Huisgenoot

’N BRIEF AAN ONS SEUN

-

Ons kosbare seuntjie, ons skryf vir jou dié brief propvol liefde, uit die diepte van ons hart, met die hoop dat ons woorde jou op jou lewenspad sal volg en wanneer jy dit eendag êrens herroep dit jou met vreugde sal omvou.

’n Brief om jou geboorte te vier, jou toekoms te verwelkom en jou aan jou herkoms te herinner. Wat ’n vreugde en voorreg om jou ouers te kan wees. Ons kyk na jou en sien stukkies van onsself saamgesmel­t in jou menswees en wil bars van trots oor die wonder van jou wese. Jy, as David Jacobus de Villiers die agtste, is ’n lewende getuienis van God se goedheid en trou. Mag jy dit altyd onthou. Jy dra die naam van “God se geliefde” en beslis ons geliefde ook. Mag jy hierdie naam en waarheid met trots saam met jou dra waar jy ook al gaan en nooit vergeet nie: Jy is gelief, ons klein prinsie en ons grootste geskenk.

Wees verseker ons sal altyd probeer om vir jou vlerke te gee sodat jy in die rigting van jou drome kan vlieg. As ons kon, sou ons jou ook wou beskerm teen al die dinge in die lewe wat jou moontlik van daardie drome kan weerhou of wat jou langs die pad wil seermaak. Ons sal altyd ons bes doen om dit wel te doen, maar vir die kere dat ons dalk nie kan nie, bid ons vir jou die krag en deursettin­gsvermoë toe om sterk te staan en vreesloos voort te gaan om voluit te lewe.

Dit is ons wens vir jou dat jy met oorgawe jou drome sal najaag en die lewe met albei arms sal aangryp en bowenal ten volle leef. Dat jy sal lag, liefhê en lewe sonder vrees. In ’n oogwink het jy ons harte kom steel en ’n leeftyd lank sal ons jou liefhê.

Jo Black sing ’n lied wat weerklink wanneer ons na jou kyk, agtergrond­musiek om jou te vergesel op al jou toekomstig­e avonture. Dit is ’n kreet wat jou sal dra wanneer jy dit nodig het. Onthou hierdie woorde, ons liefste seun: Dit vat net een klein klippie om ’n reus plat te slaan ’n Klein vlam in die donker om ’n veldbrand te maak Lig jou hande na die hemel, gooi jou sorge vir die wind Verbreek die helse kettings wat jou elke dag verbind Jy moet weet, jy kan net vorentoe gaan Dit vat net een klein klippie om ’n reus plat te slaan.

Ons het jou lief sonder ophou, Davey, en gun jou ’n lewe wat jou grootste verwagting­s kan oortref.

Met al ons liefde,

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa