TUIS BY BOER WAT CYRIL BYSTAAN
Ná sy ope brief oor grondhervorming het die president hom eindelik betrek; nou bepleit die boer spoedige aksie ‘Toe hy sê wie praat, het ek geweet dis die president; ek het dadelik sy stem herken‘
TOE sy selfoon in Augustus vanjaar tydens die BelaBela-grondberaad lui, het Nick Serfontein hom boeglam geskrik. Hy het immers die nommer op die skermpie herken danksy ’n vorige SMS. En toe hy boonop Cyril Ramaphosa se bekende stem hoor, het hy geweet dis nou ernstige sake, vertel die 70-jarige megaboer wie se ope brief oor grondhervorming aan die president die land laat gons het.
In die brief het Nick, voorsitter van die landbougroep Sernick in die Vrystaat, sy hand opgesteek met die boodskap: Laat die kommersiële landbousektor help om nuwe boere op hul voete te kry.
Maar Ramaphosa se oproep het nie da- delik gekom nie. Nick het die brief in Mei vanjaar vir die president gestuur, maar geen reaksie daarop gekry nie. Hy het hom toe tot die media gewend. “Ek was kwaad omdat daar geen ondersteuning vir opkomende boere is nie, toe besluit ek om die brief in die pers te versprei,” verduidelik hy.
In Julie is die brief toe in Landbouweekblad gepubliseer. “Die motivering vir hierdie brief is nie dat ek die onteiening van my eie plaas vrees nie, maar eerder dat ek die afgelope drie jaar die hel ervaar het wat opkomende boere in Suid-Afrika deurloop,” het Nick onder meer geskryf en toe voorstelle gemaak oor hoe grondhervorming sinvol kan geskied. En toe, met verwysing na die nou bekende woorde waarmee Ramaphosa sy eerste staatsrede afgesluit het, rig hy die uitnodiging: “Stuur ons.”
Hoe het hy gevoel oor al die reaksie wat dit ontlok het?
“Ek het gevoel soos ’n foksterriër wat ’n bus wil vang. Die e-posse het ingestroom en almal wou hul hulp aanbied. Ek het nie verwag dat die reaksie so geweldig positief sou wees nie,” sê hy nou hier op sy plaas, Liebenbergstroom, naby Edenville.
Toe Ramaphosa eindelik terugbel, was dit om Nick te vra om te dien in die paneel kundiges wat die interministeriële komitee oor grondhervorming adviseer.
“Hy het my bedank vir die brief. Dit was ’n goeie gesprek en ek het onmiddellik ingestem om in die paneel te dien,” sê Nick.
Nick het Ramaphosa wel voorheen ontmoet – in 1996 op ’n privaat vlug tussen Kaapstad en Mafikeng, Noordwes, waar Ramaphosa ’n spreker was tydens die 78ste verjaardagvierings van Nelson Mandela.
En tydens die adviespaneel oor grondhervorming se eerste vergadering ’n paar weke gelede by die Uniegebou het hy op sy reguit boeremanier die ys met Ramaphosa gebreek. “Toe ek myself voorstel, het ek vir hom gesê ek is die stoute skrywer wat hom amper sy werk as
president gekos het omdat almal ná die brief wou hê ek moes president word.” Ramaphosa het net gelag. Die lot van opkomende boere lê Nick al jare lank na aan die hart.
“Ek het in 2015 reeds besluit iets moet gedoen word. Ek het gesien wat met opkomende swart boere aan die gebeur is en wou hulle help,” vertel die man met die grys hare en sagte oë.
Hy het begin om boeredae vir beginnerboere te organiseer waartydens Sernick vir hulle opleiding aanbied.
“Op die eerste boeredag het amper 300 nuwe boere opgedaag. Die uitdrukking op hul gesigte het my geïnspireer; hulle was honger vir inligting en om meer oor boerdery te leer.”
En met sy ope brief het hy dieselfde soort reaksie gekry as met daardie eerste boeredag: “Honderd persent positief. Een van die beginnerboere het gesê: ‘Hierdie brief behoort elke dag vir die volgende 10 jaar in al die landstale vertaal en in alle media gepubliseer te word.’
“Daar is hoop. Almal skree vir hulp, en dis tyd dat ’n goeie plan beraam word.”
SELFS die president is gretig om by Nick te leer. Ramaphosa boer met ankole-, bonsmara- en boranbeeste op Ntaba Nyoni, sy spogplaas naby Badplaas in Mpumalanga. “Tydens ons telefoongesprek het hy vir my gesê hy wil op die plaas kom kuier om raad oor sy boerdery te kry,” sê Nick.
En ’n mens kan sien hoekom. Hier op Liebenbergstroom, wat 5 500 ha beslaan en die tuiste is van Sernick, het Nick ’n bonsmarastoet van 700 teelkoeie asook 12 000 beeste in die voerkraal. Dié familiebesigheid, wat in 1983 tot stand gekom het, verskaf vandag werk aan 550 mense.
Boerdery is in Nick se bloed. Hy is in 1948 op hierdie einste plaas gebore. Hy het later die grond by sy ouers oorgekoop nadat die bank gewaarsku het hulle gaan dit verloor omdat hul boerdery sleg vaar. Maar eers het sy lewe ’n ander pad gevolg, vertel hy.
“Ek was van kleins af lief vir boerdery en wou ná matriek dadelik begin boer, maar my ouers het vir my gesê daar is geen toekoms in die boerdery nie. Hulle het met hul boerdery gesukkel en wou hê ek moet iets anders met my lewe doen.”
Hy het toe aan die Universiteit van Pretoria studeer, waarna hy 28 jaar lank as raadgewende ingenieur gewerk het. Maar hy het nooit sy droom prysgegee nie. “Die ingenieurswese was baie goed vir my en ek het baie geleer, maar ek wou graag boer.” In 1983, terwyl hy as ingenieur bly werk het, het hy 30 bonsmaraverse gekoop, asook 250 ha grond.
Sy kop vir besigheid het hom gou laat besef dat hy vir die res van sy lewe as raadgewende ingenieur sou moes praktiseer omdat die beesboerdery so marginaal was. Hy wou die hele waardeketting beheer – van die teel van die bees tot die slagtings- en vleisverpakkingsproses.
Hy het stelselmatig meer grond en beeste aangekoop – ook sy ouers se grond – en in 2002 die landboubedryf voltyds betree. Benewens sy beestesaak bedryf Sernick vandag ook ’n kommersiële voerkraal, ’n voerfabriek, ’n fase Ctoetsstasie (waar bulle se voerverbruik getoets word om hul groeivermoë te bepaal) en slagpale.
Ná jare se harde werk word hy as een van die land se grootste megaboere gereken.
“Ek het arm grootgeword, maar glo elkeen het geluk nodig,” benadruk Nick.
Agter elke suksesvolle beesboer is natuurlik ook ’n voorslagboervrou. Vida (56) is aktief betrokke en gaan selfs saam met haar man na beesveilings. “Ek het gelukkig self op ’n plaas in Tzaneen, Limpopo, grootgeword, so die boerdery is nie vir my vreemd nie,” vertel sy.
Vida was al twee keer ’n weduwee en Nick was ’n wewenaar voor hulle 18 jaar gelede hul spreekwoordelike skapies in dieselfde kraal gejaag het. Albei het drie kinders uit hul vorige huwelike en saam spog hulle met 10 kleinkinders.
Oor al die reaksie op Nick se brief aan Ramaphosa sê sy: “Ek dink dis ’n goeie ding dat die brief in die media versprei is, want nou is almal bewus van wat daar buite aangaan.”
En dis nie net Ramaphosa wat hom daaroor gebel het nie. “Groot boere bel my elke dag en vra my wat hulle kan doen om opkomende boere te help. Daar is ’n welwillendheid onder die wit boere. Ons almal besef iets moet gedoen word.”
Hy besef ’n moeilike tyd wag op die taakspan oor grondhervorming, maar hy bly positief.
“Ons het vier maande om ’n plan voor te lê. Dis ’n want ons het almal voltydse beroepe. Maar ons sal dit regkry!”
VOLGENS Nick is die groot vraag of die komitee sy en ander kundiges in die paneel se voorstelle oor ’n sinvolle en volhoubare grondhervormingsproses sal aanvaar. “Hierdie gronddebat moes al 10 jaar gelede plaasgevind het. Nou moet ons dit net uit die pad kry. Boere soek beleidsekerheid oor eiendomsreg. Besluite moet geneem word sodat grondhervorming vinnig en ordelik kan plaasvind.”
Sy belangrikste raad aan die president? Beweeg vinnig.
“Ek het nie eintlik nodig om vir Cyril raad te gee nie; hy is skerp genoeg. Al wat ek sê, is daar is nie tyd om te sloer nie. Besluite moet geneem word,” sê hy ferm.
“Ek wens net ek was 20 jaar jonger.”
‘Almal skree vir hulp, en dit is tyd dat ’n goeie plan beraam word’