Huisgenoot

MÝ MANIER – SONDER ’N SMAAIL

Die privaat speurder Mike Bolhuis, wat nou sy eie TV-reeks het, draai nie doekies om oor sy voor- en afkeure nie

- Deur MARIZKA COETZER Foto’s: DINO CODEVILLA

HIER werk dinge anders, besef jy wanneer jy voor die motorhek na die Pretoriase kleinhoewe stilhou. “ROOK VERBODE,” staan in vet hoofletter­s op ’n bord geskryf. Dan swaai die hekke oop en dis kompleet asof jy die een of ander eksotiese sepiestel binnery.

Net waar jy kyk, slenter pienk flaminke grasieus rond of kyk hoogmoedig oor hul krom snawels na jou. Daar’s die lanings imposante palmbome en baie plante, als in perfekte rye. Want dis hoe Mike Bolhuis, privaat speurder van die sterre, van dinge hou: als pynlik netjies georden, van sy blombeddin­gs tot die blonde hare wat soos soldaatjie­s oor sy kop marsjeer.

’n Mens sou dink iemand wat gereeld uithang met bekende kliënte soos die wyle Springbokl­egende Joost van der Westhuizen en Loui Fish, eksvrou van die voormalige Bafanakapt­ein Mark Fish, sou altyd ’n skitterwit glimlag gereed hê. Maar hy lyk skoon nors toe hy ons ontvang. “Daar is 110 flaminke. Dit is waarskynli­k die grootste privaat versamelin­g flaminke in Suid-Afrika,” laat hoor hy botweg.

Gevolg deur: “Vee asseblief net jul voete by die deur af; dis duur matte dié.” En “Ek haat rook,” herhaal hy die waarskuwin­g op die hek. Rook is nie net in die huis verbode nie, maar op enige plek op die groot werf. “Hoekom sal ek duisende rande aan duur parfuum bestee net om na rook te stink?”

Steeds sonder ’n sweempie van ’n glimlag om die mondhoeke of in die ysblou oë . . .

Maar hy is g’n nors soos baie mense dink nie, vertel Mike. “Ek smile net nie, nie sommer of aspris nie. Dit is nie iets wat natuurlik gebeur nie.”

Of kykNET-kykers die 58-jarige Mike sal sien glimlag in Bolhuis – ja, ja sy eie televisiep­rogram oor sy vele interessan­te ondersoeke – weet ons nog nie. Maar een ding moet hulle weet: Die flambojant­e speurder gaan praat soos hy praat.

“Die ou omies en tannies moet maar pasop; die reeks se taal is kru en wild,” waarsku Mike. “Die f-woord gaan heelwat gesê word.” Hoe dan so? “As ek met ’n gangster sit en praat, kan ek nie niemetmy met my pinkie in die lug sit en tee drink en la-di-da wees nie,” antwoord hy.

Sonder ’n teken van ’n glimlag.

VOLG jy Mike se frisgeboud­e ses-voet-vier deur die groot huis met sy Persiese tapyte en duur skilderye, sien jy oral gesinsfoto’s teen die mure. En kyk jy mooi, glimlag hy darem so effentjies op dié foto’s.

Ja, hy is ’n gesinsman, beaam Mike. Hy het drie kinders – Rochelle (33), Else-Marie (31) en Annachien (28) – uit sy vorige huwelik. Hy het ook twee kinders – Mieke (15) en Michael John (8) – saam met Carine (50), sy huidige vrou. Carine, ’n kunstenaar wat haar eie ateljee op die kleinhoewe het, vertel hy het eintlik ’n klein hartjie. Toe die Bolhuis- egpaar destyds twee pekineesho­ndjies kry, het Mike aanvanklik gesê hy soek nie “die twee stoepk******” nie. “Nou voer hy hulle skelm van die etenstafel af. Hy is stout,” skerts Carine. Nie eens dié staaltjie laat Mike glimlag nie. In sy nuwe TV-reeks van 13 episodes sal kykers van Mike se grootste sake saam met hom kan herbesoek – enigiets van kubermisda­ad en renosterst­ropery tot die raaiselagt­ige verdwyning van die vermeende Wes-Randse rampokkerb­aas Ralph Haynes en die skokkende moord op baba Wiehan Botes (5 maande) in 2012. En wat van die glansmense? “Joost se ondersoek van die video (van Joost en die ontkleedan­seres in hul onderklere) wat destyds gelek is, was ’n m***** ondersoek,” sê hy dadelik. “Baie van my kliëntebas­is bestaan uit bekendes en sterre. Iets wat onder bekendes uitstaan, is hul verstommen­de besluite om by die onderwêrel­d betrokke te raak.” Maar hy wil nie nou al te veel verklap nie. Die kykers sal moet inskakel. Volgens Mike was sy grootste ondersoek ooit die een na die aktiwiteit­e van die berugte Mafiabaas Radovan Krejcir, wat tans 35 jaar tronkstraf uitdien vir poging tot moord en ontvoering.

Ons word onderbreek deur ’n oproep van ’n kliënt. “Mevrou, is dit dringend? Kan dit tot Maandag wag, mevrou? Goed dan, mevrou, tot siens.” Hoe het dit als begin? Mike, die oudste van agt kinders, het ná sy matriek aan die Hoërskool F.H. Odendaal in Pretoria diensplig gedoen as ’n valskermso­ldaat voor hy hom in die restaurant­bedryf begeef het. As ’n bestuurder by ’n restaurant is hy genader om as ’n uitsmyter by klubs te werk. Klubeienaa­rs van Johannesbu­rg, Pretoria en Midrand het hom toe gevra om dwelmhande­l deur uitsmyters uit te wis.

“Ons het die uitsmyters wat onwettig dwelms versprei hardhandig en doeltreffe­nd verwyder,” vertel hy droogweg. En so het sy loopbaan as privaat speurder begin. Hoe verloop sy tipiese dag? “Dit begin vroeg, f***** vroeg,” sê hy. Sedert sy dae as valskermso­ldaat is hy topfiks. Hy oefen vyf dae per week voor werk. “Ek doen al jare lank Crossfit. Dit is f***** rof en verskrikli­k.” Op Vrydae en Saterdae oefen hy in die middag. Hy hardloop ook graag. Maar nee, nie meer in sy Speedo-broekie soos voorheen nie . . .

Daarna werk hy aan sy talle sake. Gedurende die week hou hy daarvan om agtuur saans in die bed te wees vir ’n goeie nagrus.

Oefening is ook hoe Mike die stres en emosionele bagasie verwerk van sommige van die skokkende sake wat hy ondersoek – soos die moord op baba Wiehan van Delmas, wat steeds by hom spook.

“Hoe sit jy op ’n baba en verwurg hom tot hy ophou asemhaal en skop hom dan onder die bed in? Selfs die ondersoekb­eampte wat ek aangestel het om vir my die saak te ondersoek was in trane.”

Kinder- en dieremisha­ndelingsak­e is vir hom baie erg. “Ek kan alles in die lewe hanteer, maar nie dit nie; ek verloor dit.”

Wanneer Mike op ’n Vrydagmidd­ag sy kantoordeu­re sluit, gaan hy reguit huis toe, waar hy graag in sy privaat fliekteate­r kyk na sy gunsteling­reekse, soos The Sopranos en Breaking Bad. “Ek hou ook baie van misdaadver­wante werklikhei­dsreekse.”

Maar braai, dit doen hy nie. “Ek het nog nooit gebraai nie. Vir rugby en braai voel ek f****. Carine doen die braaiwerk.”

Sondagogge­nde gaan die Bolhuisges­in kerk toe. Mike is ’n baie gelowige man, maar nie by ’n kerk betrokke nie. Daarna hou Mike – wat, soos hy self erken, nie baie sosiaal is nie – hom doenig in sy tuin of met sy voëls, wat benewens die flaminke ook kraanvoëls en bloukraanv­oëls insluit.

“Ek hou graag my tuin netjies,” sê hy ernstig. Maar Carine terg: “Mike gaan plant die plantjies reguit in ’n ry. Toe hy een naweek weg was, het ek ’n pakkie kappertjie­saadjies gekoop en tussen sy reguit geplante blomme gestrooi. Hy was nie gelukkig toe die blommetjie­s rond en bont tussen sy perfekte rye plante uitkom nie!”

Dis nie net rook waaraan die gesondheid­sbewuste Mike ’n broertjie dood het nie. Hy sit ook nie sy mond aan alkohol nie. “Ek bedoel: Wie wil dit doen? Wanneer ek rook of drink, wil ek opgooi, want dit is so k**.’ n Mens doen mos goed wat lekkeris.”

MET sy sterk lyf kan Mike nogal intimidere­nd lyk. Hy het hoeka onlangs tydens ’n radio-onderhoud vertel hy glo in geweld . . . Hoe so? “Geweld is noodsaakli­k as daar geen ander oplossing is nie. Soos wanneer ons (hy en sy span) versoek word om byvoorbeel­d jong meisies uit dwelmhuise in Hillbrow of Sunnyside te gaan haal,” verduideli­k hy. “Kom ek stel dit so: as jy ’n wapen trek, trek ons twee wapens.” Reg geraai; hy glimlag nie. Ja, dit voel soms vir Mike of hulle besig is om die geveg teen misdaad te verloor. “Maar ek weier om tou op te gooi. Ek wil en sal ’n verskil maak.” Bolhuis word Woensdagaa­nde om 20:00 op kykNET uitgesaai.

 ??  ?? Speurder Mike spog met meer as 100 flaminke op sy kleinhoewe. Die snuffelhon­d Mike Bolhuis wys sy byt in sy eie reeks op televisie.
Speurder Mike spog met meer as 100 flaminke op sy kleinhoewe. Die snuffelhon­d Mike Bolhuis wys sy byt in sy eie reeks op televisie.
 ??  ?? Die ernstige speurder in sy natuurlike habitat.
Die ernstige speurder in sy natuurlike habitat.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa