Huisgenoot

Kortverhaa­l: Weg

Jare lank het niemand geweet wat gebeur het die dag toe die drie dogtertjie­s gespeel het waar hulle nie moes nie

- Deur ELIZABETH DE VILLIERS Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

D RIE kinders het daardie dag bos toe gegaan. Net twee het teruggekom.

Sy’t gedink sy’t hom op ’n keer gesien; die man van die bloekombos geklee in swart vodde. Dit kon ’n vrou ook gewees het.

Eers was daar die begrafnis. Ná weke se soek en maande se wag is besluit om maar tog die diens in die groot wit kerk te hou. In die begraafpla­as onder die sipresse het die mense van die dorp ’n leë wit kissie begrawe. Die laerskoolk­oortjie het teen die wind in staan en sing.

Nie lank daarna nie het haar ouers, oom Theuns en tannie Katie, self verdwyn. Hul lywe was nog daar, maar agter hul oë was van daardie tyd af net leegte en skaduwees. Hulle het probeer aangaan. Sondae kerk toe, soms twee keer op ’n dag.

Die seisoene het gedraai. Die graan het eers groen op die landerye gestaan, toe goudbruin. Ná die oes is die lande gebrand sodat die toeriste gevra het: Wat het dan hier gebeur? Hoekom is alles verskroei?

Janfiskaal het dagin en daguit teen skemer geroep. Die kerkklok het elke 15 minute geslaan, jaarin en jaaruit. Desemberma­ande is die reusedenne­boom oorkant die pad van die kerk versier. Die suidooster het somers gewaai. In die winter het dit meestal gereën.

Dit het juis goed gereën daardie eerste drie winters ná klein Katie se verdwyning, en die oeste was geil.

Die polisie kon nooit sin maak van die kinders se vertelling van wat presies daardie dag gebeur het nie. Die twee meisies kon nie veel onthou nie, en wat hulle onthou het, het oor die jare stertjies bygekry en draaie gegooi sodat dit later meer soos sprokies as onthou geklink het.

Die figuur wat wel keer op keer in die stories opgeduik het, was die man – of was dit ’n vrou? – in swart vodde in die bloekombos. In die legendes het hy of sy later ’n bangmaakdi­ng geword; iets waarmee die kinders mekaar gedreig het as iemand stout was.

“Die man van die bloekombos sal jou kom haal!” skree jy voor jy jillend weghardloo­p, ingeval hy jóú dalk ook kom vang. O P ’ N dag, amper presies 21 jaar nadat sy dogtertjie verdwyn het, word oom Theuns een oggend kort voor daglig wakker. Eers dink hy dis die droom wat hom wakker gemaak het; die een waar hy klein Katie in Waenhuiskr­ans se vlak branders vashou. Waar sy, bruin soos roosterbro­od ná ’ n hele Desemberva­kansie in die son, haar dun armpies om sy nek slaan en gemaak-bang gil toe ’n brander oor hul lywe spoel.

Maar dit was nie, want toe hy weer luister, hoor hy dis ’n miaau. Die kleinste miaau in die wêreld. So het Streepkat in hul lewe gekom.

“Siestog, die ou dingetjie is honger,” het tannie Katie, nog in haar japon met krullers in die hare, gesê toe hy haar roep om te kom kyk.

“Kom hier, ounooi, kom,” het hy die be-

Sy wat Stefanie was, moes bly, moes deur die agterdogti­ge kyke en die geskinder leef

dremmelde gedroggie opgetel en ingevat kombuis toe. Daar het die katjie dadelik oor die bakkie melk wat tannie Katie vir hom neergesit het, gehurk en spinnend aan die drink gegaan.

Streepkat het goed gegroei van al die kos wat die oom en tannie hom gevoer het. Skaars ses maande ná sy aankoms was hy al reusagtig groot. Maar al het hy toegelaat dat hulle hom voer, was Streepkat ’n wilde ding. Hy was g’n troeteldie­r nie en net die twee ou mense kon aan hom raak. Vir enigiemand anders het hy net ’n sis en ’n groen gluur gehad.

Snags het hy wel altyd binne gebly, aan die voetenent van hul bed, waar hy nag ná nag sit en halfsluime­r het en waggehou het oor hul drome. Soms het hy een van die drome gevang en in die hoek van die vertrek verorber sodat tannie Katie die volgende oggend net ’n reuklose nat kol daar gekry het en oom Theuns weer met die leer opgestuur het dak toe om te kyk of daar ’n lekplek was.

Nie dat dit ooit meer gereën het nie. Streepkat het hom kom aanmeld middein die strafste droogte wat selfs die distrik se oudste mense kon onthou. Dit loop toe al amper drie jaar lank sleepvoet deur die stof, dié droogte. Al wat op die velde staan, is soms ’n warrelwind en plek-plek ’n verdroogde bloekom by ’n leë skaapkrip. Daar word van elders voer vir die diere aangestuur en die mense hou biddae vir reën in die groot wit kerk. Maar die Here bly aanhou sy gesig wegdraai en nie ’n druppel val op die dorre aarde nie. E ENDAG het oom Theuns en tannie Katie sit en Patience speel soos hulle altyd daardie tyd van ’ n laat weekmiddag gemaak het. Langs elkeen was ’n klein glasie afgewaterd­e whiskey.

Skielik was Streepkat daar, nugter weet van waar. Hy het aan die miaau gegaan soos hulle nog nooit gehoor het nie. Daar was ’n dringendhe­id in die miaau asof dit iets was wat kon seermaak en moes uit.

Streepkat was by die oop agterdeur, het omgekyk en weer kliphard gemiaau, weer met daardie dringendhe­id. Die ou mense het oorbluf opgestaan en hom in stilte gevolg in die teerpad af tot waar dit stofstraat word. Verby die laaste bouvalle van die spoorweghu­isies waar nou net spoke woon, en oor die bult die dorp uit. Waar die bloekombos begin, het hulle gehuiwer, maar Streepkat het teruggekom en hulle kom aanpraat.

Dieper die bos in het hulle gegaan in die laaste skemerlig van die dag, die klippies knarsend onder hul oumenssand­ale.

En daar, toe hulle al anderkant die bos uit is en daar skaars nog lig oor was, het hulle eindelik die waarheid oor hul Katiekind ontdek. En geweet wat hulle moes doen. S Y’S natgesweet en uitasem ná haar halfuur op die gim se oefenfiets toe haar foon lui. Die stem aan die ander kant klink vaagweg bekend, soos iets wat ’n mens in ’n herhalende droom sou hoor.

“Hallo? Styfie? Is dit jy, Stefanie, is dit jy?” sweef die klank deur die jare. En net so kom sit haar verlede vierkantig op haar bors. “Dis tannie Katie. Meisiekind, jy moet kom. Dis tyd.”

En sy’t gegaan. Stefanie, die een wat oorgebly het. Ná hul maatjie se verdwyning was dit nie lank voor Grietjie saam met haar ma-hulle weggetrek het en nooit weer van gehoor is nie.

Maar sy wat Stefanie – Styfie – was, moes bly, moes deur die agterdogti­ge kyke en ganse dorp se geskinder leef, anderkant uit.

Sy kon nie wag om te waai nie, en die oomblik toe sy hoor sy’t ’n beurs gekry om te gaan studeer, hét sy, en nog nooit weer daarna het sy haar voete op haar grootwordd­orp gesit nie, tot haar ouers se groot verwyt.

Tot nou. Tot tannie Katie se stem haar hierheen gedwing het.

Dis asof alles die afgelope 21 jaar tot by hierdie oomblik gelei het, dink sy toe sy voor die twee ou mense se deur staan en die klokkie lui.

Om haar lyk alles dieselfde, maar niks is dieselfde nie. Die warm, die droog kleef aan alles, lê alles vas. Niks beweeg in die straat nie.

Toe tannie Katie oopmaak, is daar ’n oomblik waarin die tyd vries soos ’n rekenaarsk­erm wat vashaak. En toe dit weer begin beweeg, gebeur alles te vinnig.

Hulle nooi haar in, laat haar by die kombuistaf­el sit, skink aangemaakt­e Oros in ’n bierglas, vra of sy ys wil hê en hoe dit met haar ouers en met haar en haar man gaan – alles in een asem.

Toe’s hulle stil en sit en kyk net na haar. Lank, asof hulle iets van hul verlore kind in háár gesig soek.

Oomblikke, ’n ewigheid, later sê oom Theuns: “Nou ja, meisiekind, die tannie het jou oor die foon gesê jy moet kom. En hoekom.”

“Ja, oom, en ek het onthou. Skielik, net so, alles onthou. Dit was ’n ongeluk . . . dit wás,” sê sy, en die nat verdriet skeur uit haar los en stroom oor haar wange.

Sy onthou klein Katie se skielike, stomp gil toe haar voet gly en sy oor die afgrond stort, hoe haar kop onder in die ravyn soos ’n kannalelie begin blom het toe dit die rots tref.

Hulle mág nie daar gewees het nie; dis ánderkant die bloekombos. Hulle is gesê om nooit, óóit daar te speel nie. En toe kon hulle nie vir die grootmense sê wat met hul maatjie gebeur het nie. En toe besluit hulle om te vergeet en versin stories oor mense in swart vodde.

Omdat hulle nie daar mág gewees het nie, wás hulle nie daar nie en het hulle gejok oor die feit dat hulle nie daar was nie. Daar’s nooit dáár gesoek nie en niemand kom ooit daar nie.

Jare lank terwyl die graan ryp word en geoes word, die kerkklok elke 15 minute lui en Janfiskaal soggens en saans teen die skemer roep, het klein Katie in daardie sloot gelê. Eers het die rooikat aan haar kom eet, later het die goggatjies en miere aan haar geknibbel, en nog baie winters later het die mos oor haar wit gebeentes gegroei.

“Ons weet, meisiekind,” sê tannie Katie sag, “maar nou moet ons regmaak.”

Styfie weet dadelik wat sy bedoel. Die aarde is dors. Klein Katie was per ongeluk, maar nou moet daar weer ’n offerande wees.

Sy is gereed, eintlik verlig, asof die bloedlatin­g die drukking op haar bors sal wegvat.

Later daardie nag, toe die lem in haar vlees insink waar sy, die twee ou mense en Streepkat aan die ander kant van die bloekombos staan, verbeel sy haar ’n oomblik sy sien uit die hoek van haar oog ’n donker figuur in swart vodde. Dan word alles swart en ewig.

Daardie winter en die twee daarna val die reën mildelik en word die velde weer diepgroen.

Die oes is geil, en uit dankbaarhe­id plant die oom en tannie vir die eerste keer iets op die graffie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa