Huisgenoot

Woody se vrou braak gal ná aantygings

Die rolprentma­ker se vrou, wat hom destyds van haar ma afgevry het, verdedig hom in ’n onderhoud teen ’n rits aantygings terwyl sy gal braak oor haar ma

- Saamgestel deur LARA ATSON

DIE wêreld skinder al twee dekades lank oor dié romanse. Sy, die skugter donkerkop wat destyds haar bekende stiefpa by haar ma afgevry het, en hy, die veel ouer eksentriek­e fliekmaker wat ’n verhouding met sy meisie se aangenome dogter aangeknoop het. Maar die liefde blom steeds tussen Soon-Yi Previn (47) en Woody Allen (82), en in Desember vier dié egpaar hul 21ste huwelikshe­rdenking. Terwyl Woody die een bekroonde fliek ná die ander gemaak het nadat hy en die Hollywooda­ktrise Mia Farrow, Soon-Yi se aanneemma, se paadjies geskei het, was Soon-Yi getrou aan sy sy. Maar sy was al die jare tjoepstil. Tot nou toe.

Verlede maand het Soon-Yi eindelik haar swye verbreek – en dit in ’n onderhoud met die tydskrif New York Magazine waarin sy haar man teen ’n rits opspraakwe­kkende aantygings verdedig.

Dylan Farrow (33), haar suster en een van Mia (73) se 14 kinders, beweer al die afgelope 26 jaar Woody, die man wat soos hul pa was en haar selfs aangeneem het, het haar op sewe gemolestee­r. Sedert haar bewerings tydens die #MeToo-veldtog van verlede jaar weer die nuus gehaal het, behandel Hollywood Woody glo soos ’n uitgeworpe­ne. Bekende akteurs soos Colin Firth en Mira Sorvino het al reguit gesê hulle is spyt hulle het ooit saam met hom gewerk.

Maar in die onderhoud kap Soon-Yi terug en sê die bewerings van kindermole­stering is onsin. Haar man is nie die monster in die verhaal nie, sê sy; haar ma is. “Wat met Woody gebeur het, is so ontstellen­d, so onregverdi­g,” sê Soon-Yi. “Mia het die #MeToo-beweging uitgebuit en Dylan as slagoffer geparadeer. En ’n hele nuwe generasie hoor nou daarvan terwyl hulle nie moet nie.”

Sy het niks goeds oor haar ma te sê nie. “Sy was nooit vriendelik teenoor my nie, nooit beleef nie,” sê sy aan die joernalis Daphne Merkin (64), wat al meer as vier dekades met Woody bevriend is.

Die Koreaans gebore Soon-Yi was net ses toe Mia haar uit ’n weeshuis in die Suid-Koreaanse hoofstad, Seoel, aanneem. Tog was haar lewe daarna allesbehal­we ’n sprokie, vertel sy nou. Sy is glo mishandel, Mia het op haar gegil, haar as “dom” uitgekryt en soos ’n bediende in haar eie huis behandel.

Die ma-dogter-verhouding het verder versuur toe Mia in 1992 op naak kiekies van Soon-Yi (toe 21) in Woody se woonstel afkom. Hy het self fotograaf gespeel vir dié stomende beelde. Toe Woody en Soon-Yi se affair sewe maande later op die lappe kom, het die skinderton­ge geklap; ook toe dit uitkom Woody en Mia se aangenome dogter Dylan (toe 7) beweer hy het haar gemolestee­r.

Nie almal jubel daaroor dat Soon-Yi nou haar stilswye verbreek nie. Dis ’n jammerte dat Soon-Yi se artikel geskryf is deur ’n vriendin van Woody wat al die #MeToo-beweging as “indringeri­g” en “’n heksejag” beskryf het, skryf Jill Filipovic in ’n meningstuk vir CNN.

Mia en Woody se enigste biologiese kind saam, die joernalis Ronan Farrow (30), het al ’n rits stories oor die #MeToo-veldtog geskryf en in ’n twiet teruggekap en gesê Mia was ’n “toegewyde ma” en sy pa en sy trawante “beswadder” haar net.

Ook Dylan het getwiet: “Dis vieslik om te dink ’n vriend van ’n beweerde roofdier skryf ’n eensydige stuk en val die geloofwaar­digheid van sy slagoffer aan.”

Woody hou vol hy is onskuldig. Hy het onlangs in ’n Argentynse televisiep­rogram gesê hy moes die gesig van die #MeToo-beweging gewees het omdat hy so ’n goeie voorbeeld stel. “Ek maak al 50 jaar flieks. Ek het met honderde aktrises gewerk en nie ’n enkele een – grotes, bekendes, dié wat begin – het ooit, ooit voorgestel ek het onbetaamli­k opgetree nie.”

SOON-YI se lewe vandag is wêrelde verwyder van haar brandarm kinderjare in Seoel. Sy woon deesdae in ’n sesverdiep­inghuis van sowat R370 miljoen in Manhattan se Upper East Side en het haar eie chauffeur en sjef.

Sy en Woody is die ouers van twee aan-

genome tienerdogt­ers, tienerdogt­ers Bechet (19) en Manzie (18). Soon-Yi is glo ’n raakvatma wat haar kinders kleintyd na museums, Broadwayve­rtonings en flieks geneem het – iets wat sy en haar ma, Mia, nie gedoen het nie, vertel haar vriende.

Mia, die ma van vier biologiese en 10 aangenome kinders, wou glo voorgee hulle is die perfekte gesin, maar dit was beslis nie die geval nie, het haar aangenome seun Moses Farrow (40) in Mei op sy blog onthul: “Ek kry seer wanneer ek onthou hoe my sibbes, sommige blind of fisiek gestrem, by die trap afgetrek is om in ’n slaapkamer of kas gegooi te word – dan word die deur van buite gesluit. Sy het selfs my broer Thaddeus, wat weens polio ’n parapleeg was, een aand in ’n buiteskuur gelos as straf vir ’n klein oortreding.” Mia ontken dit. Thaddeus het homself in 2016 doodgeskie­t.

Nog een van Mia se kinders, die blinde weeskind Tam van Viëtnam, is op 19 aan hartversak­ing oorlede, maar Moses beweer dit was ook selfdood.

Nes Soon-Yi was Mia op haar dag “die ander vrou” in ’n verhouding. Sy het in 1966 op 21 met die 50-jarige musieklege­nde Frank Sinatra getrou. Toe hulle twee jaar later skei, het sy ingetrek by haar vriendin Dory Previn en dié se man, die komponis André Previn, met wie sy ’n verhouding aangeknoop het.

“Toe my ma swanger raak by André, was die Previns se huwelik daarmee heen en Dory is in ’n gestig opgeneem,” skryf Moses.

Soon-Yi, een van Mia en André se aangenome kinders, het op vyf van haar arm huis weggeloop. “Ek het deur die strate geloop en in rommel gegrawe op soek na kos. Ek het ’n koekie seep geëet; dit het die slegste gesmaak.”

Sy het later in twee weeshuise beland. Mia, wat teen dié tyd met André getroud was, het in Mei 1977 opgedaag en haar aangeneem toe sy ses jaar oud was.

Hulle was uit die staanspoor “soos olie en water”, sê Soon-Yi oor haar aanneemma.

Tuis by hul prentjiemo­oi rietdakwon­ing in Surrey, Engeland, met sy “affodille so ver as wat die oog kan sien”, het nuwe sibbes gewag – die aangenome Daisy en Lark van Viëtnam, en Mia en André se drie biologiese kinders, die tweeling Matthew en Sascha, en Fletcher.

Fletcher was die “goue kind”, sê SoonYi. “Mia het altyd waarde geheg aan intelligen­sie en ’n mooi voorkoms, blonde hare en blou oë.”

Mia het met tye so gefrustree­rd geraak omdat Soon-Yi sukkel om Engels te praat dat sy haar gegooi het met die alfabethou­tblokke waarmee sy moes leer, onthul Soon-Yi.

Toe haar ouers in 1979 skei, is sy saam met haar ma na Amerika. Hulle het later in Mia se ma, die aktrise Maureen O’Sullivan, se ruim woonstel in Central Park West, New York, nesgeskop.

“Ek het ’n effense leergestre­mdheid,” sê Soon-Yi. “Mia het woorde op my arm geskryf wat vernederen­d was; dis hoekom ek altyd langmouhem­de gedra het. Sy het my ook onderstebo aan my voete vasgehou sodat die bloed na my kop kon loop, want sy het gedink – of dit iewers gelees – dat dit my slimmer sal maak.”

Soon-Yi was 10 toe Woody op die to- neel verskyn. Sommige aande het Mia haar kroos alleen gelos om by hom in Fifth Avenue oor te slaap.

Soon-Yi en haar aangenome susters is as “huishulpe” ingespan en moes die inkopies doen, skottelgoe­d was en die huis uitvee.

Woody en Soon-Yi se romanse het begin blom toe hy glo op Mia se aandrang haar skaam tienerdogt­er na basketbalw­edstryde begin neem het om haar uit haar dop te laat kruip.

Ná hul eerste soen was hulle “soos twee magnete, baie aangetrokk­e tot mekaar”, vertel Soon-Yi nou.

Toe Mia in Januarie 1992 die gewraakte kiekies ontdek, het sy die 21-jarige Soon-Yi uit haar huis geskop. Sy het later weer teruggetre­k. En toe kry Soon-Yi boonop die trekpas by haar werk as kampberade­r oor sy heeltyd oor die foon geklets het met ene “mnr. Simon” – einste Woody. Teen Augustus daardie jaar was dit voorbladnu­us: Woody het erken hy is lief vir Soon-Yi.

Net dae voor hy sy liefde aan Soon-Yi verklaar het, het hy Dylan glo in die solder van haar ma se huis in Connecticu­t gemolestee­r. Twee ondersoeke is gelas, maar hy is nooit aangekla nie.

Soon-Yi glo steeds in sy onskuld. Sy en Woody leef deesdae “parallel”. Sy sê: “Ons eet al ons maaltye saam, en sedert ons getroud is, het ons nog nooit ’n aand sonder mekaar deurgebrin­g nie.” Haar aanneemoue­rs nneemouers het haar afgeskryf.

Al wie sy oorhet, is Woody . . .

BRONNE: VULTURE.COM, CNN, GUARDIAN, VANITY FAIR, DAILYMAIL.CO.UK, MOSESFARRO­W. BLOGSPOT.COM

 ??  ?? Woody Allen se vrou, Soon-Yi Previn, het onlangs haar stilswye verbreek oor hul verhouding. REGS: Saam met hul dogters, Manzie (links) )en Bechet. .
Woody Allen se vrou, Soon-Yi Previn, het onlangs haar stilswye verbreek oor hul verhouding. REGS: Saam met hul dogters, Manzie (links) )en Bechet. .
 ??  ?? BO: Mia Farrow saam met haar ma, die aktrise Maureen O’Sullivan, en van haar kroos. Van links is haar biologiese seun Fletcher Previn, aanneemseu­n Moses Farrow en aanneemdog­ters Soon-Yi, Lark en Daisy Previn. REGS: Dylan Farrow en haar ma, Mia. INLAS: Mia en Woody se seun Ronan Farrow.
BO: Mia Farrow saam met haar ma, die aktrise Maureen O’Sullivan, en van haar kroos. Van links is haar biologiese seun Fletcher Previn, aanneemseu­n Moses Farrow en aanneemdog­ters Soon-Yi, Lark en Daisy Previn. REGS: Dylan Farrow en haar ma, Mia. INLAS: Mia en Woody se seun Ronan Farrow.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa