Nicolette en haar Rian haak af agter tralies
Vir die moordenares Nicolette Lotter het ’n droom waar geword toe sy met haar Rian afhaak
’NOOMBLIK lank is dit asof die honderde vroue hulle in ’ n ander wêreld bevind. d. Weg van die traralies, hoë mure en tronkbewaarders s – in ’n wêreld van romanse waar ’n pragtige ragtige bruid in ’n sprokiesmooi trourok op p haar bruidegom wag.
Waar hulle in die gange van die drieverdiepingselblok staan, sing en dans die vroue in hul blou tronkdrag vir die bruid, want sy is een van hulle, en ’n kosbare oomblik lank het sy iets moois van die wêreld daar buite in hul plek van afsondering ingebring.
Die slanke blonde vrou wat met die bruidsruiker in haar hande na die kapel van Durban se Westville-gevangenis stap, is die moordenares Nicolette Lotter (36). Die afgelope 10 jaar dien sy haar straf hier uit vir die moord op haar ouers, Johnnie en Riekie.
Maar wanneer sy vandag na haar sel terugkeer, sal dit nie wees as Nicolette Lotter nie – dit sal wees as die pasgetroude Nicolette Nortjé, want in die kapel, net ’n paar treë van die tronkkantoor waar sy pas van ’n gevangene in ’n bruid verander het, wag haar aanstaande.
Dis nog nie eens drie maande sedert die 33-jarige Rian Nortjé haar in die besoeklokaal van hierdie einste tronk die jawoord gevra het nie.
Die egpaar sal ook minstens 18 maande moet wag op hul wittebrood en
om saam huis op te sit, want Nicolette sal eers in 2020 vir parool in aanmerking kom.
Maar op hierdie oomblik, terwyl haar medegevangenes rondom en bo haar vir haar in Zoeloe sing, maak niks daarvan saak nie. Want ook die bruid in haar feetjierok is in haar droomwêreld.
“Die trane het gerol toe sy instap; dit was fantasties,” vertel Rian kort ná die intieme huwelikseremonie aan Huisgenoot.
Die troue op Vrydag 5 Oktober was die klimaks van ’n buitengewone romanse wat begin het nadat Rian verlede jaar na die TV-reeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA, kanaal 147 op DStv, gekyk het.
Dié aflewering van Huisgenoot se dokkiereeks het gehandel oor Nicolette (toe 26) en haar broer, Hardus (toe 20), se moord op hul ouers in hul Westvillehuis in 2008. Dit was die eerste keer dat Rian van hulle gehoor het. Iets het in sy hart geroer toe hy die verhaal op TV sien ontvou: “Dit was asof die Here wou hê ek moes dit kyk,” het hy vroeër vertel.
Nicolette is in 2012 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis. Hardus (nou 30) het aanvanklik 10 jaar gekry, maar is in Maart vanjaar onder streng voorwaardes op parool vrygelaat. Die hof het destyds bevind Nicolette se eertydse verloofde, Mathew Naidoo (toe 21) van Phoenix, Durban, het die sibbes gebreinspoel en oortuig om “God se werk” te doen deur hul ouers te vermoor. Naidoo is lewenslank in nog ’n KwaZulu-Natalse tronk.
Nicolette en Hardus se verhaal het Rian so aangegryp dat hy na hulle wou uitreik en hulle ondersteun. Nicolette het Rian weekliks uit die tronk begin bel nadat sy van hom te hore gekom het, en mettertyd het die liefde begin blom.
In Julie vanjaar het Rian, wat aan die Oos-Rand in die sekuriteitsbedryf werk, die eerste keer by Nicolette in die tronk gaan kuier, en die koeël was dadelik deur die kerk. “Ek was stomgeslaan. Sy was so vol smiles. So opgewonde,” het hy vertel. Net daar het hy geweet sy is “die een”.
Teen die einde van Julie, met ’n volgende besoek in die gevangenis, het hy haar gevra om met hom te trou.
Toe het hy aan Huisgenoot gesê: “Ek het haar uit my hart uit lief. Ek sal enigiets vir haar doen.”
NET 11 gaste is by die trouplegtigheid van twee uur – ’n eerste in dekades in die vroueafdeling van die Westville-tronk – maar die gaste beskryf dit as die “volmaakte dag”.
Dis nie net Nicolette se vermoorde ouers wat nie haar “groot dag” meemaak nie. Haar suster, Christelle (32), is ook nie hier nie, want sy het ná die moord kontak met haar sibbes verbreek.
Hardus, wat sedert sy vrylating by ’n pastoor in Durban woon en wel kontak met Nicolette het, het besluit om nie sy suster se troue by te woon nie.
Die bruid verskyn aan die arm van ’n vriendin – dieselfde vriendin wat aan haar die kristal-armbandjie en klein kristaloorringe, die enigste juwele wat sy dra, geskenk het.
Nicolette lyk soos ’n feëprinses in haar droomrok. Dis deur Rita Stander, ’n voormalige beampte van die departement (Blaai om)
(Van vorige bladsy) van korrektiewe dienste, aan Nicolette geleen. Dit was Rita se dogter s’n.
Die ivoorkleurige kantrok met sy blompatroon, kristalle en pêrels sit effens los aan Nicolette, wat aan die maer kant is. Om haar kop is ’n blommekrans van pienk rose en aan haar voete blink ooppuntskoene.
Sy het byna geen grimering aan nie, en haar vel is bleek. ’n Medegevangene het haar naels en toonnaels vir die geleentheid mooigemaak.
Anders as tydens haar verhoor is haar lang lokke in ’n kort blonde kapsel gesny.
In Nicolette se hande is ’n groot ruiker met ’n protea omring deur rose, spesiaal gemaak deur die Lotterfamilie se jare lange familievriendin die predikantsvrou Mollie Kemp.
Terwyl Nicolette tussen haar juigende medegevangenes deurstap, wag ’n senuagtige Rian op haar in die kapel. Ook binne die kapel is die singende en dansende vroue duidelik hoorbaar en sigbaar deur die venster en oop deur.
“Dit was soos ’n Mexikaanse golf wat oor ons spoel,” vertel een van die gaste later. “Dit was ’n onvergeetlike oomblik.”
Rian het die Woensdagaand voor die troue van Gauteng na Durban gevlieg en is nou in ’n deftige swart pak en pers das geklee. Hy het dié das gekies omdat pers Nicolette se gunstelingkleur is.
Twee van sy naaste vriende, Mauritz Swanepoel en nog een wat nie sy naam genoem wil hê nie, is die strooijonkers. Sy ouers ondersteun sy verhouding en is “100% positief ”, het hy vroeër vertel, maar sy ma kon nie vandag hier wees nie omdat sy van ’n knieoperasie herstel.
Die diens word waargeneem deur ds. Alwyn Smal van die Nederduits Gereformeerde kerk op Ballito. Die altaar is versier met die woorde “Op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die Here”. Die dominee bemoedig die paartjie oor die uitdagings van die huwelik wat op hulle wag.
Hy lees voor uit Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! ” Toe die egpaar ringe uitruil, steek Rian ’n eenvoudige silwerpand met diamantjies aan Nicolette se vinger. Sy breë ring is van titanium en goud.
Die dominee verklaar hulle man en vrou en sê dan: “Jy mag nou jou vrou soen.”
Dit is die oomblik waarop hulle al so lank wag: Dit is hul eerste werklike soen.
Van die gevangenes juig weer toe hulle dié teer oomblik van buite die vensters aanskou. Selfs die strooijonkers keer moeilik die trane.
Die bruidspaar gebruik nagmaal saam met hul gaste, en dan is dit tyd om die koek te sny. Dit bestaan uit twee lae wortel- en pynappelkoek. Rian het dit self gebak en sy ma het gehelp om dit met rosies van versiersuiker op te tooi.
Bo-op die koek, in houtletters, pryk die pasgetroudes se name.
Dan raap Rian sy bruid opgewonde in sy arms op en hulle gaan spog buite die kapel voor die ander gevangenes.
“Ek het van kop tot tone hoendervel gekry toe ons daar uitstap en die hele tronk sing en sê hulle aanvaar my: ‘Jy is nou een van ons. Ons verwelkom jou in ons familie,’ ” vertel Rian later.
“Dit was een van die mooiste oomblikke in my lewe.”
Tydens ’n fotosessie deur ’n beampte van die departement van korrektiewe dienste op die tronk se grasperk soen Rian weer sy bruid.
Daarna keer die twee saam met die gaste terug na die kapel vir die kort onthaal. Nicolette het vroeër aan Rian ’n lysie verskaf van die eetgoed wat sy graag wou hê – kos wat sy 10 jaar laas as ’n vry mens geniet het. Op die spyskaart is klein melktertjies, varkworsies met ’n mosterdsous, gerookte mossels op kraak- beskuitjies, pizzatjies en klein hoenderburgers van KFC.
EEN van die gaste, Georgina van der Merwe, ’ n oudonderwyseres wat destyds vir Nicolette aan die Laerskool Port Natal in Durban skoolgehou het, vertel later: “Dit was alles net ongelooflik – van die vroue wat haar toejuig tot die dominee se boodskap.
“Hy het vertel hoe die Here ballinge van Jerusalem eens weggestuur het, maar toe laat terugkeer het met ’ n doel,” sê sy.
Georgina beskou Nicolette se troudag as haar tweede kans op die lewe wat lig in haar lewe in die tronk sal bring.
“Nicolette het bitter mooi en gelukkig gelyk. Sy weet waarmee sy besig is. Die oomblik toe sy in daardie klein kapel instap, was dit net een groot belewenis.
“Die groot proteablommerangskikking het lewe in alles geblaas. Almal het voor die tyd daaraan kom vat, net om te voel of dit werklik is,” vertel Georgina.
Sy sê die paartjie se belof tes aan mekaar was aandoenlik. “Rian het in Engels vir haar gesê hoe hy haar sal ondersteun en altyd daar sal wees vir haar. Sy het ook saggies vir hom gesê sy is lief vir hom en sal ook altyd daar wees vir hom.”
Maar Mollie vertel sy dink die bruid het soms haar ouers en sibbes erg gemis.
Sy vertel Nicolette het die laaste paar weke heelwat gewig verloor. “Ek kon deurentyd my emosies beheer, maar toe sy haar beloftes sê, was dit net te veel. Ons loop al ’n lang pad saam. Ons wat daar vir haar kon wees en vir haar omgee, wou net die beste vir haar hê.”
Mollie raak tranerig toe sy sê: “As haar ma en pa op dié dag daar kon wees, sou ook hulle net die beste vir haar wou hê. ’n Mens kon by tye die verlange na haar ouers op haar gesiggie sien.” Met haar familie wat haar die rug toegekeer het, is Rian nou haar uitkoms vir die dag wanneer die tronkdeure vir haar oopswaai.
Rian hoop om met ’n gesin te begin wanneer Nicolette vrygelaat word. Aan Huisgenoot erken hy: “Dit is die gelukkigste én hartseerste dag van my lewe. Ek hunker na wanneer ek en Nicolette ons lewe saam kan begin. “Ons wil al die eenvoudige, gewone dinge doen wat ander paartjies as vanself
sprekend aanvaar.”
TOE dit ná die seremonie tyd word v ir die pasgetroudes om te groet, hou hulle mekaar eers lank vas. En dan, skielik, is hul kosbare oomblik verby. Rian en sy vriende gaan na ’n restaurant om die vierings voort te sit; Nicolette verruil haar geleende trourok vir haar blou tronkklere. Oor die oomblik toe alles verby is, sê Mollie: “Dit het my hart gebreek. ’n Mens kon sien die werklikheid skop weer in. Die kortstondige droom was verby.” Tog onthou die gaste Nicolette se woorde op die troue: “God het dié wonderlike man vir my in antwoord op al my gebede gestuur.”
‘Dit is die gelukkigste én hartseerste dag van my lewe’