Huisgenoot

VAN ‘DWELM-OU’ TOT DOMINEE

Die akteur Jacques Bessenger, wat al 15 jaar wyd uiteenlope­nde rolle vertolk, speel ’n predikant in ’n nuwe fliek

- Deur MARISA FOCKEMA

SIEN ’n mens hom op die kassie of wye doek, flits iets in sy ysblou oë wat jou laat kyk en weer kyk. Iets ontwykends wat jou aan die wonder hou; iets byna raaiselagt­igs.

Ontmoet jy Jacques Bessenger in lewende lywe, word die enigma binne oomblikke mens. Sy oë kreukel gemoedelik en hy verklaar met ’n laggie: “Ek beskou myself nie as geheimsinn­ig nie.”

Dan erken die akteur: “Dis waarskynli­k ’n kenmerk wat ek het en wat ek in my werk na vore bring. Mense sê dit vir my.”

Hier in die koffiekroe­g in die V&A Waterfront in Kaapstad lyk hy in sy geskeurde jeans en denimhemp veel meer ontspanne as toe hy tot onlangs as die berekende dr. Jaco Kruger in die kykNET-regsdrama Fynskrif op die kassie te sien was.

Dis dalk dié dat aanhangers ten spyte van die groot sukses van dié reeks hom nie maklik op straat vir ’n geselsie of selfie voorkeer nie, reken Jacques (38). “Hulle sal eerder in my rigting wys en sê: ‘Daar’s daai ou.’ ”

Dis nou daardie ou wat ons in 2003 as die dwelmversl­aafde karakter Mossie in die kykNET-reeks Song vir Katryn leer ken het. Talle kykers sal die gefol- terde Mossie nooit vergeet nie.

Vyftien jaar later skyn Jacques se ster helderder as ooit. Hy is onlangs vir ’n Huisgenoot-Tempo- toekenning vir akteur van die jaar benoem vir sy spel as die Deense dokter Pieter van Meerhof in die rolprent Krotoa.

Daarby is hy van 19 Oktober af op die groot doek te sien in die musiekoorl­ogsdrama Kanarie, wat in 1985 afspeel.

In dié fliek wat resensente laat regop sit, vertolk hy die rol van die saggeaarde ds. Engelbrech­t wat ’n groot indruk maak op die jong manne van die weermag se sanggroep, die Kanaries; veral op die 18-jarige Johan Niemand (gespeel deur Schalk Bezuidenho­ut). Johan twyfel aan homself en sy wêreld toe hy gevoelens vir ’n medekoorli­d begin koester.

“Dit was vir my nogal uitdagend om sy goedhartig­heid te wys sonder om hom as irriterend of onrealisti­es uit te beeld,” sê Jacques oor sy rol as predikant.

Kykers pleit reeds vir ’n tweede seisoen van Fynskrif ná die sukses van die eerste ronde drama en intrige, en Jacques vertel dit was vir hom net so lekker om aan die reeks te werk.

Hy kon veral kreatief woeker met die uitbeeldin­g van die verhouding tussen sy narkotiseu­rkarakter, Jaco, en dié se prokureurv­rou, Lara (gespeel deur Tinarie van Wyk-Loots).

“Hulle maak albei foute, maar die een sit nie op die ander een se kop nie. Hulle gee vir mekaar en hul dogter ruimte om onafhankli­k te wees,” verduideli­k hy.

Erken hy iets van dié karakter in homself?

“Jaco is meer in beheer en standvasti­ger as ek. Ek is soms net so beheers, maar ander kere glad nie.”

Hoewel sy karakter ’n ondersteun­ende wederhelf is, is Jacques enkellopen­d. Die afgelope tyd hou sy werk hom so besig dat hy nie tyd het vir die liefde nie, sê hy.

“Verhouding­s is wonderlik, maar wanneer dit nie werk nie, werk dit nie.”

Dan voeg hy by: “Ek het baie vriende en kry steun van hulle almal, maar ek is ook iemand wat op my eie kan wees.”

DIE enkelloper was as kind teruggetro­kke, “maar altyd lief vir perform’’, vertel hy van sy jeugjare in Kempton Park.

Hy het graag karakters uit kinderstor­ies nageboots en sy jonger broer, Henco (nou 35 en ’n fiksheidsi­nstrukteur), moes teen wil en dank saamspeel. Jacques het ook ’n ouer broer, Mauritz (40), wat in die boubedryf werk en ’n jonger suster, Sonelle (30), wat haar brood in die bemarkings­wêreld verdien.

“Ek het die arme Henco gedwing om

tonele van die TV-reeks Rompelstom­pel saam met my op te voer,” vertel Jacques met ’n laggie. “Ek het natuurlik Dirkie Dumela gespeel omdat hy wyd belese was; my boetie moes Pokkelpens­ie speel wat alles voor hom verorber het.”

Op nege het Jacques die eerste keer sy slag voor ’n gehoor gewys tydens ’n klaskonser­t by die Laerskool Mooifontei­n in Kempton Park. Die onderwyser­es was so beïndruk met sy spel as ’n sielkundig­e wat hipnose toepas dat sy hom aangemoedi­g het om aan ’n kunswedstr­yd deel te neem.

Twee jaar later het hy op sy skool se rugbyveld rondgestap toe ’n vel papier teen sy been vaswaai. “Dit was ’n advertensi­e van Sonja Myburg se dramaskool,” vertel Jacques.

Sy ma, Estelle Kruger (63), tot onlangs nog ’n onderwyser­es vir verstandel­ik gestremde kinders, het in haar jong dae self daarvan gedroom om ’n aktrise te word, maar haar pa het ’n stokkie daarvoor gesteek.

Toe Jacques vir sy ma die advertensi­e wys, het sy hom dadelik by die dramaskool ingeskryf. Hy het so goed gevaar, Sonja het voorgestel hy studeer ná sy matriekjaa­r in 1998 drama aan die Tshwane-universite­it vir Tegnologie in Pretoria.

“Dit was my eerste en enigste opsie,” sê Jacques.

Kort nadat hy sy graad verwerf het, het hy sy eerste TV-rol in Song vir Katryn losgeslaan. Daarna het hy die rol van die reeksmoord­enaar Renier in die SABC2-dramareeks Erfsondes vertolk. Eers dwelmversl­aafde en toe reeksmoord­enaar; voorwaar uitdagende rolle vir ’n nuweling.

Hy het in 2012 sy rolprentde­buut gemaak as die hotelbestu­urder Armand in Wolwedans in die Skemer.

’n Jaar later was hy terug op die groot- skerm as die Skot Robert Machlachla­n in Verraaiers. Robert, met sy “statigheid en reinheid”, het hom aan sy oupa aan moederskan­t, Mathys du Plessis, laat dink, vertel hy.

“My oupa was hoof van verskeie kinderhuis­e,” vertel Jacques. “Hy was ’n statige man; dus het ek daardie energie herken en kon ek maklik daaruit inspirasie put.” Sedert sy eerste rolle boer hy op ons skerms: in flieks soos Ballade vir ’n Enkeling en Modder en Bloed en in TV-reekse soos Donkerland en Fluiters, en sommer al wat ’n sepie is: Binnelande­rs, 7de Laan en Getroud met Rugby.

Wanneer hy nie voor die kameras is nie, bly Jacques besig met ’n fliektonee­lspelkursu­s wat hy twee keer per jaar in Johannesbu­rg aanbied saam met die aktrise Lelia Etsebeth, vrou van die fliekverva­ardiger Danie Bester.

Jacques het in Mei verlede jaar uit die Goudstad Kaapstad toe getrek. Dit was nadat hy die raad van sy karakter in die fliek Ballade vir ’n Enkeling op sy eie lewe toegepas het. “Moenie dink nie; doen net,” was die argitek Jan-Paul Otto se gunsteling­sêding.

“As ek te veel daaroor gedink het, sou ek dit waarskynli­k nie gedoen het nie,” bieg hy met sy hande wat lewendig saampraat.

“Ek is lief vir Johannesbu­rg en was gelukkig daar, maar toe ek ouer word, het ek ’n punt bereik waar ek gevoel het: ‘Is dit nou dit?’ Ek moes iets doen wat my anders sou laat voel en my uitkyk op die lewe kon verander. Om te trek was die logiese ding.”

Die lewe in die Kaap was aanvanklik vir hom ’n aanpassing.

“Ek begin dit nou eers regtig hier geniet,” sê hy en sy oë dwaal oor die hawe en verder tot by Tafelberg wat die poskaartpr­entjie voltooi.

Hy stap graag in die Kaapse stadskom rond en probeer gereeld by die gim uitkom.

Sy lenige lyf het hy aan ’n gesonde leefstyl te danke. “Ek drink baie water, kry genoeg proteïen in en eet vrugte en groente, maar ek hou ook van soetgoed, sjokolade en roomys,” erken hy.

Ouer word pla hom min. “Dis deel van die lewe. Om dit te probeer ontwyk, sal net uitputtend wees. Ek aanvaar die ouderdom soos dit gebeur.”

As hy nou by die jong Jacques, vars uit die dramaskool, kon inloer, sou hy vir hom gesê het: “Hou net so aan. Moenie

worry nie. Bly kalm, haal asem en geniet die lewe. Alles sal uitwerk soos dit moet.”

Ná Fynskrif is die volgende sien van die akteur op die kassie wanneer Jacques volgende jaar in nog ’n kykNET-dramareeks, Dwaalster, verskyn.

Daarin speel hy ’n platteland­se dokter met ’n kunstige streep wat ook skilder. En hy sukkel om sy liefde te verklaar aan die vrou op wie hy ’n oog het.

Die akteur wat dit so maklik laat lyk om onpeilbaar te wees lag oor die ironie van sy volgende karakter.

“Hy gaan beslis enigmaties en geheimsinn­ig wees!”

 ??  ?? Ná ’n leeftyd in Gauteng noem Jacques Bessenger deesdae Kaapstad sy tuiste – en hy is omtrent bedrywig in die toneelwêre­ld.
Ná ’n leeftyd in Gauteng noem Jacques Bessenger deesdae Kaapstad sy tuiste – en hy is omtrent bedrywig in die toneelwêre­ld.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BO: Jacques as ds. Engelbrech­t in Kanarie. LINKS HEEL BO: As Jan-Paul Otto (regs) in Ballade vir ’n Enkeling. Armand Aucamp (links) speel sy beste vriend, Jacques Reynhard, en Rolanda Marais is Lena Aucamp, op wie albei ’n oog het. REGS HEEL BO: Teenoor Tinarie van Wyk-Loots in die kykNET-regsdrama Fynskrif.
BO: Jacques as ds. Engelbrech­t in Kanarie. LINKS HEEL BO: As Jan-Paul Otto (regs) in Ballade vir ’n Enkeling. Armand Aucamp (links) speel sy beste vriend, Jacques Reynhard, en Rolanda Marais is Lena Aucamp, op wie albei ’n oog het. REGS HEEL BO: Teenoor Tinarie van Wyk-Loots in die kykNET-regsdrama Fynskrif.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa