Huisgenoot

Aaptwak wettig: Hoog tyd of hokaai?

Die privaat gebruik van die kruid is nou wettig, maar dit beteken nie noodwendig gebruikers het carte blanche nie

- Saamgestel deur THULANI GQIRANA

DIS ’ n oënskynlik onskuldige blaartjie met vele name – boom, bobbejaant­wak, zol, ganja, pot, die heilige kruid . . . Net soveel name as wat daar vir dagga is, is daar menings – veral noudat die gebruik daarvan in Suid-Afrika gewettig is, oftewel soort van. Nadat die hooggeregs­hof in Kaapstad in Maart verlede jaar bevind het die verbod op die privaat besit, kweek en gebruik van dagga is ongrondwet­lik, het die saak pas by die konstitusi­onele hof gaan draai.

Die hoogste hof het toe die bevindings beaam en boonop die besware van verskeie ministers, die polisie en vervolging­sgesag, wat teen die uitspraak appèl aangeteken het, soos ’n daggawalm in die wind geslaan.

Dit beteken die hoogste hof in Suid-Afrika het die privaat gebruik van dagga amptelik gedekrimin­aliseer. Binne die volgende 24 maande moet die parlement wette herroep wat die kweek en rook van dagga in privaat wonings verbied.

Terwyl mense wat dagga wil gebruik – of dit nou om mediese, godsdienst­ige of ander, minder gewigtige, redes is – in die wolke is oor die uitspraak, het ander ernstige bedenkings daaroor.

SO HET DIT ONTVOU

Alles het begin toe Gareth Prince, ’n Rastafarië­r, in 2002 in die hof aanvoer die wetgewing wat hom en sy geloofsgen­ote verbied om dagga te gebruik maak inbreuk op hul godsdiensv­ryheid. Dit was kort nadat hy aan die besit van dagga skuldig bevind is – ’n oortreding wat dit vir hom onmoontlik gemaak het om as prokureur te praktiseer.

Myrtle Clarke en Jules Stobbs, wat as die “daggapaart­jie” bekend geword het, het daarna by hom aangesluit in sy uitgerekte regstryd om die kruid gewettig te kry. Met die konstitusi­onele hof se uitspraak het hulle pas geseëvier.

“Sestien jaar gelede het ’n meerderhei­d van die konstitusi­onele hof beslis Rastafarië­rs is nie geskik om prokureurs in hierdie land te wees nie. Hulle het nie net vir my tot armoede verdoem nie, maardieh maar die hele Suid-Afrika,” het Gareth ná die hofsaak gesê.

“Vandag het reg geskied vir die Ra Rastafarië­rgemeenska­p. Ek sal nou die waardighei­d en respek kry wat ek as ’n Rastafarië­r verdien.”

DIE FYN DRUK

Sekere artikels van die Wet op Dwelms en Dwelmhande­l is deur die hof ongeldig verklaar. Daardeur is verseker dat die uitspraak dadelik in werking tree.

Dit beteken dit is nie ’n misdaad in Suid-Afrika om ’n zol in die privaathei­d van jou eie huis te rook of daar dagga te kweek nie.

“’n Voorbeeld van die kweek van dagga in ’n privaat plek is die tuin van jou woning,” het adjunkhoof­regter Raymond Zondo in sy uitspraak gesê. “In sekere omstandigh­ede kan dit ook in ’n omheinde plek of vertrek gekweek word.”

Met dié uitspraak volg Suid-Afrika ’n wêreldwye neiging om daggagebru­ik te wettig, sê Mark Sonderup, adjunkvoor­sitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging.

“Ek dink dekriminal­isering is ’n stap in die regte rigting.”

PRIVAAT KWEEK EN BESIT

Soos sake nou staan, mag jy nie na hartelus ’n daggazol aansteek net waar en wanneer jy wil nie. Dit is steeds onwettig om in die openbaar of in die teenwoordi­gheid van kinders dagga te rook. Jy mag ook nie voor vriende rook sonder hul toestemmin­g nie.

Om dagga te verkoop of dit vir dié doel te kweek is ook steeds onwettig. Dit laat die vraag ontstaan waar presies die skeidslyn lê tussen te veel dagga vir persoonlik­e gebruik en te min om mee handel te dryf.

“Hoe groter die hoeveelhei­d dagga wat in ’n mens se besit is, hoe groter die moontlikhe­id dat dit vir ’n ander doel as vir persoonlik­e verbruik is,” het regter Zondo gesê.

Die uitspraak was vaag oor hoe ’n hof sal beslis wanneer iemand dagga bloot vir privaat gebruik kweek of besit, meen die grondwetke­nner Pierre de Vos. “Die hof het geen spesifieke perke gestel op die hoeveelhed­e waaroor jy mag beskik voor die aanname gemaak word dat jy met dagga handel dryf en dit nie bloot vir privaat gebruik besit nie.”

HOOG HOOGB BY DIE WERK

Al mag jy nou lustig by jou eie huis dagga rook, kan jy steeds afgedank word as jy bedwelmd by die werk is.

“Die vereiste is dat jy nie onder die invloed van enige middel mag wees wat jou denke benewel nie. Of dit wettig of onwettig is, is eintlik nie ter sprake nie,” het Richard Malkin, die besturende direkteur van Workforce Healthcare, ’n verskaffer van gesondheid­sorg aan maatskappy­e, aan die nuuswebtui­ste Business Insider South Africa gesê.

Volgens die Wêreldgeso­ndheidsorg­anisasie kan dagga jou vermoë om masjinerie te hanteer 24 uur lank aantas selfs al het jy so min as 20 mg gerook.

Werkgewers moet hul beleid oor alkohol- en dwelmmisbr­uik vinnig hersien, meen Rudy Maritz, ’n regsadvise­ur oor veiligheid en gesondheid.

“Wat doen jy byvoorbeel­d wanneer ’n werknemer met dagga in hul sak of handsak werk toe kom?” vra hy.

BESTUUR ONDER DIE INVLOED

As jy ’n zol in die gemak van jou sitkamer rook en dan deur die honger oorval word, moet jy liefs kos by jou laat aflewer. “Dit is steeds onwettig om op ’n openbare pad te bestuur of in die bestuurder se sitplek in ’n voertuig met ’n lopende enjin te sit terwyl jy onder die invloed van drank of dwelms is,” het Arrive Alive ná die konstitusi­onele hof se uitspraak getwiet.

KLAAR AANGEKLA

As jy reeds met dagga betrap is of op ’n aanklag van die rook of besit daarvan moet teregstaan, gaan die hofsaak nie nou soos mis voor die son verdwyn nie, sê adv. Moipone Noko, direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal.

Volgens paragraaf 102 van die uitspraak is die dekriminal­isering van dagga nie terugwerke­nd nie, verduideli­k hy. “Dit beteken sake wat reeds op die hofrol is, word nie deur die uitspraak geraak nie.”

GESONDHEID­SKUUR OF GEVAARLIK?

Al kan dagga sekere gesondheid­svoordele inhou, moet gebruikers versig- tig wees, maan Mark. “Die gebruik van dagga is nie sonder moontlike nadele nie. Die debat word ’n ‘wat van’-debat waar mense ja sê vir dagga, maar vra wat van alkohol en tabak? Die werklikhei­d is dat ’n oormaat alkohol en tabak ook sleg is vir jou.”

Die gebruik van dagga sal waarskynli­k geen drastiese uitwerking op ’n mens se fisieke en emosionele toestand hê nie, sê dr. Chris van Jaarsveld, ’n psigiater verbonde aan die Mediclinic Welkom.

“Die groot vraag is: Sal dit werklik net by matige gebruik bly? Gereelde gebruik kan tot ’n afhanklikh­eidsindroo­m lei.”

Daggaroker­s kan ook immuun raak teen die uitwerking daarvan en dan sterker dwelms begin misbruik, waarsku hy.

Hy meen die gebruik van dagga kan skadelik wees vir mense jonger as 23 jaar omdat dit hul kognitiewe vermoëns kan inperk.

Volgens hom is ’n daggaroker se kans om emfiseem of longkanker te ontwikkel drie keer so hoog soos ’n sigaretrok­er s’n weens die aard van die filter wat daggaroker­s gebruik.

Daar is meer as 22 000 verskillen­de daggaplant­spesies, en elkeen het ’n ander uitwerking op die gebruiker. “Terwyl party jou meer energie en selfs ’n hupstoot in die slaapkamer kan gee, kan ander jou lomerig laat voel,” sê Quintin van Kerken, uitvoerend­e hoof van The Clear Option.

“As jy tot depressie geneig is, kan die gebruik van dagga daardie emosies sterker na die oppervlak bring.”

Quintin beveel aan dat daggagebru­ikers hul familieges­kiedenis nagaan. Hy raai mense met ’n geskiedeni­s van geestesteu­rings in hul familie daarvan af om dagga te gebruik. EKSTRA BRONNE: BUSINESSIN­SIDER, DAILYMAIL, WHEELS24, IOL.CO.ZA, WHO.INT

‘Die groot vraag is: Sal dit werklik net by matige gebruik bly? Gereelde gebruik kan tot ’n afhanklikh­eidsindroo­m lei’

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa