Huisgenoot

NUGTER MAN KOEL AF

-

Ek ken my man al vandat ons tieners was. Ons was albei voorheen getroud, maar ons huweliksma­ats is oorlede. Ons is nou in ons 50’s en twee jaar getroud. Ek het altyd gedroom van ’n mooi sekslewe saam met hom. Ongelukkig is ek uit my drome geruk. Aan die begin van ons huwelik het hy baie gedrink en ons het toe liefdevoll­e seks gehad. Noudat hy nie meer drink nie, is daar geen intimiteit tussen ons nie. Dit gaan nou al vier maande so aan. Wat kan ek doen? H op SU Dat jou man ophou drink het, is ’n goeie ding vir jul verhouding en sy gesondheid op lang termyn. Wanneer dranksugti­ges ophou drink, ervaar party ’n swak libido, terwyl dit vir ander die einde van impotensie beteken.

Een van die redes daarvoor is dat party verhouding­smaats sekere inhibisies rondom die liefdespel onderdruk wanneer hulle onder die invloed is. Dit help hulle om met oorgawe aan hul eie en hul bedmaat se behoefte te voldoen.

Dit kan ook wees dat alkohol jou man meer selfvertro­ue in die slaapkamer gegee het, maar noudat hy nugter is, kan hy ontoereike­nd voel.

Vir sommige ouddranksl­awe is ’n nuwe lewe as ’n sober individu ’n groot aanpassing. Ook in die slaapkamer moet hulle die liefdespel op ’n nuwe manier leer geniet.

Of anders gestel: Hy het altyd ’n verhouding met die bottel en met jou gehad, en nou het hy net ’n verhouding met jou.

Intimiteit hang baie af van hoe veilig iemand in ’n verhouding voel. Dit is nou tyd om aan die emosionele diepte van jul verhouding te werk.

Dit is belangrik dat julle twee op afsprake buite die huis gaan waar hy nie sal voel daar word druk op hom uitgeoefen wanneer jy liefdevol teenoor hom optree nie.

Dit gaan geduld verg terwyl jy ’n rukkie jou behoeftes tweede stel en die verhouding op ander maniere laat groei.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa