Koddige kaskarre gee mekaar gas
Kontrepsies grootste in allerlei vorms het aan die het kaskarresies in die land deelgeneem – en hulle laat wiel!
KASKARRE was nog altyd die speelgoed van avontuurlustige seuntjies wat nie omgee om hul knieë nerfaf te val wanneer hul tuisgemaakte tjorre om ’n draai reguit hou of ’n wiel afspring nie. Maar klim die grootmenere agter die stuur in, is dit skielik ’n kar van ’n ander kleur. Vergeet van ’n kissie op wiele wat op die grondpad van ’n plattelandse dorp met ’n tou bestuur word terwyl ’n growwe kaalvoet as rem dien. Dit is tyd vir die grootste kaskarresies in die land, en hier is vandag ’n volle 25 000 mense om die aksie te aanskou.
Net 70 kaskarre is uit die meer as 1 000 inskrywings vir die vyfde plaaslike Red Bull-kaskarresies gekies, en die tjorre staan gereed by die wegspringplek in Graystonrylaan in Sandton, J Johannesburg. Van hier gaan hulle heelpad afdraand jaag tot by die eindstreep 500 m verder.
Dis die eerste werklik warm naweek in September, en ’n skare malende toeskouers pak saam rondom Grayston en op die grasperke van die aangrensende Sandton Central Park. Ma’s en pa’s, kleuters en kinders verwonder hulle aan die renmotors – elkeen nou wel met sy eie stuurwiel en remme, maar met ’n kajuit so reg uit ’n vrolike verbeeldingsvlug.
Een kaskar lyk soos ’n koelboks; ’ n ander soos ’n stoomlokomotief. Hier is ’n ruimtetuig en ’n helikopter en ’n rits ander wonders op wiele.
Die bakwerk van elke tjor is nie die nederige tamatiekissie van dié uit stories van die verlede nie – dis gemaak van aluminium, seil, polistireen of veselglas. Nêrens sien jy een wat soos die kaskarre van ouds uit hout en karton aanmekaargetimmer is nie.
Die deelnemers kom van oor die land heen en moes voor die tyd weke lank werskaf om hul karre te ontwerp. Dis gratis om in te skryf, en daar’s geen pryse op die spel nie: net trots en ’n trofee.
Dit is asof die Bathtimespan van Pretoria vooraf geweet het ’n hittegolf gaan Sandton vandag looi, want hul kar is ’n bad op wiele, kompleet met ’n stortkop waaruit brandblusserskuim spuit.
Toe Johan Niemand agter die stuur van sy veselglasbad klim, skuif hy sy valhelm
reg en sê ’n gebedjie op. En dan laat vat hy met sy bad – teen 33 km/h vlieg sy tjor seepglad binne 54 sekondes tot by die eindstreep.
Tweede plek! En sommer die trofee vir die kreatiefste koddigheid op wiele. Dis nou mooi, skoon pret.
SEDERT die eerste Red Bullkaskarresies in 2000 in Brussel, België, aangebied is, is meer as 100 van dié aweregse wedrenne al oor die wêreld heen aangebied. Die vorige resies in Suid-Afrika is in 2010 in Soweto gehou. Vanjaar se aflewering was die vyfde wat al in Suid-Afrika aangebied is.
Die tjorre is dalk ’n aardigheid, maar die baan is nie gemaak vir kinderspeletjies nie. Dit is deur die SuidAfrikaanse Dakartydrenwenner Giniel de Villiers ontwerp, en die jaers moet hul weg vind verby hindernisse soos ’n wisselaar, ’n slaggat en ’n stukkie grondpad waar aan die pad “gewerk” word.
Dan moet die bestuurders ook nog voor die eindstreep oor ’n spoedbult in die pad jaag – en dis net hier waar baie hul alie sien. Almal spring nie gelyk weg nie; hulle kry beurte om oor die baan te blits. Die wenspan, die South African Bobsled Team van Benoni, vlieg teen 43 km/h na die eindstreep, terwyl ander spanne teen stadiger as 10 km/h voortkruie. Met hul kaskar in die vorm van ’n Spar-afleweringstrokkie haal die Spar Special Delivery-kaskar nooit eens die eindstreep nie. Die trokkie se stert draai binne 20 sekondes dwars en tref die versperrings langs die baan. Die een wiel kyk suid, die ander een noord; die jaers se drome van glorie is aan flarde. Toe Leslie Stolterfoht en sy spanmaats van Centurion se Blue Light-ryding aan die beurt kom, is dit so asof die berugte blouligbrigade sy opwagting op die snelweg maak. Leslie vertel hy en drie vriende het die “veiligheidsmotor” sommer in ’n motorhuis gebou.
Die motortjie trek teen ’n dolle vaart weg – al wat kort, is blou ligte wat flits. Toe dit by die laaste bult deur die lug trek, land dit met ’n slag: Die linkervoorwiel is morsaf.
Maar die skare juig: Die momentum van die slag laat die kaskar oor die eindstreep skuur; hy het dit sowaar gemaak.
“Ons was eintlik seker iets sou breek,” bieg Leslie later. “Ons is maar net bly dit het eers teen die einde gebeur.”
SKUINS ná vieruur word Gareth Turner en sy span van Benoni se vaartbelynde SA Bobsled-blits as die wenner aangewys.
Hy lag en vertel sy ryding het hom en sy span allermins duisende rande uit die sak gejaag. Die wiele is 12 jaar oud en die remme is sommer van ’n fiets gestroop.
G’n wonder dit kon nie stop toe dit oor die eindstreep jaag nie – dit het sy moses teen ’n grasbaal teëgekom.
Later pak die deelnemers die wrakstukke van hul rygoed op sleepwaens om dit weg te karwei – hier ’n stuk veselglas; daar ’n wiel.
Tussendeur drentel die toeskouers vir oulaas deur die fabelagtige voertuie wat Formule 1 vervelig laat lyk. Plek-plek staan ’n laaitie en kyk met verwondering na die kaskarre waarin grootmense weer klein kindertjies word.