Huisgenoot

Kroeg van onmin in Pierneefst­raat

In Pretoria se ‘wilde weste’ woed ’n vuurwarm stryd tussen ’n kroegeiena­ar en ’n omgekrapte buurman wat nou in die hof gaan draai het

- Deur CYRIL BLACKBURN Foto’s: E.R. LOMBARD

DIT is ’n tweegeveg in die ware tradisie van die Wilde Weste. ’n Kroeg, ’n jare lange vete, ’ n straat vol mense wat afwagtend kyk wie die volgende skuif gaan maak . . . Maar dis die Pretoriase Moot dié – die woonbuurt Villieria, om presies te wees.

Dis waar die manne hul ysterperde by die watergat in Pierneefst­raat kom afsaal om die dag se stof uit hul moeë kele te was.

Dié watergat – die Picasso’s Pub and Pizzeria – is die middelpunt van ’n verwoede stryd.

Op die aanval die afgelope 10 jaar is ’n omgesukkel­de buurman wat sê hy is keelvol vir die nagtelike geroesemoe­s; vir die fuiwers wat leë bottels voor sy erf strooi en sy hek toeparkeer.

Op die verdedigin­g is die eienaar van die kuierplek met sy houding wat soos iets uit die Wilde Weste-flieks lyk: “I ain’t gettin’ out of Dodge . . .”

Dinge het al so warm geraak dat die hooggeregs­hof in Pretoria onlangs ’n bevel uitgereik het wat Jacques van der Merwe (52) verbied om die klante van Picasso’s te konfrontee­r en te dreig. En die beleërde kroegbaas? “Ek wil maar net vrede hê,” sê die 57- jarige Johan Botha met ’ n skewe grinnik. “Die kroeg is my enigste inkomste – een waarmee ek vir my gesin moet sorg.”

Hy vertel hy het al telkens probeer om die strydbyl te begrawe. Maar vergeefs. Wanneer hy weer sien, daag die polisie by sy pizzaplek op omdat Jacques gekla het oor die lawaai. Selfs gesondheid­sinspekteu­rs het al “ná ’n anonieme wenk deur ’n gemeenskap­slid” by die kroeg ingestap.

“Dis vernederen­d om so in die middel van dié drama te staan. Hy vertel my klante hulle sal almal hel toe gaan. My ondernemin­g ly onder die vals klagte wat Jacques by die owerhede indien. Toe sleep ek hom maar hof toe.

“Nou wil ek net hê die geskil moet tot ’n einde kom,” sê Johan.

Toe ons vir buurman Jacques bel, klink hy sommer uit die staanspoor opgeklits. “Ek is nog nie eens opgewarm nie,” sê hy.

“Kom ek stel dit so: Ons is nog nie naastenby by die wegsprings­treep nie . . .”

BUITE Picasso’s sit ’n man vandag wydsbeen in die saal. Hy het maar onlangs van die vete gehoor, sê dié motorfiets­ryer. Die straat is in twee kampe verdeel: dié wat hier kuier, en dié wat sê dis g’n plek vir ’n kerkmens nie.

Binne lag Johan uitbundig oor al die aandag wat die kroeg kry.

Hy het die kuierplek in 2008 met sy neseier by ’n vriend gekoop, vertel hy. Binne ’n week het Jacques ingestorm met die woorde: “Ek is jammer jy het die kroeg gekoop, maar ek gaan sy deure vir jou sluit.”

Kuiltjies keep Johan se wange. “Dis nou al 10 jaar, en hier sit ek steeds.”

Die vorige kroegeiena­ar, Gerrie de Villiers (57), laat hoor: “Die drama kom al jare. Ek het Jacques eenmaal aan sy kraag gegryp en hom oor die pad gesleep. Johan hanteer dit baie beter.”

Johan vertel Jacques het eers gekla oor die harde musiek. Later oor mense wat voor sy huis parkeer of laatnag drankbotte­ls voor sy erf gooi. Hy het glo op Johan se klante geskree en selfs gedreig om sy pistool te gebruik.

“Ek het opgehou om musiekgroe­pe na die kroeg te nooi. Volgens my lisensie mag ek tot tweeuur soggens drank verkoop, maar ek probeer deesdae om ná eenuur nie meer te verkoop nie. Als om hom tegemoet te probeer kom.”

Maar volgens Johan stel niks sy buurman tevrede nie.

“Ek en my gesin was ’n paar jaar gelede met vakansie toe ek ’n oproep kry dat ’n gesondheid­sinspekteu­r uit die bloute by die kroeg opgedaag het. Al fout was ’n gebreekte teël in die kombuis, toe maak ek dit maar reg.”

Johan erken klante hou weens ’n tekort aan parkeerple­k op die sypaadjie voor Jacques se huis stil. Onlangs is betonversp­errings opgerig om dit te verhoed. “Jacques sê dis die munisipali­teit wat dit opgerig het, maar ek dink hy het ’n ongesonde vendetta teen die kroeg.”

Volgens Johan is die leë drankbotte­ls wat voor sy buurman se erf beland nie oor sý kroegtoonb­ank verkoop nie.

Jacques sit glo heeltyd op ’ n groen plastiekst­oel onder ’n koelteboom op die uitkyk na iets om oor drama te maak. “Hy vertel my klante hulle sal almal hel toe gaan. My klante voel hul privaathei­d word geskend. Hy’t selfs slegte uitsprake oor die kroeg in ’n kerkblaadj­ie gemaak.

“Dis ’n kroeg, nie ’n kleutersko­ol nie. Ons gaan soms kuier, veral as daar ’n sportgelee­ntheid is, maar ons gaan nie daarop uit om die lewe vir hom moeilik te maak nie. Ek kan egter nie aanhou klante verloor omdat die polisie hulle verjaag oor ’n klagte nie,” sê Johan.

“Ek wens hom net goeie dinge toe, maar wil graag hê dit moet met my ondernemin­g ook goed gaan.”

In hofstukke ontken Jacques hy koester ’n wrok teen Picasso’s. Tog het regter Jonas Mosopa tydelik gelas dat hy nie die klante mag intimideer of vals klagte by die polisie indien nie.

Jacques erken hy het al die polisie en metropolis­ie en selfs die munisipale gesondheid­sdeparteme­nt gebel oor die lawaai. Maar hy ontken hy “doen alles in sy vermoë” om die kroeg se sake te belemmer. Hy ontken Johan se bewerings dat hy die kameras op sy erf gebruik om die bewegings buite die kroeg te monitor. “Ek kan nie verstaan hoekom Johan eis dat ek my lewe in gevaar stel deur my veiligheid­skameras te verwyder nie.” Oor die bewerings dat hy met klante van die kroeg argumentee­r en gedreig het om ’n pistool te gebruik, sê hy: “Dit is hoorsê, en die bewerings het geen substansie nie.

WAT sê die ander inwoners van Pierneefst­raat oor die oorlog hier in die “wilde weste” van Pretoria?

“Ek sal nie ontken dat die geraas soms erg raak nie, maar mense het ’n uitlaatkle­p nodig,” sê ’n 65-jarige vrou wat ook al 10 jaar in die straat digby Picasso’s woon. “Wanneer hulle na ’n groot sportwedst­ryd kyk, raak ek skoon jaloers. Maar ek sit nie my voete daar nie; ek is ’n Christenvr­ou.”

Sy was nog nooit regtig ontsteld oor die kroeg nie. “Dalk is dit omdat ek en my man half doof is,” spot sy. “Ek verstaan nie hoekom dit vir Jacques so pla nie.”

Ook die 28-jarige Jessica Coetzee, wat sowat 50 m verder woon en “graag die kroeg besoek”, vertel die musiek was nog nooit vir haar onuithoudb­aar nie.

Volgens haar is Johan nie onredelik nie en sal hy op versoek die musiek sagter stel. “Die enigste probleem is dat mense soms hul rommel of leë bottels in ons tuin gooi.”

Winston Mabena (23) huur al ses jaar lank ’n woonstel bo die kroeg. Volgens hom is daar wel soms baie lawaai, maar dis nie die kroeg se skuld nie.

“Dis mense wat soms dronk raak en buite lawaai wanneer hulle die kroeg verlaat,” verduideli­k hy.

“Ek het in ses jaar nog nooit gevoel ek moet die eienaars van die kroeg konfrontee­r nie. Dis werklik nooit so erg nie.”

Oor een ding stem almal saam: Die laaste skote in dié tweegeveg is waarskynli­k nog lank nie afgevuur nie.

Want hier in Pierneefst­raat is daar altyd kans op nog ’n High Noon by die watergat.

 ??  ?? BO: Johan Botha (57) is die afgelope dekade die eienaar van Picasso’s Pub and Pizzeria in Pretoria. LINKS: Die vooraansig van die kroeg wat soveel onenigheid veroorsaak.
BO: Johan Botha (57) is die afgelope dekade die eienaar van Picasso’s Pub and Pizzeria in Pretoria. LINKS: Die vooraansig van die kroeg wat soveel onenigheid veroorsaak.
 ??  ?? REGS: Jacques van der Merwe se huis in Pierneefst­raat kyk reguit op die kroeg uit; daarom pla die geraas by die kroeg hom vreeslik, sê hy.
REGS: Jacques van der Merwe se huis in Pierneefst­raat kyk reguit op die kroeg uit; daarom pla die geraas by die kroeg hom vreeslik, sê hy.
 ??  ?? Selfs in die middel van ’n werkdag is die kroeg ’n gewilde uithangple­k onder Pretoriane­rs – veral wanneer ’n groot sportwedst­ryd op TV gewys word.
Selfs in die middel van ’n werkdag is die kroeg ’n gewilde uithangple­k onder Pretoriane­rs – veral wanneer ’n groot sportwedst­ryd op TV gewys word.
 ??  ?? LINKS: Die betonstruk­ture wat klante van die kroeg verhoed om op Jacques se sypaadjie stil te hou. INLAS: ’n Bordjie is ook aangebring.
LINKS: Die betonstruk­ture wat klante van die kroeg verhoed om op Jacques se sypaadjie stil te hou. INLAS: ’n Bordjie is ook aangebring.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa