konstante onrus.

Ons kinders het emosionele skade gely en moet tot vandag toe sielkundig­es sien.

Dit alles as gevolg van dagga. Die newe-effekte is enorm.

Dagga verwoes lewens. Dit verwoes families.

My grootste vrees is dat my man sal terugval en weer begin dagga gebruik noudat dit wettig is. Dit maak my angstig net om te dink dat daardie goed weer ’n plek in ons lewe kan kry.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa